Oor die dag na Moedersdag

Die kinders is groot en daarom lyk Moedersdag anders hierdie jaar.  Die weer is perfek vir surf en ‘n Moedersdag piekniek word deel daarvan.

Die kinders wil hê ek moet ook surf maar ek is bang. Alles is mooi en lekker op die strand.

Maar môre is weer Maandag en dan is almal besig.  Ek kyk na die drie surf-borde in die see.  Hulle geniet dit en ons geniet dit om vir hulle te kyk.  Wat is hierdie oomblik?  Hoe kan ek dit in woorde saamvat en behou vir die res van die jaar?  Woorde kan klink soos, ‘saamkom’, ‘hier’, ‘saamkyk’, ‘hoor’, ‘saamlag’, ‘stil’.  Saam.  Ek hou van die Engelse verduideliking van saam:  Accompanied by.  Die betekenis van accompanied?  Om saam met iemand te gaan.

Hoe behou ek dan nou hierdie Moedersdag saam-oomblik, die kinders is besig met hulle eie lewens?  Ons is nie altyd SAAM nie.  Na ‘n rukkie se dink, besef ek dat ek niks hoef te behou nie, want ek het dit reeds. Elke vinnige geselsie, elke drukkie,  elke gedeelde koppie tee, saamlê op die bed, hallo sê oor die foon, elke email, WhatsApp, kuier om die kombuistafel, gedeelde swaarkry en lag is ‘n saam-moedersdag-oomblik.  Elke dag is eintlik Moedersdag.  Ek moet net beskikbaar wees.  En Moedersdag wat gevier word?  Ek dink dit is net die uitvloeisel van al hierdie beskikbaar wees oomblikke.

Ek sien uit na elke na-moedersdag dag, tot ons weer by die dag kom volgende jaar, waar ons al hierdie klein saam-oomblikke kan vier en bedink. En miskien sal ek dan surf …

Vorige artikelPraat gereeld oor geld
Volgende artikelWie verdien my genade?
Blogger - Liesl Cronje
Liesl is 'n lewens-en besigheids coach vir vrouens en glo dat elke vrou 'n baie spesiale storie het. “Ek vertel stories oor die lewe, vanuit 'n ander hoek. My besighede, Thyme2B & Thyme Events is geïnspireer deur my liefde vir kruie en veral Tiemie. Tiemie beteken courage en die oorspronklike betekenis daarvan is, om die storie van wie jy is met jou hele hart te vertel. Daarom leer ek graag ander vrouens hoe om hulle stories te omvou en met hulle hele hart te vertel.” Liesl is getroud met Pierre en het drie jong volwasse kinders. Liesl en haar dogter Lische is ook die skeppers van LiLiBeth stories en sketse. Kyk by thyme2b.co.za en thymeevents.co.za vir meer blogs en Instagram: @thyme_2b, @lili_cronje en @lilibeth_cronje.