Oor engele

0
24
natasha_sutherland.jpg

Ek het eenkeer ’n boek gelees van ’n vrou wat deur ’n baie donker tyd gegaan het en toe iets beleef het wat haar lewe verander het.

Sy sê ’n engel het aan haar verskyn en haar in haar geloof versterk en met haar oor haar lewensdoel gepraat. Dit was vir haar ’n keerpunt. Dié engel het lig kom saai in haar donker wêreld.

“Dis nie regverdig nie!” het ek gemor toe ek dit lees. “Waar’s mý engel? As ’n mens deur so ’n moeilike tyd gaan soos ek, is ’n ou bietjie vrede, hulp en ’n heilige klop op die skouer mos nie te veel gevra nie – of hoe?”

Ek het net gedink dit sal darem lekker wees om iemand te hê wat so nou en dan oor my skouer loer – iemand wat my van tyd tot tyd sal help dra aan die las van my onwelriekende lot. Veral toe ons tuisfront in ’n yslike sirkus begin ontaard het (die nuus van Mnr Y en Me X se eskapades het mediamanie veroorsaak).

Twee vroue met olierige hare het in hulle kar buite my hek kom plak, gewapen met ’n clipboard en ’n yslike teleskopiese kameralens. Mens sou sweer hulle lê ’n Sexpo-ster voor. Hulle het kwylend gesit en wag totdat ek my seuns skool toe vat – en dan aangelê en gevuur. In die middae het hulle na my seuns geroep as hulle in die tuin speel. ’n Mens kan nie juis laer daal as om ’n vyfjarige te probeer uitlok om sappige brokkies skindernuus te verskaf nie! Snags het ek gedroom ek doen verskriklike goed aan hulle – met behulp van ’n pynappel, ’n bottel brandrissiesous en ’n báie stomp teelepel!

Die ander dag kom vertel ons nanny, Meah, vir my dat twee mense haar genader het terwyl sy by ’n petrolstasie vir ’n taxi gewag het. Hulle het gesê hulle weet sy werk vir my, en het haar R5 000 aangebied vir enige inligting oor wat in ons berugte huishouding aangaan. Sy was na aan trane toe sy dit vir my vertel. Ek het vir haar dankie gesê vir haar integriteit en lojaliteit.

Meah het die mooiste, mooiste hart. Sy sien met soveel liefde en sorg om na my huis en my kinders. Sy is stil maar sterk – ’n kryger wat deur die ontberings van hierdie kontinent gebrei is. Agter haar tingerige liggaam en sagte stem skuil die hart van ’n leeuwyfie.

Sy werk wettig in ons land en stuur die grootste deel van haar salaris terug huis toe na Malawi, waar haar suster Victoria na haar kinders kyk. Die ander dag vra ek vir haar hoe gaan dit met hulle, en sy sê haar seun begin nou saans moeilik raak as hy van die skool af kom. Ek aanvaar toe dis seker maar die gewone tienerprobleme soos hormone of rebellie. Maar toe ek haar verder uitvra, sê sy: “Hy is honger. Hy moet dikwels sonder aandete gaan slaap. Daar’s nie genoeg kos nie.”

[pagebreak]

Dit laat my klein voel. In Malawi kos 5 kg mieliemeel R90. Dit vat haar kinders drie ure om by die skool te kom, en drie ure terug. En dan is daar partykeer niks om te eet by die huis nie! Dan moet hulle hulle huiswerk op ’n leë maag doen. Om nou in sulke droewige omstandighede vir ’n beter toekoms te probeer werk …

Ek en Mnr Y het klere en fietse gestuur om ’n bietjie verligting te probeer bring, maar dinge het nie makliker geraak vir Meah nie. Haar broer was in ’n verskriklike taxi-ongeluk, haar suster het kanker gekry en haar dogter is nie gesond nie. En tog het sy nog iets oor vir ander mense. Die eerste twee weke nadat die bom met Mnr Y en Me X gebars het, het Meah daagliks gevra of sy vroeg kan loop. Ek het later eers uitgevind sy is elke keer na haar gebedsgroepie toe, waar sy spesifiek vir my en my gesin gebid het.

Dis toe dat dit tot my deurgedring het dat daar tóg engele in ons midde is. Hulle lyk dalk net nie soos ons ons voorgestel het nie. Want ons wil mos die Hollywood-fliek hê. Dink maar aan glansryke engele soos Warren Beatty in Heaven can wait, Nicolas Cage in City of Angels en Meryl Streep in Angels in America. Maak nie saak hoe oud ons is nie, ons wil eers vlerke, stralekranse en wonders sien voor ons oortuig is daar is ’n Goddelike hand van beskerming oor ons lewe.

