Ontmoet jou nuwe gunstelingparfuum

0
15
parfuum.jpg

Is jy dol oor jou parfuum, maar gebruik al lank dieselfde een? Só kies jy iets nuuts wat goed by jou sal pas.

AS JY HOU VAN… PROBEER OOK…
   

boss_black.pngBoss Nuit Intense Pour Femme 50 ml (R885) val eerstens op met ’n kombinasie van appelkoos en jasmyn. Die geur verander mettertyd en word houtagtig. Dit behoort lank opmerkbaar te bly. Die aktrise Gwyneth Paltrow is gekies as die model vir die parfuumadvertensie en geen wonder nie, want dit het ’n klassieke geur. Dit gaan hand aan hand met die getroue swart rokkie wat jy na skemerkelkie-affêres toe dra. Die bottel behoort ook maklik in jou aandhandsak te pas sonder om dit bonkig te maak.

boss_pink.pngBoss Ma Vie Pour Femme Eau de Parfum 50 ml (R850). Hierdie parfuum is baie kort op die hakke van Boss Intense bekend gestel. Alhoewel dit ’n sagte geur is, verras dit jou met sy langblywendheid. Met ’n kombinasie van verskeie blomgeure is dit maklik om te dra en is ook die tipe parfuum wat jy as geskenk vir ’n vriendin of ’n familielid kan gee. Die geur se warm basisnote is sederhout. Dra dit liewer deur die dag omdat dit so lig is.

lyn_3.png

AS JY HOU VAN… PROBEER OOK…

gucci_gold.pngGucci Première Eau de Parfum 50 ml (R995). Dié modehuis se stylvolle loopplankskeppings het hierdie sagte parfuum, wat in 2012 bekendgestel is, geïnspireer. Dit herinner aanvanklik aan lemoenbloeisels, maar ontwikkel tot muskus. Alhoewel dit ’n somerparfuum is, is die geur swaar genoeg dat jy dit tot in die wintermaande en saans kan dra. Hierdie fyngeur is vir diegene wat stylvol is, maar graag raakgesien word, vandaar die naam wat jou herinner aan die paparazzi se flitsende ligte en ’n rooitapytgeleentheid.

gucci_silver.pngGucci Première Eau de Toilette 50 ml (R855). Hierdie fyngeur het einde laasjaar vir die eerste keer op ons rakke verskyn. As ’n ligter weergawe van die oorspronklike, sal dit by baie vroue byval vind. Die reukwater is ongetwyfeld een wat jy daagliks in die warm somermaande kan aansproei. Dit is nie die soort wat mense rondom jou sal oorweldig nie. Indien jy wil hê jou parfuum moet jou ekstra selfvertroue gee, is dit nog ’n rede om dit op jou wenslys te skryf.

lyn_3.png

AS JY HOU VAN… PROBEER OOK…

escada_light.pngEspecially Escada Delicate Notes Eau de Toilette 50 ml (R745) is ’n herinterpretasie van ’n vorige parfuum deur die Duitse ontwerpershuis. Dit is geskik vir ’n jong vrou of andersins ’n vrou wat nog jonk van gees is. Die mees opvallende geurnoot hier is roosblare. Dra dit wanneer jy gelukkig is of wanneer jy gelukkiger wil voel. Hou in gedagte dat subtiele reukwater se geur gewoonlik nie baie lank hou nie. As jy deurentyd lekker wil ruik, moet jy beslis hierdie een in jou handsak saamdra.

escada_dark.pngEspecially Escada Elixir Eau de Parfum 50 ml (R860). Hierdie parfuum borduur voort op Escada se voorkeur vir roosgebaseerde parfuum, maar dit herinner jou ook baie aan vrugte, veral pere. Dit is ’n gesofistikeerde pasmaat vir suksesvolle vroue en is dramaties genoeg dat jy dit na ’n aandfunksie toe kan dra. Wanneer die geur warm raak op jou lyf, ruik dit skoon – amper soos duur seep.

Artikel deur Ryno Mulder