Oor hoop

Deesdae bak my man vir ons brood. Gemeng van ‘n selfgemaakte suurdeegplantjie en wat rys vir twee dae lank.

Dit is elke keer spesiaal en ek wonder wat dit is in die proe van varsgebakte brood, olyfolie en goeie wyn wat ons laat voel asof dit ‘n geskenk is net vir ons.

En dan gooi hy die laaste bietjie olyfolie uit en die mooi prentjie verander toe hy sê:  “Ek wens ons olie het nooit opgeraak nie”, en ek wonder oor die weduwee se kruik en hoe sy gevoel het toe sy die kruik tilt en daar nog olie in is en nog en nog.

Miskien lyk my ‘nog’, anders as wat ek dink. Want elke dag kan ek nog eet en kuier saam met my gesin en ek kan vroeg oggend gaan draf en tee drink in die son saam met my kat, net omdat ek van die huis af werk.  Ek het nog gesondheid, nog vriende, nog petrol vir my kar, nog natreën voor die winkel. Nog voëls in my tuin en nog kinders by wie ek leer. Nog koffie in die middag en nog idees vir ‘n nuwe storie.  Nog boeke om te lees en nog projekte om aan te pak.  Nog liefde, omgee, vreugde en nog geloof.

Ek dink ons seën raak nie op nie, net ons hoop.  En dit is toe die vars gebakte broodjie, wyn en nóg olyfolie op die tafel staan, dat ek onthou hoe God in Joël* sê:  “Ek stuur ‘n present.  Graan en wyn en olyfolie”.  En ek is dankbaar, want ek proe dit nog die hele tyd, ek het nog altyd hoop.

*Joël 2:19 – The Message vertaling.

Vorige artikelDié steeksheid kom ‘n langpad
Volgende artikelLuister
Blogger - Liesl Cronje
Liesl is 'n lewens-en besigheids coach vir vrouens en glo dat elke vrou 'n baie spesiale storie het. “Ek vertel stories oor die lewe, vanuit 'n ander hoek. My besighede, Thyme2B & Thyme Events is geïnspireer deur my liefde vir kruie en veral Tiemie. Tiemie beteken courage en die oorspronklike betekenis daarvan is, om die storie van wie jy is met jou hele hart te vertel. Daarom leer ek graag ander vrouens hoe om hulle stories te omvou en met hulle hele hart te vertel.” Liesl is getroud met Pierre en het drie jong volwasse kinders. Kyk ook by www.thyme2b.co.za vir meer blogs en Instagram: @thyme_2b.