Onthou beter en hou jou brein skerp

0
900
lyf_1.png

Sukkel jy deesdae om te fokus? Die regte aanvullings kan help om jou verstand weer vlymskerp te maak.

Jy kan skielik nie die ma by die skool se naam onthou nie en jy moet hard dink wat die PIN van jou bankkaart is. Jy raak gefrustreerd, want jy kan mos nie op 30 al met sulke dinge sukkel nie. Jou kinders wat spot oor Ma se geheue wat agteruitgaan, help natuurlik ook nie! Gelukkig is daar ’n paar dinge wat jy dadelik kan toepas om van daardie brain fog ontslae te raak.

1. Skaf hierdie kruie-aanvullings aan

’n Gejaagde leefstyl eis soms sy tol. As jy sukkel om te fokus, is dit tyd om in ’n goeie kruiemiddel te belê.

Ginkgo biloba word as die natuur se eie breintonikum beskryf. Dié antioksidant is ’n veilige kruievoedselaanvulling. Dit help om ’n gesonde bloedvloei, ryk aan suurstof en voedingstowwe, na die brein en die res van die liggaam te voer.

Bacopa monnieri is nog ’n kruiemiddel wat jou brein verskerp. Flordis se Keenmind (R259 vir 60 kapsules) is ’n uitstekende natuurlike aanvulling om op die proef te stel. Dit verbeter fokus en konsentrasie, asook jou kort- en langtermyngeheue. Dit help ook met streshantering.

PROBEER: Solal se Ginkgo Biloba Extract (R116 vir 252 mg)

2. Laat toets jou yster

Swak konsentrasie kan ’n teken van ’n ystertekort wees. Dit beteken dat jou liggaam se rooibloedselle nie meer genoeg suurstof produseer nie, wat die helderheid van jou verstand beïnvloed en jou moeg en tam laat voel.

Die Dieetkunde-vereniging van Suid-Afrika beveel aan dat volwasse vroue wat menstrueer, sowat 18 mg yster per dag inneem.

* Twee eiers verskaf 10% van jou daaglikse aanbevole inname. Eet dit saam met spek of ’n lamsworsie. Dit bevat heemyster, wat maklik in jou liggaam geabsorbeer word.

* Hoenderlewers (sowat 100 g) bevat die helfte van die hoeveelheid yster wat jy elke dag nodig het. Dis heerlik saam met peri-peri-sous.

* As jy sukkel om voldoende yster deur jou dieet in te neem, het jy dalk ’n aanvulling nodig. Maar laat toets eers jou ystervlak en praat met ’n dokter oor die korrekte dosis. Te veel yster kan jou hart en lewer beskadig.

PROBEER: Chela-Fer ysteraanvullingtablette (R230, 90 vir 30 tablette)

3. Neem ’n vitamien B-aanvulling

Vitamien B speel ’n belangrike rol in jou brein se gesondheid. Studies dui daarop dat dit moontlik breinagteruitgang, soos met Alzheimersiekte, kan voorkom. Die rede is dat veral vitamien B6 die homosisteïenvlak laag hou. Hierdie natuurlike aminosuur kom in hoër vlakke voor by mense wat erge stres beleef. Dit verrig skade aan selwande, en dit kan ook inflammasie in die brein veroorsaak, wat met geheueverlies geassosieer word.

B-vitamiene – veral B6, B12 en foliensuur – breek dié stof in die liggaam af, wat help om verstandelike agteruitgang te voorkom. Hierdie vitamienkompleks kom in kos soos hoender en kaas voor, maar dis belangrik om ook ’n goeie aanvulling te drink. Kies een wat 100% van jou aanbevole daaglikse inname bevat.

PROBEER: Vitaforce Nutri-B Advanced (R109 vir 60 tablette)

4. Onthou van jou omegas

Omega 3-vetsure is ’n móét vir jou brein se gesondheid. Studies toon dat mense wat nie genoeg van hierdie vetsure inneem nie, ’n groter risiko vir demensie het.

Die sleutel tot omega 3’s se uitwerking op die brein lê in jou membrane. Selwande bestaan uit ongeveer 60% vet, waarvan DHA – een van die omega 3 essensiële vetsure – die belangrikste is. Omega 3’s help om die membrane meer elasties te hou, wat die vloei van elektriese impulse verbeter. Dit bevorder ook bloedvloei na die brein.

As jy elke dag genoeg daarvan inneem, kan dit ’n groot verskil maak aan jou vermoë om te konsentreer en dinge te onthou.

PROBEER: The Real Thing se Mega Omega 3+6+9 (R139 vir 60 kapsules)

5. Beheer jou hormone

Sukkel jy om name te onthou vandat jy die menopouse bereik het? ’n Afname in estrogeen kan dalk daarvoor blameer word. Studies toon dat dié hormoon die aantal verbindings tussen ons breinselle vermeerder, wat help dat breinselle beter met mekaar “praat”. Só verskerp jy jou brein en kan jy jou teen siektes soos Alzheimersiekte beskerm, meen sommige navorsers.

Deur die regte dieet en aanvullings te neem, kan jy ’n afname in estrogeen buffer. Vlassaad, bone en groen groente is uitstekende bronne van plantaardige estrogeen. Eet ’n handvol neute of sade of ’n halwe avokado elke dag. Dit is gesonde kosse wat jou geheue versterk en jou hormone balanseer.

PROBEER: Bioharmony se MenoClove Forte (R155 vir 60 kapsules)

Drink hierdie drankies vir konsentrasie

Groentee
Soek jy ’n breinopkikker? Skakel oor na groentee. Die flavonoïede kan jou breinkrag stimuleer, sê die Australiese kruiekenner Tipper Lewis. Volgens haar het ’n studie in Japan getoon dat twee of meer koppies groentee per dag jou kans vir verstandelike agteruitgang met tot 64% verminder.

Warm water
As jou brein “dof” voel, is hidrasie die eerste ding waaraan jy moet dink. Warm water is net die ding wat kan help: Dit perkoleer vinnig in die selle in om vinniger jou liggaam te hidreer en jou konsentrasie te verbeter. Drink dit stadig en gereeld deur die loop van die dag. Begin met ’n bekertjie warm water soggens as jy opstaan. Die oomblik dat jy voel dat jou konsentrasie begin afneem, drink nog ’n bekertjie.

Ontspan in ’n warm bad

Stres en angstigheid is ’n teken dat die streshormoon kortisol in jou brein vermeerder. Dié hormoon word verbind met gesondheidsprobleme, onder andere die onderdrukking van die immuunstelsel en geheueverlies.

’n Ontspanningsoefening kan help om ’n gespanne brein te laat ontspan. Volg hierdie roetine, wat die voordele van hidro- en aromaterapie kombineer.

1. Tap ’n warm bad aan die einde van die dag. Raak ontslae van alles wat jou aandag kan aflei, soos jou selfoon.
2. Voeg ’n paar druppels organiese laventelgeur essensiële olie by die water. Sit die ligte af en steek kerse aan. Laat rustige musiek op die agtergrond speel as jy dit verkies.
3. Klim in die bad, leun terug en ontspan. Laat toe dat die water jou omvou en jou fisieke en emosionele spanning wegvat. Fokus jou aandag op die sensasies wat jy beleef.
4. Asem die reuk van die laventel in en voel hoe jy ontspan.
5. Bring sowat 20 minute in die bad deur. Wanneer jy gereed is, laat die water uit die bad loop.
7. Verbeel jou dat jou spanning saam met die badwater in die drein afspoel.

Bronne: www.webmd.com; www.dailymail.com; www.cdc.gov; www.juniva.com