Ons soeke na ‘n silwer randjie

2722

Na die gewelddadige plaasmoord op haar man het Mariandra Heunis en haar vier kinders deur pynlike eerstes gesukkel. Nou is dit tyd vir nuwe herinneringe maak.

Ons wêreld het daardie aand in ’n breukdeel van ’n sekonde verander. ’n Rukwind het deur ons lewens geskeur en alles geplunder. ’n Keuse van twee mense om ’n gesin te verwoes. Want ons is nog hier. Hy nie.

Ek vries vir ’n oomblik. Sak neer op die vloer langs Johann. Draai hom om, met hoop. Toe sien ek die kopwond. Dit was die moeilikste besluit in my lewe om hom alleen te los. Hoofligte af jaag ons die donker onbekende in.

Ses skote, sou ek na die tyd hoor. Die eerste een deur die hart. En toe ’n finale kopskoot. Johann se laaste oomblike was soos hy geleef het. Vir sy gesin. My man en die pa van ons kinders het al die koeëls vir ons gevat.

Toe die son opkom, was die skeiding tussen gister en vandag afgebaken met geel plastiek. My man steeds leweloos op die vloer tussen polisie, forensiese spanne en bloed. Soveel bloed dat dit deur die plafon gesypel het. Ons gelukkige, liefdevolle huis was nou ’n moordtoneel.

Dit was ysig koud op ons kleinhoewe buite Pretoria. In ’n stadium het ek buite gaan asem skep. Ek het gesukkel om die sonskyn deur die trane te sien. Gisteraand was daar nie tyd vir totsiens sê nie. Ek kon nie nog ’n rukkie by hom sit nie. Nou moes ek Johann wéér agterlaat. Hoe ry ’n mens sonder jou alles?

Ons afskeid is vir ewig gevlek met bloed en angspleite wat op dowe ore geval het. En onbeskryflike verlies. My lewensmaat, die mens wat my die heel beste geken het, is vir altyd weg. Drie klein dogtertjies gaan nooit weer hulle pappa sien nie. ’n Ongebore seuntjie sal nooit sy pappa ken nie. My nuwe rol as broodwinner wat net so ongemaklik soos die beskrywing “weduwee” sit.

’n Mens kan jouself nie vir die finaliteit van die dood voorberei nie. Jy kan dit aanvaar, maar nie verstaan nie. Die een dag is ’n persoon nog hier, normaal. Die volgende dag is daar net dít wat hy agtergelaat het. ’n Vreemde wêreld deurweef met herinneringe en hoekoms. Niks van dit wat agterbly, is ooit weer dieselfde nie.

Ek wou aanvanklik nie begrafnis reël nie. Niks was in plek nie. In my donkerste oomblik stuur die Here ’n vriend met die boodskap: “Ek was daar.” Dit het soveel verligting gebring om te weet Hy het Johann teen die pyn en vrees gepantser.

Vyf dae na ons vir Johann totsiens moes sê, het ons vir AJ hallo gesê. Ons kroonprinsie se geboorte was ’n dag van uiterste hartseer en geluk. ’n Skeiding tussen die donker van daardie nag en hoop. Sy geskenk na die verlies.

Een nag lê en luister ek na die tik van die horlosie op my bedkassie. Ek loer na die tyd en is verbaas dat dit nog reg gestel is. Om een of ander rede het ek gedink die horlosie het daardie aand gaan staan. Toe tref dit my – die tyd stap aan al voel dit asof alles tot stilstand geruk is.

In die stilte kom die antwoord. Daardie nag was nie deel van Sy plan met Johann se lewe nie. Mense met vrye wil het dit gedoen. Hy het wel ingetree, en daar is ’n nuwe plan met my lewe.

Net soos ’n GPS is ons lewensroete beplan. Dan maak ons keuses of dinge gebeur wat ons op ’n heel nuwe pad plaas. Hy recalculate ons roete en laat alles ten goede meewerk. Maar ’n mens kan nie op ’n hopie gaan sit nie. Jy moet steeds die nodige werk insit, kyk, luister en hier en daar stop om die mooie te geniet.

