Onse Vader: Vergewe tog asb.!

Vergeef ons waar ons nie doen wat U van ons vra nie, net soos ons almal vergewe wat nie reg teenoor ons optree nie.

Dié gebed sluit ons ook die goed in wat ons moes doen en juis nié gedoen het nie. Ons doen dus nie net sonde deur fisies iets te doen, sê of dink nie, maar ook wanneer ons bewustelik en onbewustelik nalaat om goed te doen wat God van ons verwag.

’n Baie goeie vriend is so ’n mooi voorbeeld hiervan. Hy het my vertel dat hulle by vriende gaan braai het en dat een van die kuiergaste die Here se Naam as ’n stopwoord gebruik het. Dit het hom baie gepla. In elke gesprek het die ou met die Here se Naam gemors. Kyk, dis eintlik ’n vooraanstaande man in die samelewing. Toe hulle een aand by ’n ander geleentheid alleen buite staan en ’n dampie slaan, het hy hom sag aan die arm gevat en hom netjies gewys op die Here se Naam wat Hy so ydellik gebruik.

Dit was die einde. Nee, nie van die vriendskap waaroor ons tog altyd so bekommerd is nie, maar van die man se mors met God se Naam. My vriend het presies gedoen wat God van hom as sy kind verwag het. Hy hoef nie daai aand te gebid het nie: “Vergewe my waar ek nie gedoen het wat U van my gevra het nie.” Hy het gedoen wat God vra.

Elkeen van ons word met ’n opdrag vir die dag ge-issue en dit is nie ’n moeilike opdrag nie. Eintlik is dit lekker, want ons kry kans om ons gawes te gebruik. Maar as ek so na die afgelope tyd kyk, besef ek baie gou dat ek nie die opdragte uitgevoer het nie. Daar is soveel plekke waar ek net my kop weggedraai het. Soveel keer wat ek soos ’n stout tiener net geweier het.

En as ek dit nou klaar gebid het? Dan is ek vry van die las en ek los die vrag niksdoen by die kruis van Jesus. Dan begin ek weer op ’n skoon bladsy. Dankie tog vir God se genade! En om die dankbaarheid te toon, spring iets in my los: ’n Wil om te begin doen wat God wil hê ek moet doen.