Oor klaarmaak

Partykeer wens ek dat alles wat nie lekker is nie kan klaarkry.  Ek wens vir geen bekommernisse, geen swaarkry, geen negatiwiteit, geen twyfel nie.

‘n Wyse vriendien sê:  “Jy’t dit gedoen ja, maar is jy klaar daarmee”?  Ek weet nie.  Wanneer is ‘n mens klaar met iets wat swaar is en hoe weet jy jy hoef dit nie weer te doen nie?  Om met sekerheid te kan sê: “Been there, done that” is nogal ‘n groot verantwoordelikheid.  Want dit impliseer dat jy sekere ondervinding opgedoen het en nou met gesag oor die onderwerp kan praat..

Soms hou moeilike tye vir langer aan as wat ons dit wil hê en ons dink dat ons genoeg lesse geleer het en dat ons ‘n nuwe seisoen verdien.   En dan haak ons vas by hierdie gevoel van verdien.  Hoe verdien ‘n mens ‘n nuwe seisoen, beter tye, hoop en rus?

Ek vra vir die Here:  “Wanneer is dit klaar?  Wanneer begin die verdienste van ‘n nuwe begin”?  En Hy sê:  “Jou leertyd is lankal verby maar dit is jý wat nie wil oorgee nie.  Jy plaas jou sekerheid in eie vermoëns, in jou bankrekening, in dit wat ander mense vir jou doen”.  Dit is so, moet ek erken.  Ek weet alles daarvan.  En ek weet ook ek kan niks verdien nie, want dit om my is reeds genade wat God gee, net omdat Hy wil.

So, ek is nou reg vir klaarmaak.  En klaar met self probeer.  Ek gee oor.  Want Hy sê hy wil alles wat vir my moeilik is lig maak en vry en Hy wil vir my teruggee wat ek verloor het, as ‘n dubbel bonus. *

*Mattheus 11:28 en Sagaria 9:11

Vorige artikelDie goue jy
Volgende artikelPraat maar
Blogger - Liesl Cronje
Liesl is 'n lewens-en besigheids coach vir vrouens en glo dat elke vrou 'n baie spesiale storie het. “Ek vertel stories oor die lewe, vanuit 'n ander hoek. My besighede, Thyme2B & Thyme Events is geïnspireer deur my liefde vir kruie en veral Tiemie. Tiemie beteken courage en die oorspronklike betekenis daarvan is, om die storie van wie jy is met jou hele hart te vertel. Daarom leer ek graag ander vrouens hoe om hulle stories te omvou en met hulle hele hart te vertel.” Liesl is getroud met Pierre en het drie jong volwasse kinders. Kyk ook by www.thyme2b.co.za vir meer blogs en Instagram: @thyme_2b.