Ons wedloop

Gedurende die afgelope vakansie het ek en my dogter besluit om elke oggend ‘n paar kilometer te draf. Alhoewel ons gereeld op die treadmill in die gim draf, verg die pad heelwat meer aangesien jy nou meer energie en spierkrag moet gebruik om vorentoe te beweeg.

Ons het egter nie sommer net die strate ingevaar en gedraf totdat ons moeg is nie. My dogter het vooraf ‘n app van ‘n professionele draf afrigter op haar selfoon afgelaai. Van dag 1, met die eerste tree wat ons gegee het, het die afrigter ons deur elke kilometer gevat. Hy het deurgaans met ons gepraat en voor ons ons kon kry, het ons die afstand elke dag afgelê. Tot my verbasing was sy opdrag aan die begin dat ons nie te vining moes draf nie. Die doel van die draf en die oefening wat daarmee gepaard gaan, was mos uiteraard dat ons dit moet geniet. Soos wat die dae gevorder het, het die pas waarteen ons gedraf het, stelselmatig vinniger geraak. Elke dag se draf was ook nie presies dieselfde nie. Daar was dae wat ons vinnger as gewoonlik moes draf oor kort afstande, maar dan kon ons tussenin ook vir enkele sekondes vining loop om ons asem terug te kry.

Wat my die meeste van die afrigter op die app bygeval het, is dat hy presies geweet het waarvan hy praat. Hoewel hy al talle marathons kaf gedraf het, was hy steeds in voeling met die persoon wie vir die eerste keer begin draf het. Ons het sommer gevoel ons is in goeie hande en dat ons nog ‘n ver pad met hom kon stap (draf).

So dikwels wil ons die lewe se wedloop teen ons eie spoed en op ons eie manier aanpak. Soms met ‘n groot klomp bagasie daarmee saam. Niemand gaan mos vir ons sê wat om te doen nie. Sekere dele van die wedloop is ook maar teen steiltes uit en ons het nie altyd die regte tegniek/kennis om dit baas te raak nie. Teen ‘n té vinnige pas brand ons gou uit en ons raak nie meer lus vir die wedloop nie. Dalk is ons nog op die treadmill en beweeg ons jaar na jaar nie ‘n aks vorentoe nie. Of ons sien hoe ander by ons verby hardloop oppad na wat ons as sukses definieër sonder om te besef dat elkeen sy eie wedloop in sy eie baan het om te hardloop.

Die belangrikste is dus ‘n goeie afrigter. ‘n Afrigter wat al “been there, done that, got the T-shirt” kan sê. Jesus het self ‘n mens geword en Hy weet presies waardeur elkeen van ons gaan. God het vir ons Sy Woord as handleiding gegee om ons in staat te stel om elke aspek van die lewe het te hanteer – ons moet dit net volg. Dinge soos vergifnis, onderdanigheid, liefde, selfbeheering, mededeelsaamheid, barmhartigheid is maar enkele van die tegnieke wat ons onder die knie moet kry as ons die lewenswedloop doelgerig wil hardloop. Die Heilige Gees is ook met ons en wil ons elke dag in alles help. Dalk sê Hy jy moet net bietjie stadiger, asem kry en dan weer voluit. Luister.

Ons moet dus net die “Afrigter” vra. Hy wil ons help. Sy idee was nog nooit dat elkeen aan sy eie genade oorgelaat word nie. Luister na Sy stem. Hy wil sien hoedat elkeen floreer op elke terrein van die lewe. Elkeen is ‘n wenner.