Oor JAAG JAAG JAAG

0
26
natasha_sutherland.jpg

Vandag is ek op pad na ’n begrafnis. Ek het die oorledene nie goed geken nie, behalwe dat hy ’n groot, sagmoedige gees gehad het, maar sy dogter is ’n vriendin wat elke keer aan my sy was as ek seergekry het.

Derhalwe trek ek my gepas aan en stap uit in die sonskyn met my swart stewels, my hare op waardige wyse agtertoe gekam. My polshorlosie wys dat ek effens laat is … Ek spring in my motor. Jaag Jaag Jaag

Intussen is daar êrens ’n weduwee wat huil.

Die motor se brandstoftenk is feitlik leeg, met die wyster wat net bo die gaan-staan-op-die-snelweg-merkie huiwer. Ek swenk by ’n vulstasie in en smeek vir vinnige diens terwyl ek by die winkel instorm om ’n bottel water te koop. Jaag Jaag Jaag

Intussen is daar êrens ’n seun wat huil.

Langs die pad bring die 2010-padwerke ons tot stilstand, sodat die string motors soos ’n ruspe van glansende metaal lyk. Ons sit in ons motors en vloek saggies en kyk in frustrasie na mekaar. Mense laat vir vergaderings, vir ete-afsprake, vir ooievaarstees. Jaag Jaag Jaag

Intussen is daar êrens ’n dogter wat huil.

Toe ons by die padwerke verby is, besef ek dat ek miskien nog betyds vir die diens gaan wees as ek voet in die hoek sit en net-net aan die verkeerde kant van die spoedgrens ry. My swart stewel trap die pedaal versigtig in en ek ignoreer die berispende stemmetjie van Veiligheid en Etiek in my kop. Jaag Jaag Jaag

Intussen is daar êrens ’n suster wat huil.

Net toe ek dink dat ek goed op pad is, kom die verkeer weereens plotseling en sonder verskoning tot stilstand. ’n Tenkwa het êrens omgeslaan en die motorruspe verander in ’n groot, vet slak wat nie in die geringste mate kan beweeg nie. Die stoom styg op uit die strate, uit die enjinkappe van die motors en uit die mense se kokende gemoedere. Jaag Jaag Jaag

Intussen is daar êrens ’n beste vriendin wat huil.

Uiteindelik begin die slak opbreek en ons stroom almal vorentoe. Ek kom by die afdraaipad en gly met die straat langs op die uitkyk vir ’n kerk wat ek nie ken nie. Ek ry verby winkels, voetgangers, ’n vulstasie en ’n tronk. Maar geen kerkgebou nie. Ek bel my vriend, wat reeds daar is, en hy sê ek moet omdraai. Ek het verbygery! Hoe is dit moontlik? Ek ry met skreeuende bande terug. Jaag Jaag Jaag

Intussen is daar êrens ’n kleinkind wat huil.

Ek ry so vinnig dat ek amper nie my vriend sien wat vir my beduie om stil te hou nie. Hy dra ’n hemp wat by my stewels pas en ek onthou skielik hoekom ek hier is. Ek val omtrent uit die motor en draf-draf om betyds vir die diens te wees. Jaag Jaag Jaag

Ek stap in die skemer koelte van die heilige plek in. Dit is stil, behalwe vir die sagte woorde uit die hart van ’n geliefde wat by die kansel staan en vertel van ’n lewe wat voluit geleef is. Die mense is stil. Grys en swart en sagte blou klee die liggame wat geboë in hartseer eerbied sit. Hier en daar glinster ’n traan oor ’n wang. En die proteas in die blommerangskikking skitter in sierlike statigheid.

Dood is smart verby wanhoop. Dood is gemoedsverstompend bitter. Dood is ewige stilte. Dood verlangsaam ons pas … maak ons stil.

Daar is geen gejaag hier nie. Net ’n trae, droewige ssssjjjj …