Onthou om te onthou

“Wonderful are the combinations of circumstances by which, in providence,
GOD works out His ends.”

Ons is oppad. Ons 3’tjies se tassies is nog nie gepak nie, maar dit sal ook nie meer lank wees nie. Ons nuwe huis is op ‘n eiland ‘n lywige 13 000km van hier af met prinse en prinsesse, paleise en koninklike wagte.

Dit klink dalk idilies, maar om tot by hierdie hoofstuk in ons verhaal te kom, is ‘n storie wat almal nie noodwendig ooit sal hoor nie.
Sommige staaltjies is opwindend en deel ons graag. Ander weer, is so eentonig en skynbaar niksseggend soos die geslagsregisters van I Kronieke…

Die oggend van my verjaardag maak ek klaar met II Konings en die volgende oggend staan ek op met ‘n verwagting. Maar die dralende aflees van naam op naam op naam, van ‘vader van’ en ‘seun van’ was nou nie eintlik die inspirasie waarna ek opsoek was daardie oggend nie.

Belydenis? Die versoeking was groot om maar te blaai tot by tot daar waar die stories begin – so rondom hoofstuk 9. Gelukkig kom wikkel die Gees in my binneste en ek besluit om tóg maar die kommentare oor hierdie gedeeltes te lees. Ek moet erken dat ek net ‘n klomp leë bladsye verwag het, want watter wyshede kan ‘n mens nou eintlik put uit ellelange geslagsregisters?

Ek maak my tuis voor ‘n ene dominee R. Tuck en ek drink elke woord in, want vir die eerste keer maak dit vir my soveel sin:

“The people had not yet gathered up the threads of the old national life, broken by the Captivity. They required to be reminded, in the first place, of their entire history, of the whole past course of mundane events, and of the position which they themselves held among the nations of the earth. This was done, curtly and drily, but sufficiently, by means of genealogies.”

Hierdie geslagsregisters is vir die eerste keer in opdrag saamgestel nadat die Volk uit ballingskap teruggekeer het. Hulle was sonder ‘n identiteit, ‘n plek in die wêreld. Sommige van hulle het dalk gewonder of hulle nog ‘n God gehad het.

Maar na alles wat gebeur het, wou die Here hulle herinner dat hulle steeds deel was van Sy Meesterplan om redding vir die wêreld te bewerk. Hulle moes terugkyk en onthou. Deel van onthou was die slegte dinge wat gebeur het. Dit was deel van hulle geskiedenis. Dit help nie mens skryf dit bloot uit nie.

En dan begin ‘n nuwe verhaal…

“Die mense van Juda is in ballingskap na Babel weggevoer omdat hulle ontrou aan die Here was.
Die eerste wat weer na hulle eiendom in die dorpe waar hulle voorheen gebly het, teruggekeer het, was gewone Israeliete, priesters, Leviete en tempelbediendes. Mense van die stamme van Juda, Benjamin, Efraim en Manasse het gekom en in Jerusalem gaan bly.”
1 Kronieke 9:1 NLV

Gewone Israeliete. Met gewone stories.

Ons lees dat “die hele Israel se name is in geslagsregisters opgeskryf in Die boek van die konings van Israel…”.

En dan:

“It is significant that after the Captivity the Israelites never relapsed into idolatry; but such a genealogy as this helped them to realize fully that the God of their restoration was the ‘one God’ of their fathers, and the God of the whole earth, who could not be limited in thought to any locality, nation, or name.”

En by hulle terugkeer is daar nie ‘n pakkie Lindt chocolates op hulle bedjies uitgepak met ‘n “WELKOM TERUG” banier oor die katel gespan nie.

Daar lê ‘n papirusrol met name.
Bloedverbintenisse aan die wat voor hulle gegaan het. Sodat hulle kan onthou… sodat hulle kan leer… sodat hulle nooit weer die lyn van Sy liefde sal mistas nie.

Ons skryf nog aan ons storie, soms geslagsregister-vervelig en ander kere weer tuiskoms-opwindend.
Ons weet ons wil niks vergeet nie. Ons is deel van ‘n Groter Storie.
Wanneer ons gaan, skryf ons onsself nie uit Die Storie uit nie.
Ons blaai bloot om.
Maar vergeet, sal ons nooit.

Jou temalied vir die week: More to come

Vorige artikelSlim swieties
Volgende artikelBolletjies klei
Blogger - Maxie Heppell
Vir baie lank het my lewe nie regtig rigting gehad nie. 'n Gekompliseerde kindertyd, verkeerde keuses en dan die ongelukkige gevolge daarvan, het my gevange gehou. Tot daardie dag dat die Here Sy kind uit die modder opgetel en haar voete stewig op Vaste Rots laat land het. Psalm 40 bly tot vandag toe 'n groot favourite! Dit het my baie jare geneem om uit te kom by dit wat Hy nog altyd vir my lewe bedoel het. Maar nou is ek hier. En ek glo in God Drie-Enig, in die maagdelike geboorte, in Jesus aan 'n kruis, maar meer nog - aan die opgestane Jesus in my eie lewe. Ek glo dat Hy ons weer gaan kom haal en dat ek tot dan die Heilige Gees het wat my lei en my denke help vernuwe. In 2009 behaal ek my B.Th graad in teologie en sedertdien preek ek, praat ek en deel ek oral waar ek genooi word. Ek en my eerste liefde en ons langhaar-vierbeen meisiekinders bly tans op Jeffreysbaai in die Oos-Kaap en ons getuig gereeld: Die Here is nie net goed vir ons nie, Hy bederf vir ons!