Ons raaiselpad met Alzheimersiekte

242

Elise Nel se eens briljante man begin heeltemal anders optree as gewoonlik. Die bevinding: Alzheimer se siekte. Hy vra haar om tot die einde na hom om te sien, wat sy doen. Sy vertel die aangrypende verhaal met deernis, gee praktiese raad vir versorgers en tekens waarna ’n mens moet oplet.

Ongemerk. Dit is die enigste woord wat ek het om die aankoms van Alzheimersiekte te beskryf. Eers in die lyer se wete, dan in die binnekring van die huisgesin en later saggies, dwarrelend verder.

Ek het so min van hierdie siekte geweet. Soos almal wat van ver af daarna kyk, het ek net geweet dit is die siekte van vergeet. Soos die woorde uit ’n bekende liedjie: “Vergeet om my te vergeet …”

Maar die lewe het vir my dié kaarte uitgedeel. Ek moes ’n lang en intieme pad met hierdie siekte stap. Die pad was onherbergsaam en my sig was soos om in ’n dowwe spieël te kyk. Alles was ’n raaisel.

Nou sien ek dit duideliker, want ek het by die eindpunt gekom.

Maar vir hom wat met hierdie siekte in sy brein en wese geleef het, was dit ’n helder spieël wat moeisaam en stadig verdonker het tot dof.

Ek was getroud met ’n sogenaamde “verstrooide professor”. Al was hy bogemiddeld intelligent, ’n man met ’n breë algemene kennis en intellektueel my meerdere, was verstrooidheid een van sy kenmerkendste eienskappe.

Selfs as jong man was dit vir hom moeilik om op meer as een ding gelyk te konsentreer. Soos die Vrydagmiddag toe hy vergeet het om sy dogters by die skoolkoshuise op te laai, die twee oudstes by die hoërskool en die laatlam by die laerskool.

’n Hele ent uit die dorp het hy ’n rondomtaliedraai gemaak om so vinnig moontlik by die verslae gesiggies uit te kom. Daardie middag het hulle nie gedink dis snaaks nie, maar jare daarna het sy huismense hom steeds oor daardie dag van vergeet geterg.

En dan was daar die middag, ’n klompie jare later, toe ons bakkie ’n plaashek oopgery het. Ons laatlam het pas verloof geraak en haar aanstaande skoonouers het ons na hulle plaas aan die oorkant van die Oranjerivier genooi.

Ná ’n genoeglike kuier het ons gasheer met die groetslag vir ons elkeen ’n geskenkie gegee. Met die kronkelende plaaspad bultop kon ek, eie aan my aard, nie wag om ons pakkies oop te maak nie.

Sy geskenk, ’n knipmes van uitstekende gehalte, het hom so geboei dat hy net aangehou kyk en kyk het daarna, terwyl die voertuig maar sy eie koers moes kies. Met ’n dawerende slag het die bakkie die hek getref, gevolg deur ’n sleepgeluid van bande.

Ons is al glyend deur die hek wat sidderend voor ons oopgespat het. Gelukkig het die hek se ringetjie met die trefslag uit die hakie geskiet. Dus was daar darem geen duike of merke aan die hek of ons bakkie nie.

Ons was egter bekommerd oor wat ons gasheer van die diep remmerke in die pad sou dink. Met brosdoringtakke het ons al kruipend die spore probeer doodvee. Eers tóé het die groot lag gekom, ná die groot skrik, ’n lag wat ons laat dubbel vou het oor ons brosdoringbesempies.

Ek kon nie kwaad wees nie; ek moes help kyk het waar hy ry. Ek was dan so gewoond daaraan om hom altyd terug te praat in die spore as hy sy oë oor die veld langs die pad laat dwaal het, veral ná goeie reën.

Hierdie verstrooidheid het dit vir my moeilik gemaak om te besluit of daar iets bygekom het. Ons was immers al in ons aftreejare, en die ouderdom bring mos maar vergeet en onhandigheid mee. ’n Klein, aweregse gebeurtenis het soms ’n gevaarklokkie laat lui, maar dan was alles weer so reg dat dit die aweregs as nietig verklaar het.

Een aand, nadat ek ’n rukkie uit die vertrek was om die foon te gaan antwoord, kon hy my glad nie vertel wat in my afwesigheid op ons gunsteling-TV-program gebeur het nie. Hierdie gebeurtenis het ’n duidelik onderstreepte sin op ’n bladsy vol gewone sinne geword. Namate die bladsye van sy lewensboek verder vol geskryf is, was daar al meer sinne wat onderstreep moes word.

