Ontdek wat jy regtig werd is

0
678

Geld en geluk gaan nie noodwendig hand aan hand nie. Met die regte siening van jouself sal jy suksesvol wees en jou drome bewaarheid.

“Wat is jou kosbaarste bate en die belangrikste ding in jou lewe?” ’n Groot groep mense moes hierdie vraag as deel van ’n studie beantwoord. Daar was wyd uiteenlopende antwoorde, wat almal in ’n mate waar was.

“Beslis my huis, dit is my waardevolste belegging.” “My kinders, natuurlik! My hele lewe draai om hulle.” “My kwalifikasies, waarsonder ek nooit die inkomste sou kon verdien wat ek nou kry nie.” “My loopbaan, wat werksekerheid en geld waarborg.” “My godsdiens – sonder God sal ek dit nooit maak nie.”

Wat sal jou antwoord wees? ’n Petroljoggie het gesê: “Natuurlik my lewe sélf! As ek al die ander goed verloor, kan ek dit weer terugkry, maar as ek my lewe verloor, kan ek daardie dinge nooit terugkry nie!” Natuurlik sal ’n mens nie sulke wysheid van ’n petroljoggie verwag nie, maar jy moet saamstem dat hy die spyker op die kop geslaan het.

Jý is toe al die tyd jou kosbaarste aardse bate! Die een wat jy misgekyk het toe jy probeer het om meer geld en besittings bymekaar te maak. Geld of besittings kan nooit vergoed vir ’n minderwaardigheidsgevoel of ’n swak selfbeeld nie.

Jy is baie werd, nie oor wat jy kan verdien of jou finansiële netto waarde nie, maar vir wie jy is. Sonder enige verdere prestasie, sonder dat jy aan sekere voorwaardes voldoen of nog ’n kursus voltooi. Hier en nou, terwyl jy hierdie paragraaf lees, is jy genoeg. Jy hoef niks verder te doen nie!

Om dit in ander woorde te stel: Jý is die kosbaarste “vrag” wat ooit in jou persoonlike sorg geplaas sal word – lewenslank. Jy besit alles wat belangrik is om voor te leef. As ’n trustee moet jy hierdie bate, jy, gebruik en in stand hou. Jy moet eendag kan rekenskap gee van die wins wat jy verkry het uit die behoorlike gebruik daarvan.

Jy is jou kosbaarste bate – nie jou man, kinders, geld, tyd, jeug, kerk, vriende of familie nie. Hierdie mense en dinge is net geleen. Hulle behoort nie aan jou nie; moenie oormatig aan hulle vasklou nie. Jy is kosbaarder as hulle almal.

Aan die ander kant kan jy natuurlik ook jou eie grootste las wees as jy te min van jouself dink. Omdat jy jouself kritiseer en jou prestasies verkleineer, besef jy nie dat jy geseën is met ’n lewe vol wonderlike uitdagings en geleenthede nie. Jy stel jouself waarskynlik gelyk aan ’n finansiële waarde wat in rand en sent gemeet word.

Daar is baie faktore wat ’n mens se eiewaarde negatief beïnvloed, soos wat ander van jou dink (of wat jy dink hulle van jou dink), negatiewe kritiek of slegte ervarings. Oneerlikheid, bymotiewe, gebrek aan integriteit, dislojaliteit, verskuilde sondes, negatiewe gedagtes, skuldgevoelens, finansiële skuld, materialisme en geheime kan jou ook kniehalter. Die geheime kan enigiets wees –’n probleem met jou gesondheid, ’n vorige sonde of iets wat jy van iemand na aan jou weet.

Dit is selfs moontlik dat jy ’n negatiewe of bankrot eiewaarde mag hê. Dit kan wees omdat jy nie weet wie jy regtig is nie, of dit kan die resultaat wees van dinge wat jou selfbeeld skaad.

Jy het baie dinge geleer: hoe om te praat, hoe om te lees, hoe om te skryf, hoe om somme te doen, maar niemand het jou ooit vertel wie jy regtig is en wat jy regtig werd is nie.

’n Mens word nie gebore met ’n handleiding of ’n handboek wat die stappe aandui wat jy moet volg om jou werklike waarde te bepaal nie. Dit word gewoonlik in die loopgrawe van die lewe geleer en dit mag selfs ’n hele leeftyd neem om die skatte binne-in jou te ontdek.

