Oor CrossFit en Cross-fit

Toegegee: Dit is nie ‘n nuwe ding nie. Die hele CrossFit-craze. Maar dit is wel ‘n nuwe ding in die Heppell-huis.

Ná my man se ervaring in Kuwait (hou hierdie spasie dop), het hy met ‘n hernieude waardering vir sy eie gesondheid teruggekom en hart, siel en gees op hierdie orkeswa gespring. Behalwe dat sy broeke nou half loslyf sit soos ‘n kranige Afrikaanse hip-hopper, kan ek sien hy vóél ook goed. En om my eerste liefde so te sien, maak my ou hartjie juig.

Nou kyk, hierdie CrossFit manne en mevroue speel nie! Ek is amper te bang om te vra: “Gym jy?”, want netnou is dit ‘n CrossFit-er en dan kry ek dalk ‘n skewer kyk as wanneer jy vir ‘n US Marine vra of hy in die Army is.

Hierdie is ‘n ernstige bedryf. Baie ernstig. Hoor wat sê Gregg Glassman, CrossFit uitvinder en CEO, in ‘n onderhoud met The New York Times in 2005 :

“It can kill you. I’ve always been completely honest about that.”

Wat my toe laat dink het aan die hele CrossFit fenomeen en hoe dit eintlik kommentaar lewer op my eie geestelike lewe.

CrossFit-ers is bereid om deur onbeskryflike pyn en lyding te gaan – soms selfs die dood in die oë te kyk, volgens Glassman – en ontelbare ure asook ‘n ordentlike porsie fondse af te staan om hulle fisiese liggame in tip-top kondisie te kry.

Nes Glassman het die liewe Here ook nie doekies omgedraai nie:

“Then Jesus said to his disciples:
‘If any of you want to be my followers, you must forget about yourself.
You must take up your cross and follow me.’ “
Matthew 16:24 CEV

En weer sê Jesus vir sy dissipels:

“ ‘In this world you will have trouble.’ “
John 16:33 NIV

So, as ek dan al hierdie dinge weet – wat doen ek om myself Cross-fit te kry? Is ek hoegenaamd so toegewyd aan die ontwikkeling van my gees as die van my liggaam?

5am opstaan vir gym toe gaan is oraait, maar douvoordag opstaan om my Bybel te lees? Mmmmm.
Die risiko dra van erge fisiese beserings om mensgemaakte mylpale te bereik is ook okay, maar gebrei en gevorm en getoets word om my geestelike spiere sterk te maak? Nie heeltemal so seker nie.

Die beloftes wat CrossFit inhou is verseker groot genoeg om mense te lok na meer as 13 000 oefenplekke in 120 lande . Nou as ek dan kan glo dat die beloning vir my fisiese liggaam so groot is, presies wat sal dieselfde toewyding vir my geestelike gesondheid beteken?

“Al kry ons nou baie swaar, vat dit glad nie ons blydskap weg nie. Allesbehalwe.
Ons weet mos dat swaarkry ons vorm en slyp om nog meer op God te vertrou.
En wanneer ons onverskrokke op God vertrou,
help dit ons om ’n sterk Christelike karakter te vorm.
En ’n sterk Christelike karakter maak dat ons deur dik en dun glo
dat God se nuwe wêreld op ons wag.”
Romeine 5:3,4 Die Boodskap

In een van die ander vertalings lees ons dat hierdie geloof op die nuwe wêreld wat wag, ons HOOP gee. En wie van ons kan nie doen met ‘n bietjie meer hiervan nie?

Dit is hoekom ek nie meer wil bid dat die swaarkry van my moet weggaan nie, maar dat die Here my tog deur die swaarkry moet leer wat dit is om in totale oorgelewerdheid op Hom te vertrou.

Dan wil ek nie meer net vir Hom dankie sê wanneer dit met my goed gaan nie.

“When we ‘thank God’ when good things happen,
we can inadvertently imply that God is only good during good times,
that He is rewarding us for performance,
and that God is punishing those who are suffering.
Praising God then cannot be built on the quality of our circumstances,
but centers on the God of those circumstances,
however good or bad they may be.
Basing my gratitude on the situation is a recipe for disillusionment and bitterness.

We easily get addicted to our blessings –
but the real blessing is God being present through our ups and downs,
no matter how hard it gets.
I want to praise God in all seasons, not because the hurt doesn’t hurt,
but because He never leaves me to myself.
He walks in my healing.
It is this sort of faith, even the size of a mustard seed, that will break
my addiction to tangible blessings and infuses me with reckless freedom
in every season.”
JS Park

In elke seisoen kan ek my kruis dra en steeds dankbaar wees. Dis moontlik. Maar my geestelike uithouvermoë is maar pieperig is en ek kan doen met ‘n paar moordende repetisies.

Squat… lift… carry…
Repeat.

Vorige artikelVat jou tyd
Volgende artikelKommunikasie
Blogger - Maxie Heppell
Vir baie lank het my lewe nie regtig rigting gehad nie. 'n Gekompliseerde kindertyd, verkeerde keuses en dan die ongelukkige gevolge daarvan, het my gevange gehou. Tot daardie dag dat die Here Sy kind uit die modder opgetel en haar voete stewig op Vaste Rots laat land het. Psalm 40 bly tot vandag toe 'n groot favourite! Dit het my baie jare geneem om uit te kom by dit wat Hy nog altyd vir my lewe bedoel het. Maar nou is ek hier. En ek glo in God Drie-Enig, in die maagdelike geboorte, in Jesus aan 'n kruis, maar meer nog - aan die opgestane Jesus in my eie lewe. Ek glo dat Hy ons weer gaan kom haal en dat ek tot dan die Heilige Gees het wat my lei en my denke help vernuwe. In 2009 behaal ek my B.Th graad in teologie en sedertdien preek ek, praat ek en deel ek oral waar ek genooi word. Ek en my eerste liefde en ons langhaar-vierbeen meisiekinders bly tans op Jeffreysbaai in die Oos-Kaap en ons getuig gereeld: Die Here is nie net goed vir ons nie, Hy bederf vir ons!