Oor lees en teaze

0
23
natasha_sutherland.jpg

Net nou die dag nog was Seb, daardie pragtige klein bondeltjie van my en mnr. Y, ’n pienk babatjie wat gekoer het om te wys hy is nuuskierig, gekraai het om ons te laat weet hy is gelukkig en blou moord geskree het om ons te laat verstaan hy is (selfs net ’n bietjie) omgekrap.

Nou pas Seb al byna onder my arm in en hy kan lees. HY KAN LEES!

Ek het nog altyd groot genot geput uit boeke, letterkunde en die geskrewe woord. Ek is so mal oor die patroon wat die lettervorms maak dat ek oral in ons huis woorde opgehang het … vrede, vreugde, geduld, liefde!

Dus is die feit dat my seun besig is om die wêreld van lees met ’n verbete ywer te absorbeer, vir my verskriklik opwindend. Die besef van wat die uitwerking daarvan op sy lewe is, het my skielik getref, al was die pad tot daar een van stap-tot-stap-ontwikkeling. In Graad 0 het ons gesien hoe hy deur sy THRASS-kaart werk. In Graad 1 is ek aan “Alfabetland” in al sy kleurryke glorie bekendgestel. Ek en Ben het saam met hom geleer. Van Annie Apple tot Munching Mike, van Dippy Duck tot Sammi Snake. Dit voel vir my of ek hierdie karakters persoonlik ken.

Toe het hy begin leer hoe om al hierdie pragtige juweelletters aanmekaar te las om woorde te vorm. Daarna is die woorde in sinne ingeryg soos halssnoere … en toe het die sinne skatkiste vol betekenis en stories geword. Watter vreugde!

Hy is so betower deur hierdie nuwe “mag” dat hy alles probeer lees waarop sy oë val. Ek kom op hom af waar hy op die mat sit met 1 001 boeke oop rondom hom … blaai lukraak deur elkeen … lees hardop vir homself … spreek die woorde uit met gevoelsuitdrukking en verwondering … toegespin in sy selfingenomenheid omdat hy vir homself ’n storie kan vertel … effens verontrus en totaal verstom oor sy nuutgevonde gawe.

Waar ons ook al ry, lees hy die woorde op mure, geboue en padtekens. Om kruideniersware te gaan koop het in ’n literere ontdekkingstog verander; enige woord wat op die TV-skerm verskyn, word op toegeslaan en hardop uitgespreek. Dis so mooi om na hom te kyk. Ek is verbyster deur sy aptyt om te groei en sy geleerdheid te vergroot. Hy spreek alte trots alles hardop uit!

Toe ons dus nou die dag huis toe ry, het ek my asem ingetrek toe ek ’n “sekere voertuig” naby die ingang tot ons erf geparkeer sien staan. Jy sien, dit het in ons straat gegons oor die aankoms van ’n nuwe inwoner. ’n Vooraanstaande entrepreneur in die “kuns van volwasse vermaak” is besig om in te trek, en die baie gewone huis wat hy gekoop het, is ingeval deur bouers en vakmanne wat dit in ’n paleis omskep. Die ingang is die ene groen Ferrari’s, AMG’s en Dodge Vipers. Maar op daardie dag staan daar ’n bakkie teen die sypaadjie met die woorde, “The Teaze without the Sleaze”, langs die kant geverf. Ek krimp ineen toe Seb die woorde een vir een sorgvuldig begin uitspreek. Wat ’n tyd vir hom om sy nuwe vaardigheid te oefen!

Soos met alles in die lewe, kom kennis teen ’n prys. Ek veronderstel dit is onmoontlik om bewus en ingelig te wees sonder om ’n wêreld te betree waar onskuld verder en verder agtergelaat word namate insig en begrip toeneem. Dit is onvermydelik. Maar soos hierdie kosbare vaardigheid in Sebastian groei, sien ek hoe my seun van ’n ruimte-skepping-feëwêreld-baba in ’n aardse vlees-en-bloed-seunman verander.

Dis mooi … en ’n bietjie treurig.

Dis … bittersoet.