Tyd is belangriker as geld

Oor die algemeen wil mense waarde vir geld hê. Dis hoe ons geleer word. Ons bestee dikwels ons tyd baie makliker as ons geld, selfs al ken ons almal die uitdrukking: Tyd is geld.

Ons gesin was eenkeer met vakansie in die Kaap toe ek hoor van ’n nabye familielid wat oorlede is. Ek is begrafnis toe en het na die tyd in George oorgeslaap. Vroeg die volgende oggend was ek op pad terug, met die hoop om my vrou en kinders te gaan verras. Ek het nie die pad geken nie en my sig was beperk deur digte mis.

Toe ek ’n vulstasie aan die ander kant van die pad sien, het ek regs gedraai en daar gestop. Ek het volgemaak en iets gekoop om te drink. Sonder om te dink, het ek in my motor geklim en verder gery.

Ek was baie diep ingedagte maar heel kalm terwyl rustige musiek oor die radio gespeel het. Toe die naambord: “Mosselbaai 60 km” verbyflits, het dit my soos ’n skoot koue water getref. Ek het in die verkeerde rigting gery en was weer op pad na waar ek vandaan gekom het!

Dit was nou geensins moontlik dat ek voor die middag by my gesin sou wees nie. Onbewustelik het ek die sommetjies in my kop gemaak. Wat ’n mors van tyd en geld!

’n Klein stemmetjie het gesê: “Baie mense mors hulle hele lewe op hierdie manier – hulle haas hulle heeltyd in die verkeerde rigting, in die gejaag na sukses.”

Dit het my hele denke verander. Ek het nie meer gekla oor die vermorste geld van die ompad nie, maar eerder oor die verkwiste tyd. Terwyl ek nog daaroor getob het, het Hy my nog iets gegee wat ek later uitgedruk en teen my kantoormuur vasgesit het: Tyd is die goud van die lewe – geld is niks meer as silwer nie!

Deur watter waardebril kyk jy na jou verlede, die wêreld en jouself? Verlore geleenthede of verlore geld? Ons moet met ander oë en uit ’n ander hoek na die lewe, onsself, ons gesin, ons werk, ons roeping, ons geld en ons godsdiens kyk.

Dinge tel nie, waardes wel. Geld is niks, tyd is kosbaar. Verlore geleenthede is verby, maar daar is nog ander geleenthede wat voorlê. Eksterne waardes is onbelangrik, interne waardes is uiters belangrik. Ons “transaksies” behoort gebaseer te wees op waarde vir tyd in plaas van waarde vir geld.

Beskou jouself en jou lewe as ’n bate

Oor die algemeen is ’n bate iets wat aan ’n eienaar behoort en waaruit ’n bepaalde voordeel verkry word. Draai jou hele lewe daarom om ’n inkomste te kry? Soek jy gedurig finansiële voordele om geld vir jouself of iemand anders te maak? Of om skuld af te betaal sodat jy weer sonder skuld kan wees?

Jou lewe is te waardevol om dit in rand en sent te meet. Jy behoort aan niemand – jy is niemand se bate nie. Eksterne faktore en ander mense se opinies kan jou beïnvloed, maar uiteindelik mag niemand anders jou ware eiewaarde bepaal nie.

Op skool moes jy presteer het om iets werd te wees, om raakgesien te word. Op dieselfde manier as wat baie geld en aansien mense laat uitstaan bo die massa, was prestasies die kapitaal waarmee jy gemeet en erken is op skool.

Mense probeer om meer geld te verdien en bo uit te kom – om kwalifikasies of bevordering te kry – sodat hulle iemand kan wees. Intussen is hulle reeds “iemand”, nie net vir hulle netto waarde of vir wat ander by hulle kan kry nie, maar vir wie hulle is. Punt.

Die waarde van ’n artikel word bepaal deur die prys wat daarvoor betaal word. So, om jou ware waarde te bepaal, gaan lees en verstaan weer die waarde van die transaksie wat op Golgota plaasgevind het.

Maak seker dat dit wat jy wil bereik teen die tyd dat jy sterf, vandag reeds deel word van jou lewensdoelwitte. Deur te beplan hoe om dood te gaan, beplan jy hoe om te lewe. Jy het nog tyd oor. Begin vandag en beïnvloed sommer die lewens van ander ook!

