Onse Vader: laat U naam geheilig word

Hoeveel keer het ons al gebid, “Laat u Naam geheilig word”… maar weet ons werklik wat dit beteken?

Stadig dring dit tot my deur dat ek heel eerste myself uit die prentjie moet haal en God die fokuspunt moet wees. Dit gaan in my gebed met God eerstens oor Hom, en alles wat ek in my kop ronddra en dit waaroor ek met Hom wil praat, kom tweede, derde, tot aan die einde. My eerste missie met die gebed is om God te loof en te prys. Jy sien, as ek regtig verstaan dat ek totaal en al van Hom afhanklik is en dat alles wat met my gebeur en selfs wie ek is van God af kom, moet ek altyd eerste die lof aan God bring. Nee, eintlik moet ek dit sing!

Tog is dit ook ’n versugting, ’n versoek, ’n wens wat ek aan die hele wêreld wil uitroep. Almal moet eintlik op hulle knieë neerval en God se Naam aanroep. Almal moet saam uitroep en U heiligheid, U grootheid, U gans andersheid besing. So stel Barnes dit: “Let thy name be celebrated, venerated, and esteemed as holy everywhere, and receive from all people proper honor.” Want dit is so!

Wanneer ons so begin bid, bid ons soveel anders as die Fariseërs wat op die straathoeke gestaan het en kliphard gebid het sodat ander hulle kon sien en hoor. Hier gaan dit nie oor God nie, maar oor die mens. Ons moet pasop om nie ook in hierdie strik te trap nie.

Laastens, wanneer ons bid “Laat u Naam geheilig word,” onderskei ons tussen aardse goed en die bomenslike. God is gans anders. God is soveel meer, soveel groter as die mens. Hier reg aan die begin van die gebed kom teken ons net weer die prentjie waar ek as mens nie eens ’n stippeltjie op die blad is nie en waar God heeltemal te groot is om op die bladsy in te pas.

God is groot verby. Kom ons onthou dit. Kom ons onthou dit in elke gebed wat ons waag om te bid. Haal jouself eers uit die prentjie en plaas God op die regte plek. Loof God. Eer God en laat sy Naam geheilig word.