Oor geluk

Geluk is nie in goed en goud en genoeg nie.

Odyn lag met ‘n breë glimlag, hy is bly om my te sien. “Where have you been? I haven’t seen you for a long time”. Vrolikheid straal uit Odyn se gesig. Wat weet hy van geluk af? Hoe kan hy so breed glimlag as hy trollies stoot? Ek dink nie ek glimlag meer so baie nie want die doen-van-die-lewe kry my onder. Net nou die dag loop ek verby die spieël en ek skrik. Behalwe vir my grys hare, trek my mondhoeke darem baie af. En dit lyk of daar ‘n paar ekstra plooie op my voorkop bygekom het. Ek voel kwaai.

Op 20 Maart vier ons internasionale Happiness Day wat reeds sedert 2012 deur die Verenigde Nasies verklaar is as amptelike ‘geluk dag’. Hoekom sou ‘n mens só ‘n dag vier? Happiness day. Happiness – the state of being happy.

Ek het aan die einde van verlede jaar eers bewus geraak van al die navorsing rondom geluk, toe my kinders vir my “The little book of Lykka”, uitgespreek Luu-kah (n): Happiness, vir Kersfees koop. Die boekie laat my glimlag, dis so mooi. Ek dink dit is wat die kinders wou gehad het.

Meik Wiking die hoof uitvoerende beampte van die Happiness Institute in Denemarke maak dié pragtige boekie vol met navorsing en idees oor hoe ons geluk kan bevorder. Hy sê daar is twee soorte geluk: Om nou op hierdie oomblik gelukkig te wees, of om oor die algemeen gelukkig te wees. Verder gee hy interessante statistiek soos bv. dat 89,5% Suid-Afrikaners glo hulle kan in tye van nood op vriende staatmaak terwyl 98,6% Nieu-Seelanders dieselfde glo. Die inwonders van Helsinki in Finland het weer groot vertroue in hulle medemens omdat elf uit elke twaalf verlore beursies terugbesorg word aan die eienaars en die inwoners van Lissabon in Portugal minder vertroue met net een uit elke twaalf verlore beursies wat teruggegee word. Suid-Afrika word glad nie genoem in die beursie navorsing nie. Volgens Meik se statistiek is dit dan ook dinge soos, om te voel jy behoort, emosionele en fisies gesondheid, omgee en vriendelikheid teenoor ander, vertroue in ander, en om herinneringe en ervaringe te koop in plaas van goed,` wat ons regtig gelukkig maak. Regdeur die boekie beskryf hy geluk as ‘n keuse, iets wat van binne af kom.

So nou wonder ek oor Odyn. Die trollie stoter by Checkers. Hy is van die Kongo. Hy huur ‘n kamer oorkant die stasie. Hy bly dáár omdat dit nie veilig in die Township is nie. Hy het Suid-Afrika toe gekom vir nuwe geleenthede en hoop. Hy kon nie ander werk kry nie en maak nou trollies bymekaar by Checkers. Sy hele familie is nog in die Kongo. Hy kan nie gaan kuier nie want die vliegtuigkaartjie is te duur. Maar hy lag wyd elke keer as hy my sien. Iets binne-in hom maak dat hy lag. Hy kies dit.

Is geluk binne-in my? Ek dink so, ek moet dit net afstof en ophou dink dat goed en goud en genoeg nodig is om gelukkig te wees.

Ek wens ek kan vir Odyn ‘n vliegtuigkaartjie koop sodat hy vir sy familie kan gaan kuier. Want hý verdien dit, hy leef geluk.

Vorige artikelKan dié huwelik gered word?
Volgende artikelWaar ‘n wil is, is daar ‘n weg…
Blogger - Liesl Cronje
Liesl is 'n lewens-en besigheids coach vir vrouens en glo dat elke vrou 'n baie spesiale storie het. “Ek vertel stories oor die lewe, vanuit 'n ander hoek. My besighede, Thyme2B & Thyme Events is geïnspireer deur my liefde vir kruie en veral Tiemie. Tiemie beteken courage en die oorspronklike betekenis daarvan is, om die storie van wie jy is met jou hele hart te vertel. Daarom leer ek graag ander vrouens hoe om hulle stories te omvou en met hulle hele hart te vertel.” Liesl is getroud met Pierre en het drie jong volwasse kinders. Liesl en haar dogter Lische is ook die skeppers van LiLiBeth stories en sketse. Kyk by thyme2b.co.za en thymeevents.co.za vir meer blogs en Instagram: @thyme_2b, @lili_cronje en @lilibeth_cronje.