Wat moet jy opoffer of verloor om dit te bereik? Niks. Jy mag steeds drome droom, kwalifikasies behaal, geld maak en dit spandeer en geniet. Maar die lewe sal nou die moeite werd raak omdat jy die waarde van jou grootste besitting, jou kosbaarste bate – jou lewe self – ontdek het.

Leef asof vandag jou laaste dag is. Laat dit tel. Beplan jou eie toekoms deur jou waardes en doelwitte aan te pas. Jy sal sien hoe jou kosbaarste bate toeneem in waarde terwyl jy die vrugte pluk.

Die antieke Griekse dramaturg Euripides het in 413 v.C. gesê: “Rykdom is slegs vir ’n oomblik, karakter is vir ’n ewigheid.” ’n Persoon se rykdom word uitgedeel na haar dood, maar die karakter van die siel bly vir ewig voortbestaan.

Sukses is wie jy is, nie wat jy doen nie

As jy die waarde van jou lewe verkeerd bepaal, sal dit ongetwyfeld lei tot ’n vernietigende minderwaardigheids- of meerderwaardigheidskompleks. Jy sal moontlik sommer onttrek uit die samelewing.

Vrees, verwerping, obsessiewe kompetisie, ontevredenheid, gebrek aan vrede en ontnugtering sal hoogty vier. Jy kan ook gevoelens van mislukking en waardeloosheid, hopeloosheid, wanhoop en leegheid ervaar. Jy kan selfs ’n valse sin van sekuriteit beleef.

Aan die ander kant, deur te bepaal wat jy regtig werd is, sal jy meer selfvertroue, dapperheid, innerlike krag en selfbeheersing hê. Jy sal geloof in jouself kry en weet dat jy kán.

Vertonings, prestasies of goedkeuring veroorsaak vlietende oomblikke van opwinding en uitgelatenheid. Met die regte eiewaarde sal jy positief dink en voel oor jouself. Jy sal jouself waardeer vir wat en wie jy is, en nie vir wat jy kan doen of gedoen het nie.

Sukses behoort nie gemeet te word aan geld of prestasies nie, maar eerder deur die kwaliteit van lewe. Mense is gebreinspoel om te glo dat “sukses” so gespel word: “$UK$E$”. Baie geld mag moontlik die gevolg van sukses wees, maar nie noodwendig nie.

Deur die verkeerde standaarde te gebruik, kan jy dinge liefhê en mense gebruik, in plaas van om dinge te gebruik en mense lief te hê!

Sukses het baie meer te doen met vrede en innerlike harmonie, waar jy weet dat jy iets het wat niemand ooit van jou kan wegvat nie – jou eiewaarde. Jy begeer om jouself en jou geheim met ander te deel en selfs die verskuilde skatte binne-in hulle te ontdek.

Party mense is suksesvol en merkwaardig. Ander wil in hulle voetspore volg vir wie hulle is, nie vir wat hulle bereik het of besit nie. Mense wil naby hulle wees omdat hulle lewe en vreugde en geluk uitstraal.

Dié wat finansieel suksesvol is, is selde gewillig om hulle rykdom te deel. Dié wat hulleself aan hulle eiewaarde en nie hulle geldwaarde nie meet, het een ding gemeen: Hulle deel hulle vreugde en hulle geheime spontaan, omdat hulle wil hê ander mense moet ook gelukkig wees.

Slegs wanneer jy ontdek het wat jy regtig werd is, sal jy iets vir ander kan beteken. As jy ’n mislukking is, kan jy mos niemand help nie. Word dus suksesvol sodat jy ander kan help!

Dit is ware bemagtiging: om te besef dat jy ’n iemand is, en om ander te help om dit ook te ontdek. Hierdie sukses hang nie af van die standaarde van die wêreld nie.                                                      

Enige besitting moet beskerm en bestuur word

Dit is belangriker om jouself te bestuur as om jou finansies en finansiële bates te bestuur. Hoe doen ’n mens dit? Deur verskillende opsies te oorweeg en te bepaal wat die uitwerking van hierdie opsies op jou lewenskwaliteit sal wees. Die keuses wat jy maak en die besluite wat jy neem, moet altyd in jou belang wees.

Selfliefde het natuurlik niks met selfsug te doen nie. Dit beteken bloot dat ons in ons eie en beste belang sal optree – om niks te doen of toe te laat om te gebeur wat onsself, ons hartsmense of ander bates sal laat skade ly nie. Dit is eers wanneer ons so getrou is aan onsself dat ons ander kan liefhê soos ons moet.

