Oor dankbaarheid

dankbaarheid

Ek dink ek het ‘n afspraak met myself nodig.  Een waarin ek besin oor dankbaarheid en die definisie van swaarkry.

‘n Vriendin vra hoe dit gaan en ek sê:  “Ek het nét netnou ‘n bietjie gehuil omdat die lewe te swaar is”.  En nou, na ons gesprek wonder ek oor swaarkry en die definisie daarvan, daarom die nodigheid vir ‘n afspraak met myself.

Die lewe is onder andere swaar want my kar – ons enigste betroubare kar  – is in vir ‘n diens en die motorwerktuigkundiges moet baie parte vervang, dit wil sê, ek moet baie geld betaal.  Ek ry dus nou vir drie dae met my kinders se 1984 blou Suzuki SJ, om al my afsprake na te kom.  Ja, die lewe is só swaar dat ons wel ‘n ekstra kar het, wat die kinders kan gebruik.  Halfpad deur my eerste Suzi Blue dag hoor ek snaakse geluide en ek kruie teen 10 km per uur aan na veilige aftrekplek.   Só swaar is die lewe ja dat ek wel ‘n veilige plek kry, asook ‘n lang glas yskoue water en drie manne wat aanbied om te help planne maak oor hoe om Suzi se loopvlaklose voorwiel te vervang.

Daar is dus dinge om oor te dink en om oor te praat.  Ja, die lewe is swaar.  So swaar dat ek elke aand na my gunsteling musiek kan luister, as ek die moeite doen om my Ipod aan te skakel.  So swaar dat ek ‘n paar keer per dag ‘n heerlike glas water kan drink uit my eie kraan in my eie kombuis, al is die Kaap droog.  So swaar dat ek elke aand saam met my gesin kan kuier rondom die etenstafel, en so swaar dat my man gisteraand vir my blomme gekoop het, net omdat, wel, omdat my dag so swaar was …

Ek moet besin ja.  Oor dankbaarheid.

En dan sal ek ook moet besin oor my optrede midde in die verkeer toe ek my vervies het vir Mnr. Blinkmotor se ‘tooter’ wat in my ore raas omdat ek net 10 km per uur kan ry.  Ek wou nie, maar toe ek weer sien, toe tik ek klaar met my voorvinger teen sy ‘getinte’ venster.   ‘n Spieël-sonbril, donker hare, en effens van ‘n baardjie kyk vir my.  “Menéér”, sê ek deur sy nou baie oop venster, “my kar gee probleme, ek is jammer ek ry te stadig na jou sin en dat dit jou soveel ongerief besorg, maar op die oomblik is dit my maksimum spoed.  Sien jy daardie hoek daar voor, ek gaan daar afdraai, maar tot dan, sal jy maar agter my moet ry”.  Ek is verbaas dat hy wel sy venster oopgemaak het, seker gesien ek stap met die ‘gesag’ van ‘n Suzuki 4X4 bestuurder.  Ek dink die ander motoriste was ook verbaas.  Dorpstraat in Stellenbosch sal nooit weer dieselfde wees nie.  Agterna wonder ek net of hy dalk in my kerk is?  Ek sal moet besin.

My vriendin luister met ‘n liefdevolle oor: “Jy “weet mos wat hulle sê”, sê sy:   “Alles sal op die ou einde OK wees, en as dit nie is nie, dan is dit nie die einde nie”.  Die lewe is swaar ja.   Maar my dankbaarheid is meer, dit is nog nie die einde nie.

Foto:  112263serial.ru

Vorige artikelLiefde & Wellus. Die verskil.
Volgende artikelKinders se kwesbaarheid
Blogger - Liesl Cronje
Liesl is 'n lewens-en besigheids coach vir vrouens en glo dat elke vrou 'n baie spesiale storie het. “Ek vertel stories oor die lewe, vanuit 'n ander hoek. My besighede, Thyme2B & Thyme Events is geïnspireer deur my liefde vir kruie en veral Tiemie. Tiemie beteken courage en die oorspronklike betekenis daarvan is, om die storie van wie jy is met jou hele hart te vertel. Daarom leer ek graag ander vrouens hoe om hulle stories te omvou en met hulle hele hart te vertel.” Liesl is getroud met Pierre en het drie jong volwasse kinders. Kyk ook by www.thyme.co.za vir meer blogs en Instagram: @thyme_2b.