Oor grootword

Vandag is haar laaste dag. Sy tel al vir die afgelope maand af. ‘n Kykie in die grootmenswêreld, net so verby.

As deel van my meisiekind se studies moet sy by twee geleenthede in drie jaar vir ses maande lank in die industrie werk. ‘n Praktiese leerskool en hierdie was die eerste.

Die eerste keer dat sy ver van die huis af bly, op haar eie. Die eerste keer dat sy alleen gebruik maak van vervoerstelsels in die Stad.  Die eerste keer dat sy self moet kos koop.  Die eerste keer dat sy haar eie etes moet beplan en maak.  Die eerste keer dat sy haar eie roetine bepaal, haar eie salaris verdien,  haar eie begroting bestuur.  Die eerste keer dat sy woonstelhuur betaal en dat sy die gevoel verstaan as kosgeld op is voor die einde van die maand.

Die eerste keer dat ek van ‘n afstand af moet kyk hoe sy grootword, hoe sy leer van die lewe, hoe sy haar man staan, hoe sy wonder of sy die regte beroep gekies het. Die eerste keer dat ek nie kan help nie, al wil ek.  Die eerste keer dat ek weet sy is groot, al wil ek nie.

Ek sien ‘n jong vrou, met selfvetroue, met ‘n visie en met deursettingsvermoë.  Wat weet dat sy kan lag en huil in moeilike tye en wat verstaan dat die wys daarvan baie dapper is.  Ek sien ‘n jong vrou wat verdraagsaam is en lief is vir ander, al kry sy dit nie terug nie.  En ek sien in haar kleur en klank en kuns en karakter.

Ek sien ook ‘n Pa en ‘n Ma wat verstom is oor die grootword van kinders en wat dankbaar is vir die voorreg om hulle te kan hê.

En ek sien jou poppie.  Ek weet jy sal eendag jou eie boutique hotel hê.

Op ‘n plek wat mooi is en goed is vir jou siel.

En vir ander s’n, soos myne.