Wanneer ek nou terugkyk, besef ek dat daar reeds baie lank ’n geleidelike verandering in sy gedrag en denkvermoë ingesluip het. Dit was so subtiel dat ek met niemand daaroor wou praat nie.

Twyfel het wydsbeen oor my geknelde gemoed kom sit. Ek kon nie besluit of daar werklik iets skort en of my waarneming net foutief was nie. Ek het met my gedagtes probeer teruggaan in tyd. Vier jaar, vyf jaar gelede. Hoe was dit toe?

Ja, daar was vreemde gedrag. Soos die oggend toe ek terloops opgemerk het dat ek vergeet het ’n familielid het die vorige dag verjaar. Daardie oggend het hy skielik opgevlam en woedend ’n stuk papier gegryp en gevra wie nog daardie maand verjaar.

Ek het verstom die lys met verjaardae voor hom neergesit. Driftig het hy die name begin neerskryf. Hy het die papier onder sy bedkassie se glasblad ingeskuif en woedend gesê hy sal nou maar die mense gelukwens omdat sy vrou te treurig is om te onthou om dit te doen.

Hy van alle mense, wat beswaarlik my verjaardag onthou. Verjaardae van familie en vriende was nog altyd my verantwoordelikheid. Met sy susters se verjaardae moes ek hom elke jaar behoorlik boelie tot by die foon om hulle geluk te wens.

Woede en hartseer het my aanvanklike verdwasing oorspoel. Ek het so veronreg gevoel dat ek driftig oorgestap het na ons kinders, wat langs ons woon, vir sterk tee. Ek was so kwaad dat ek gewens het ek hoef hom nooit weer te sien nie.

Ek het geweet tien lysies sou nie genoeg wees om hom te motiveer om een enkele verjaardag te onthou nie. Ek was so gegrief dat my saggeaarde man in ’n buffel verander het. As ek maar geweet het dat dit nie hy was nie, maar ’n sluwe siekte wat toe reeds met sy denke gesmokkel het, sou ek dit baie anders hanteer het.

Dit het maklik vyf jaar geduur voordat hy met Alzheimersiekte gediagnoseer is.

Toe gebeur die oggend met die tuinslang. Ons dogter langsaan het boompies geplant wat te ver was om met haar bestaande tuinslang nat te lei. Haar pa moes ’n tweede pyp kom aanlas. Met sy kissie met allerlei konneksies het ons na haar toe oorgestap.

Van pypverbindings het hierdie Karooboer mos alles geweet. In daardie dorre streek met die swart pype wat water oor kilometers heen vervoer, is die helderoranje konneksies van alle groottes en soorte ’n onmisbare deel in die lewegewende waterlyn.

Ná ’n lang gesukkel het ek besef dat hy uiteindelik op ’n verbindingstuk besluit het, een geskik vir ’n T-aansluiting, terwyl daar ’n hele klomp gewone konneksies van allerhande groottes was wat geskik sou wees.

Toe my dogter die kraan oopdraai, het die water met ’n straal by die een opening van die T-aansluiting uitgespuit. Hy het alles net neergegooi en vererg weggestap.

Ek en ons dogter het sprakeloos na mekaar gekyk. Sy het opgemerk dat sy altyd gedink het haar pa is baie prakties. Hoe kon hy dan al die jare boer as ’n eenvoudige tuinslanglas hom so onderkry. Ek het niks gehad om te sê nie, net maar my dink gedink.

Ons het by haar gaan tee drink asof niks gebeur het nie.

Dit was tyd om hierdie vreemde gebeure van nader te bekyk.

Ek het al gehoor dat mense wat begin sukkel met gesonde oordeelsvermoë en insig dalk aan demensie kan ly. Swak besluite en onhandigheid kon ek nie meer wegredeneer nie. Die kragprop wat al in die rondte gedraai word en uiteindelik neergegooi word, die lomp hantering van eetgerei … Dit alles het soos uitroeptekens begin uitstaan.

Die woord “demensie” het in talle gesprekke opgeduik en ek het besluit om meer oor hierdie gonswoord te gaan oplees.

Dit was toe dat ek op hierdie kompakte verduideliking in ’n tydskrif afkom:

Demensie is die verlies van kognitiewe funksionering, soos om te dink, te onthou en te redeneer, asook gedrag wat ’n mens nodig het om daagliks oor die weg te kom. Vele toestande veroorsaak demensie, soos beroerte, ’n breingewas of Alzheimersiekte.

