Oor inspirasie

Hulle sê ‘n mens het inspirasie nodig om te kan skryf, of wel, eintlik sê ek so.

En as ‘n mens dan die inspirasie het en uiteindelik sover kom om wel te skryf, dan wil jy ten minste hê dat dié wat die moeite doen om jou skryfwerk te lees, ook geïnspireerd sal voel.  Vir twee weke al sukkel ek om ‘n blog te skryf.  Eerstens omdat my lewe te volgeprop is met werk en die-doen-van-die-lewe en tweedens, omdat ek ongeïnspireerd voel en die verantwoordelik net te groot is om ander ook nog te inspireer.

Vriende nooi ons na ‘n vertoning van Bottomless Coffee.  Pragtige musiek, uitstaande talent, unieke energieke verhoogpersoonlikhede, ‘n tasbare gevoel van liefde tussen die twee op die verhoog en dit saam met ‘n pragtige sonsondergang in die Oude Libertas Teater in Stellenbosch.  Ek voel opgewonde.   Die perfekte resep vir inspirasie.

Maar toe kom inspirasie onverwags van‘n ander plek af.   In die ry reg voor my, net so twee sitplekke skuins na links, sit ‘n ouma en ‘n oupa, so in hulle sewentigs, met ‘n ry kleinkinders langs hulle, almal jong volwassenes.  Spierwit koppe langs jongmens koppe, skouers teenmekaar, die mooiste prentjie.  Ouma het sjokalade gekoop, die heel grootste ‘slabs’ van Aero en KitKat.  En soos dit opraak stuur sy nog aan so met die ry langs totdat almal genoeg gehad het.  Ek is nie seker of die twee gryskoppe se musiek heeltemal só uniek geklink het toe hulle jonk was nie (net ‘n aanname), maar dit lyk asof hulle dit net soveel soos die kleinkinders geniet.  Na die tyd wag elke kleinkind baie geduldig vir Ouma en Oupa om stadig met die trappies af te beweeg en saam-saam stap hulle al geselsend die naglug in.

Ek dink Ouma het die kaartjies gekoop en die kleinkinders genooi maar dalk was dit andersom.  Hoe dit ook al sy, ek is dankbaar hulle was daar, want ek is geïnspireer:  Om eendag kleinkind lyfies te nooi om by ons te kom kuier sodat hulle steeds sal kom as hulle grootmens-lywe het.  Om te oefen sodat ek baie musiek teaters se trappies maklik en vinnig, op en af saam met hierdie kleinkinders kan klim.  Om by te bly met al die nuutste musiek genres sodat die jonges saam met my en Oupa konserte sal wil bywoon.  Om te weet van ITunes en SoundCloud en Skype en Zoom en YouTube en Vimeo en wat ookal nog mag kom.  Om geheime feetjiepaadjies te bou wat kleinkinders kan verstom, om nuwe staproetes saam met hulle te ontdek,   om saam in ‘n tent te lê en skaduwee stories te skryf teen die tentflap.  Om herinneringe te vertel van toe ek nog kon tango en lidtekens te kan wys van rotsklim-‘ongelukke’  van toe ek saam met Oupa ‘moes’  klim. Om hulle harte te ken en hulle passies en waardes te verstaan.  Om ervaringe met hulle te deel en om net lief te wees vir hulle, al lyk en dink hulle vreemd.

Ek kyk vir oulaas oor my skouer na die rooi persiese matjie op die Bottomless Coffee verhoog.   Ek gaan spaar vir so ‘n matjie vir my sitkamer, sodat my kleinkinders dié herinnering aan inspirasie eendag kan erf.

Vorige artikelLewe voluit, vol kleur!
Volgende artikelGroei jy? Blom ek?
Blogger - Liesl Cronje
Liesl is 'n lewens-en besigheids coach vir vrouens en glo dat elke vrou 'n baie spesiale storie het. “Ek vertel stories oor die lewe, vanuit 'n ander hoek. My besighede, Thyme2B & Thyme Events is geïnspireer deur my liefde vir kruie en veral Tiemie. Tiemie beteken courage en die oorspronklike betekenis daarvan is, om die storie van wie jy is met jou hele hart te vertel. Daarom leer ek graag ander vrouens hoe om hulle stories te omvou en met hulle hele hart te vertel.” Liesl is getroud met Pierre en het drie jong volwasse kinders. Liesl en haar dogter Lische is ook die skeppers van LiLiBeth stories en sketse. Kyk by thyme2b.co.za en thymeevents.co.za vir meer blogs en Instagram: @thyme_2b, @lili_cronje en @lilibeth_cronje.