Ontvang genesing

Ek sukkel nogal om vrede te maak met my verlede. Baie min mense weet hoe skuldig ek voel oor die mens wat ek was voordat die Here my handomkeer kom verander het.

Noudat ek so wonderlike verhouding met die Here het, en Hy my ‘n nuwe mens kom maak het (2 Kor 5:17), kom herinner die vyand my gereeld aan my verlede, ek is ‘n maklike teiken vir die vyand.
Ek het vir baie lank met iets geworstel, net ek en die Here het daarvan geweet. Maar ‘n week gelede het iets wonderliks gebeur. Toe die vyand my verlede weer wou kom gebruik, het die Here dit omgeswaai en genesing gebring.
Dit begin met belydenis. Erken jou foute. Bely dit dan aan God en mense vir wie jy lief is. Wanneer ons dit aan God bely, ontvang ons vergifnis, maar wanneer ons dit aan ander bely, gebruik God ons verhoudings om genesing te bring.
God het my lankal vergewe vir my verlede, maar ek het vreeslik gesukkel om myself te vergewe. Ek het uiteindelik moed gehad om met my wonderlike man daaroor te gesels en siedaar, net so kom daar ‘n bonatuurlike genesing en is ons verhouding nog sterker as ooit.
Vandag wil ek jou aanmoedig om dit waarmee jy worstel, met God en ook met die mense wat vir jou lief is te deel. Met wie gaan jy begin? Wat moet jy bely? Begin êrens en laat God toe om jou te herskep, jou verhoudings te versterk, en as gevolg daarvan, jou wêreld te verander.

‘Vanweë ons sondige natuur sou ons net soos die ander mense deur God gestraf
moes word. Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief. Deur sy groot
liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met
Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered! Ja, in Christus Jesus het
Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom ‘n plek
in die hemel gegee, sodat God ook in die tye wat kom, sou laat sien hoe
geweldig groot sy genade is deur die goedheid wat Hy in Christus Jesus
aan ons bewys het. Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof.
Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God. Dit kom nie
deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself
trots te wees nie. Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het
Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade
waarvoor Hy ons bestem het.’ ~ Effesiërs 2:3-10

Seënwense,

Stephanie