Oor fortuinkoekies

0
54
natasha_sutherland.jpg

Fortuinkoekies beteken vir party mense net pret en plesier. Maar die aanhalings hierin is woorde van wysheid. Dit kan ’n mens baie van die lewe leer; ook van die liefde…

Ek het so ’n rukkie gelede vir my seuns fortuinkoekies by Woolies gekoop. Julle weet, daardie koekies met ’n boodskap binne wat in lekker melksjokolade gedoop is …. ahhh … wag, ek dwaal af.

Met die vakansie wat einde se kant toe begin staan, het ek sagkens probeer om ’n meer verantwoordelike denkwyse by die seuns te kweek rakende die rolle wat hulle altyd by die skool aanneem.

Sebastian is lief daarvoor om dinge te leer. Hy is nogal ernstig en praat baie. Beslis nie jou gemiddelde alfaseun en sportiewe kind nie, en hy word daaroor geterg. Gevolglik is hy baie selfkrities en ek moet hom gereeld daaraan herinner om homself met liefde te behandel. Ben is ’n woelwater. Baie spontaan. Baie sjarmant. Baie prikkelbaar. En hy volg nie maklik instruksies nie. Ek vra hom gereeld om te chill, dat hy moet probeer om aandag te gee.

Ek vertel hulle toe van die fortuinkoekies en dat dit ’n tipe tatta-vakansie-hallo-skooldae pretlekkerny is. (Dalk sal die fortuin-nota hulle op ’n manier aanmoedig? Ha Ha!)

Ben het sy koekie vrolik gevat en die verpakking oopgeskeur.

Seb het syne gevat en vir my die oorsprong van fortuinkoekies begin verduidelik en gevra of syne regtig van China af kom?

Ben het sy lippe afgelek.

Seb het vertel van die klein stukkie papier binne wat gewoonlik oulike boodskappe bevat wat help om jou hart gelukkig te maak.

Ben het ’n happie van sy koekie gevat.

Seb het syne oopgebreek en sy fortuin-aanhaling uitgetrek: “Wanneer jy liefhet, sien jy die lewe deur ’n teleskoop … maar wanneer jy krities is, sien jy die lewe deur ’n mikroskoop,” het dit gelees. Nogal gepas, het ek gedink, in die lig van ons selfbeeldgesprek. Die aanhaling het my gehelp om dit wat ons bespreek het, vir Seb te illustreer.

Geïnteresseerd het ek na Ben gedraai en gewonder wat sy fortuinkoekie oor sy voortvarende houding mag sê.

Ben het skaapagtig geglimlag; sjokoladeblertse het oor sy mond gelê terwyl hy die leë verpakking vir my geswaai het. Met ’n mond vol koekiekrummels het hy gebieg dat hy skoon vergeet het van die stukkie papier binne-in … maar dit was nietemin heerlik.

Benjamin het sy aanhaling GEËET! Dit daar gelaat.

Ek is mal oor aanhalings. M’m “Duh!” hoor ek julle al sê, want alles wat ek skryf, is deurspek daarvan. Maar ek ís ’n aanhalingversamelaar van formaat. En hoekom?

Want groot insigte kan in ’n eenvoudige stelling vasgevang word. Ek kom gereeld op ’n frase af wat my aandag aangryp oor die akkuraatheid waarmee dit my warboel gedagtes saamvat. Soms sukkel ek om die presiese woorde te vind wat my gevoel beskryf. En dan pop ’n lukrake aanhaling op, wat dit so lekker bondig saamvat dat ek amper glo die skrywer daarvan (lewend of dood!) moet een of ander tipe gedagteleser wees. Hierdie Eureka oomblikke is hemels … boodskappe van God. Die heelal se manier om my glimlaggend aan te help na ’n meer egte weergawe van myself.

Ek moedig mense aan om aanhalings te versamel. As jy iets sien waarby jy aanklank vind, wat jou siel saggies druk, of jou laat lag … moet jy dit neerskryf. Plak post its met al jou gunstelingaanhalings oral oor die huis. Op die badkamerspieëls, in kasdeure, in onderklerelaaie, op jou televisie se remote. Die wêreld is ons oester, en ons moet die inspirasie oral om ons opnuut waar maak.

Ag, toe nou! Word ’n aanhalingversamelaar. Want of jy nou die “woorde van wysheid” oordink soos Sebastian, of die “stof tot nadenke” verorber soos Benjamin … als is goed en wel.