Die algemeenste simptome is vergeetagtigheid, disoriëntasie, verlies aan oordeel en insig, persoonlikheidsverandering, met latere inkontinensie.

’n Mondvol skrikdinge.

Omdat ek meer aandag begin gee het aan die klein tekens van moontlike demensie, het ek agtergekom een van die dinge waarmee hy sukkel, is lees en skryf.

Lees was iets wat hy langsamerhand begin vermy het. Die biografie van een van sy sporthelde, ’n geskenk van sy oudste dogter, het reeds maande op sy bedkassie stof vergader. Dit was teenstrydig met sy normale gedrag.

Afgesien van die feit dat hy alle niefiksie verslind het, was sy leesvaardigheid van so ’n aard dat hy altyd gekies is om voorlesings te doen waar nodig. Sy verweer vir hierdie verandering was dat hy nie meer so goed kon sien met sy leesbril nie.

Dit was tyd vir ’n nuwe bril.

Ek het voor die tyd met ons oogkundige gaan gesels. Sy was voorbereid om ekstra geduldig te wees met die oogtoets. Maar nuwe bril of te nie, lees en skryf het al meer agterweë begin bly. Ons het toe maar die nuwe bril daarvoor verkwalik sodat die verleentheid bedek gebly het.

Ons het besluit dat ek met ons gesamentlike stiltetyd die Bybel sal lees. Ons gewoonte was om, nadat ons uit die Bybel en ons dagstukkieboek gelees het, ons gedagtes in ons stiltetydboekies neer te skryf en dan vir mekaar voor te lees wat ons geskryf het. Hy het al hoe meer gesukkel om te skryf en dit het hom al langer geneem, totdat hy een oggend verklaar het dat hy nou te swak sien om te kan skryf.

Toe ek deur sy boekie blaai, het ek met ’n skok besef hoe lank gelede sy skrif al begin verander het. Sy pragtige handskrif het geleidelik begin agteruitgaan. Die stukkies wat hy geskryf het, het al korter geword en was nie meer so sinvol nie. Die kort gebed waarmee ons ons stiltetyd afgesluit het, het ook begin verander.

Terwyl ek deur sy skryfwerk van die afgelope twee jaar gelees het, was sy oggendgebede gerig op sy geliefdes, op sy kerkgemeenskap en op dankbaarheid. Nou was dit kort pleitgebede in wankelrige skrif.

Dit moes vir hom baie hartseer gewees het om nie meer te kon lees en skryf nie, maar hy het aangegaan asof niks skort nie. Ek het besluit ons sal so normaal moontlik voortgaan sonder hierdie vaardighede. Ek was mos daar om vorms in te vul by wagkamers en om pos uit te sorteer en die nodige administratiewe take te doen.

Hierdie klippie in ons skoen het ons nie geskaaf nie. Maar ai, ek het sy netjiese handskrif so gemis wanneer ons vorms by spreekkamers en op ander plekke moes invul. Ek kon altyd gaan sit met die wete dat wat die vorm ook al behels en of dit vir my of vir hom ingevul moes word, korrek en keurig gedoen sou word. Nou kon hy dit nie meer doen nie.

Die verandering in sy bestuursvaardighede was ongelukkig iets wat ons nie net kon laat voortgaan nie. Dit het ’n groot en vreesaanjaende probleem geword.

Wanneer ek nou terugdink, is dit moeilik om te besluit presies wanneer ek werklik besef het daar skort iets met sy bestuursvermoë.

Miskien was dit toe ’n vriend een middag agter ons in die verkeer beland en later vir my gevra het hoekom my man so vreemd bestuur. Ek was verlig om te weet dis nie net ek wat dit opgemerk het nie.

Ons uitstappies met die motor het vir my stadigaan in klein nagmerries, of liewer dagmerries, ontaard. Dit was erg om as hulpelose passasier toe te kyk hoe hy telkens die verkeerde afrit neem op ’n pad wat vir ons so bekend is.

Later het hy aggressief begin raak wanneer ek hom probeer reghelp het of my voet hard op ’n denkbeeldige rempedaal aan die passasierskant laat neerkom het.

Ek was redelik radeloos, want hoe sê ’n mens vir jou man wat ’n halwe eeu lank sy voertuie bestuur het dat hy nou onbevoeg vir dié taak was?

ONS RAAISELPAD MET ALZHEIMERSIEKTE aanlyn te koop op voelgoedboeke.co.za. R180 R200