Ook maar mens…

Liewe Persoon,

En daar stop toe ‘n regte-egte celebrity langs my by die petrolpomp vanoggend!

Ek het probeer om nie te staar nie, maar ek kon nie anders nie – deels omdat hy ‘n regte-egte celebrity is én omdat hy ampers my kantspieëltjie met sy monstertrok (Ford op steroids) afgery het. .. dis juis toe dat hy vir my kyk (terwyl ek probeer om te loer sonder om gesien te word..).

Getrou aan sy silwerskermpersona flits hy vir my ‘n skitterwit glimlag – en vreemd genoeg, ek wonder dadelik of hy dan nou sy koffie altoos deur ‘n strooitjie drink. Miskien is hy op ‘n liquid diet, fluister my onderbewussyn. Intussen probeer ek so normaal as moontlik asemhaal en my beste poging tot ‘n pruilmond-glimlag laat my lyk asof ek aan ‘n witasyn fopspeen suig. Aaaagh!

Terwyl die petroljoggie om Vlam doenig is, hop Meneer Celebrity uit sy monstertrok en sny ‘n lyn kiosk toe. Dadelik sien ek dat hy nog nie ‘n kam deur sy kapsel getrek het nie. Sy t-hemp is ook nie gestryk nie. Sy broek het nie stryk nodig nie (nooit nie), want dit span soos ‘n tweede vel oor sy extremities.

Shame. Ek wil my kop in ongeloof skud, maar die groupie in my reken dié man het seker skaars tyd om met sy ma oor die foon te praat let alone om vir ure te groom – veral net voor sewe smôrens. Ek merk egter op dat hy wel sy Bulgari-horlosie onthou het. En skielik wonder ek of daai broek nie sleg is vir sy bloedsomloop nie…

En toe sien ek dit.

En dit, is onvergeeflik.

Waar sy Levi jeans se (baie nou) pype ophou, begin die wolle van sy slippers! Ja. PANTOFFELS! Sulke ek-was-eens-wit-maar-nou-is-ek-voos-gedra-so-ek-gee-nie-meer-om-nie wol gedoentes. Van agter af lyk dit of hy probeer om op die kante van sy voete te loop. Amper soos ‘n ballerina. Net baie anders. Die wol lyk ook al soos ‘n vergete poedel na twee somers sonder ‘n sny (of ‘n bad). Van bolletjies wol is daar nie sprake nie. Nee. Dit is kloste wol.

En net daar gril ek. So ‘n aanhoudende gril wat al langs my ruggraat afloop…

Nou ek is nie regtig iemand met baie fiemies nie (trues bob), maar wraggies! Pantoffels – en sulke onooglike paar op die koop toe! Ag-nee!  My groupie-stemmetjie was nog besig om te redeneer dat hy dalk ‘n ingroei toonnael laat verwyder het, ‘n fondamentvrat laat afvries het (synde hy so snaaks loop), óf dat hy sy voete troetel omdat dié so hard werk om hom voor die kameras te kry. Ghmph!

Ek is baie dankbaar toe die petroljoggie uiteindelik my R200 neem… net om ten aanskoue van die celebrity, die noot teen die lug te hou om seker te maak dit is nie vervals nie. Nou hoekom sou hy dit doen? Lyk ek verdag, wonder ek dadelik. Dis jou kantpaadjie, fluister my onderbewussyn en ek sien al hoe Ma kwaai na my kyk.  Ek draai Vlam se sleutel en besluit om eerder te ry, voor die petroljoggie dalk Vlam se VIN-nommer wil sien.

So ja. Nes die celebrity is ek ook maar net mens . En nes die gepantoffelde celebrity word ek ook soms met die spreekwoordelike houtoog aangekyk. Verbeel jou, ‘n vervalste R200 noot!

DEEL
Vorige artikel#geemyjouskoene
Volgende artikelIs jy ook Kletterverskrik…?
Blogger - Annette Willemse
Annette Willemse is ’n oud-joernalis, fotograaf, dosent, korporatiewe kommunikasiespesialis, skrywer, dromer en doener! Skryf is vir my soos ’n pleister vir die siel, soos rooiwyn vir die liefde en soos koeksusters by ’n kerkbasaar. Ek lééf in prentjies en in stories. Gelukkig laat my beroep as Korporatiewe Kommunikasiepraktisyn my toe om myself – elke dag, met woorde te besig. Ek het my voorliefde vir lees en skryf by my ma – ook Annette, gekry. Ons erken maklik dat ons van brood sal leef solank ons net ’n ietsie het om te lees.