Hoe moeilik dit ook al is, ’n mens moet een of ander tyd aangaan. Jy moet letterlik jou brein herbedraad. Ons het ’n happily ever after gehad vir ’n beperkte tyd. Netso het ek nou beperkte tyd om hierdie vier asempies se kinderlewe, asook hulle toekoms, te vorm. En dan begin jy stukkie vir stukkie ’n happy after bou.

Ons soeke na die silwer randjie is verweef met eina eerstes – Kersfees, Nuwejaarsdag, Mieke se eerste skooldag, verjaarsdae. Ons moes totsiens sê vir liefde, begrafnis hou, ’n nuwe lewetjie verwelkom. Hy het my ’n nuwe roeping gegee.

As begrafniskoördineerder herleef ek saam met families dít wat ek probeer vergeet. Gebroke harte wat aan stukkies herinneringe vasklou. ’n Jong mamma wie se man verongeluk het. ’n Jong vrou wat op 31 jaar haar stryd met kanker verloor het.

Hulle gaan ook daardie eerstes ervaar. Wat ek intussen kan doen, is om daardie stukkies vir hulle te orden. Al is dit net vir ’n paar dae. Daarna lê die pad voor wat ek nou met geoefende ongemak stap. Jy leer normaal funksioneer onder abnormale omstandighede.

Dis nou meer as twintig maande nadat ons in ’n nuwe lewe ingedompel is. ’n Redelik veilige afstand tussen nou en tóé. Ons leef in twee wêrelde. En heeltyd skaaf en skuur die twee aan mekaar. Sommige dae is makliker as ander.

Die kinders vergeet en hulle onthou. Toe was ons onveilig. Nou kan hulle nie. Toe het ons lekker gelag vir Pappa. Nou huil ons as ons hom mis. Verlange sny soms deur lag-oomblikke. En so hou dit aan.

Die naskokke is verder uitmekaar, maar trauma klou. ’n Stortvloed snellers en terugflitse oorval ’n mens soos ’n dief in die nag. Histeriese gille; onbeskryflike vrees. Skote. Kruit. Bloed. Dood. Ons sal die res van ons lewens ’n stukkie van daardie angsnag saamdra.

Onlangs sê ousus Mieke iets wat my tot stilstand ruk. Donker flitsbeelde van tóé. Haar rustigheid het my verbaas. Maar toe dop haar binneste buite toe. Sneller op sneller. Ek probeer troos dat ons nou veilig is. Dat daardie nag homself nie weer sal herhaal nie.

Niks wou help nie. “’n Dokter sal kan wys hoe stukkend my hartjie is,” sê sy. En toe steek dit aan. Mischa huil. Majandré huil. Ons almal huil saam uit pure magteloosheid. My kinders is nie bang vir monsters onder die bed nie. Hulle is bang vir mense.

Hierdie terugslag het my weereens laat besef hoekom ek altyd vorentoe moet beur, al is dit soms in horte en storte. Party mense neem aan ek moet kwaad, bitter en haatdraend wees. Daar is nie tyd om kwaad te wees nie. Hier is immers vier asempies wat van my afhanklik is vir stabiliteit, hoop en geluk. Ek dra die kruis sodat hulle nie hoef nie.

Ons het nie ’n keuse gehad in waar ons nou is nie. Sonder Pappa. Hulle het geen beheer oor hulle omstandighede nie. Ek hét. Daarom sal ek aanhou sorg vir genoeg lag, saamwees, liefde, hoop en herinneringe. Dis my keuse om vas te hou aan hulle kleintyd en dit saam met hulle te lééf.

Soms moet ek die seer en die flentertjies van my hart diep in ’n laai druk as ’n gesiggie om ’n hoek kom met: “Mamma…” Hulle moet sien dat Mamma positief en hoopvol is. Om die kwaad uit te doof met hoop, lig en geluk beteken ons wen.

Na elke storm trek die donker wolke en blitse wel terug. Ondanks die slegste sleg, is die silwer randjie elke dag duideliker. Dit is dan dat mens besef hoe ver jy gekom het. En hoe waardevol die hoop van lewe is.

Nou, meer as ooit, is Hy my klankbord en leidsman. Ek dank Hom dat ons tot hier gekom het. Dan vra ek: “Waarheen nou?” Ons moet vorentoe, want terugdraai is nie meer die moeite werd nie.