Jy is jou kosbaarste bate en dis jou plig om ten alle tye daarna om te sien. Jy kan nie verwag dat iemand anders beter daarvoor sal sorg as jyself nie.

Jou kosbaarste bate – jy – is nie die fokus of middelpunt van jou lewe nie, maar dit gee jou toegang tot die lewe. Dit word ’n middel waardeur jy die skoonheid en opwinding van die lewe kan ervaar en daaraan kan deelneem. Dit is waardeur jy ’n verskil maak en ’n bydrae in die wêreld lewer.

Ons is geroep om ons waardevolste besittings op te pas en soos goeie beleggingsbestuurders ons potensiaal ten volle uit te leef. Ons het intelligensie gekry, en ook ander vermoëns om onsself te bestuur – gedagtes, woorde en dade.

Ons moet ons harte en verstand gebruik om seker te maak dat alles wat ons dink, sê of doen, die feit dat ons uniek en uiters waardevol is, in berekening bring en wys.

Nie net is jy jou kosbaarste bate nie, jy is ook God se kosbaarste besitting. Jy moet na jouself kyk en jouself goed versorg. Wees versigtig met wat jy eet en drink, hoeveel jy slaap en rus, hoeveel oefening jou liggaam kry, wat jy begeer, waaroor jy droom en waaraan jy dink.

Dink ook mooi oor wat jou lewensdoelwitte is, hoe jy jou verhoudings sien, hoe jy jou tyd, geld en energie bestee en hoe jy na jou geestelike behoeftes omsien.

Onthou, om jou kosbaarste bate uit te put is net so onaanvaarbaar soos om dit nie te gebruik nie. Niemand is ’n superwese nie. Almal het beperkings – maak seker jy weet wat joune is.

Beheer jou hart, wat dan jou lewe sal beheer

As jy ’n persoon se denke, woorde en dade – sy of haar lot – wil beheer, moet jy haar hart beheer. Jou hart bepaal waarop jy jou hulpbronne spandeer, want waar jou hart is, daar is jou skat ook.

Dit werk so: Ek sien iets wat aanklank vind by my sintuie en my hart sê vir my verstand dis wat ek wil hê. As die hart en verstand saamstem, sal daardie ding die doelwit of skat word. Indien nie, sal daar nie harmonie binne-in my wees nie, maar eerder konflik.

Niemand ken jou beter as jyself nie. Jy moet jouself ’n slag eerlik ondersoek. Wat is in jou belang? Waaraan bestee jy jou tyd, geld en energie?

Maak jy planne om nog geld te maak? Wil jy ’n modellyfie kry met ’n veeleisende oefenprogram? Is ’n loopbaan en bevordering die belangrikste? Wil jy aan jou verhoudings werk? Jou godsdiens beoefen? Wil jy nog kwalifikasies behaal of sommer net voor die TV lê?

Hier is ’n goeie riglyn: Laat jou hart fokus op waardes – verkieslik ewigheidswaardes – nie dinge nie. Deur jou hart te beheer, raak jy gedrewe en doelgerig en kry jou lewe betekenis. Probeer dit. Dit werk.

Begin vandag met dit wat jy het. Raak stil en neem tyd om asem te haal. Tel jou seëninge. Verander jou ingesteldheid teenoor die lewe.

Ons het ’n vennootskap met God. Die lewe, tyd, talente, geld, energie en geleenthede is die werkende kapitaal wat Hy verskaf, terwyl ons probeer om die beste van elke dag te maak.

So, wat is die belonings wat jy kan verwag na ’n goeie dag of week, waar jy jou kosbaarste bate reg gebruik het? Hoe kan ons prestasie meet? Behalwe die toename in eiewaarde, is daar ’n konstante stroom van dividende wat uit jou persoonlike belegging sal voortvloei.

Dit mag selfs ’n paar finansiële belonings, bevordering of komplimente insluit, maar dit behoort nooit die maatstaf te wees waaraan ’n suksesvolle dag gemeet word nie. Geluk is nie iets daar buite nie, maar eerder iets hier binne.

Belê alles wat jy kan in hierdie bate, terwyl jy jouself toelaat om optimaal deur die Meester gebruik te word om Sy uiteindelike doel vir jou lewe te bereik. Sit terug en kyk hoe die bate groei en toeneem in waarde terwyl jy die dividende dag vir dag pluk: vreugde, vrede en geluk.