Toe ek besluit het om te skei en 10 jaar van my lewe in bokse begin pak het, het ek meer as gewoonlik hemelwaarts gekyk vir troos en bemoediging. Hulle sê om te skei en om te trek tel onder die stresvolste dinge waardeur jy kan gaan, en daar doen ek toe sommer altwee gelyk!

Ha! Vrees! Ek lag in Vrees se gesig … of, in Blackadder se woorde: “I throw icecubes down the vest of Fear!” Maar in werklikheid was ek so bang, ek het soos ’n dun velletjie papier gevoel. Ek het amper deursigtig gevoel, soos ’n patetiese bleek spook wat nie eers ’n skoenlapper behoorlik die skrik op die lyf kan jaag nie.

Maar soos die een dag in die volgende gevloei het en die bokse gepak, getrek en uitgepak is, het ek die hemelse beskerming oral rondom my begin raaksien. Ek het begin agterkom dat daar baie vlerke, harte en arms in my lewe is. Nie aantreklike Hollywood-engele en amazing grace -gesigte met ’n vlerkspan wat ’n albatros jaloers sou maak nie, maar ondersteuning en beskerming van ’n meer aardse soort … gewone mense wie se sorgsaamheid my sprakeloos gelaat het. Hulle het gepak, getrek, geverf, naaldwerk gedoen, inkopies gedoen, my getroos, saam gedrink, my bemoedig en my sommer net liefgehê.

[pagebreak]

Ja, ek het engele in my lewe. Alna wat vir my die lekkerste melkterte en hoenderpasteitjies gebring het, het my daaraan herinner dat ek net my arms moet oopmaak om te ontvang. Christelle is ’n engelkryger – sterk en magtig op ’n sagte manier, sy het my geleer om dapper te wees en te volhard in my geloof. My sportmal suster Tami herinner my om gesond te eet, genoeg te slaap en gereeld te oefen om optimale gesondheid te verseker. My vriendin Brenda is ’n rots en laat my veilig voel, sy straal beskerming uit vir my, my seuns en my huis. En dan is daar my innemende ma wat my altyd probeer help om minder “boheems” en meer doeltreffend te wees, sy laat my fokus op my hoogste prioriteite, terwyl sy sorg vir die organisasie en motivering!

Die lys eindig nie daar nie. Ek dink ook aan Adele, Mab, Louise, Belle, Rochelle, Stefanie, Laura, Charlie, Margs, Julie, Ali, Brenda F, Jacqui, Rossouw, Danise, Cathy, Kim, Wendy,  Cleone,  Michelle, Dhala, Stephen, Greg, Henk, Peggy, Andre, Lindi, Carol, Yvonne, Lisa, Mariaan …

Ek is geseënd.

Ek het pas in my nuwe huisie ingetrek – die bokse en stapels boeke het nog rondgestaan – toe die wonderlikste “toevalligheid” gebeur. My vriende het een vir een ingeval om te kom hallo sê. Ewe nonchalant het elkeen by my deur opgedaag met “net ’n klein ietsie” – omdat hulle aan my gedink het.

Die “klein ietsies” was engeltjies. Klein blink silwer engeltjies, magnetiese engeltjies, pragtige roomkleurige engeltjies, engele van draad met rooi hartjies, engele van gekleurde glas met melkagtige vlerke. Een vir een het die goedjies hulle in my nuwe huis kom tuismaak – en nou hang hulle aan deurknoppe, sit op kombuisrakke en vrolik vaal mure op en hulle skitter terwyl ek en die seuns ons nuwe huis leer ken.  En wanneer ek by hulle verbyloop straal hulle wysheid, beskerming, krag en vreugde uit.  En ek is gelukkig, want elkeen van hulle is simbole van régte engele. Vlees-en-bloed-engele, soos Meah.

Ek onthou weer van Meah se probleme met haar kinders. En ek werk uit hoeveel sakke mieliemeel Meah met die R5 000 sou kon koop wat die smerige joernaliste haar aangebied het. 55 sakke. Genoeg om haar kinders se mae vir ’n jaar vol te hou.

En ek besef skielik hoeveel hierdie engel se lojaliteit haar gekos het.  In haar stilligheid verwoord Meah die kern van alle engele en sy leer my weer dat net liefde eg is!