Oor leuens en kinders

0
38
natasha_sutherland.jpg

Is dit reg om vir jou kinders te jok oor dinge soos feetjies, superhelde, Kersvader en paashasies? Dit kan hul immers verward maak en oor ander dinge laat twyfel. Hier is die waarheid oor leuens!

Benjamin het ’n rukkie gelede sy eerste tand gewissel. Hy was baie opgewonde omdat hy in die verlede menige môre wakker geword het en gesien het hoe sy boetie se tand deur die Geheimsinnige Tandemuis weggehaal is – en veral hoe daar ’n kosbare skat in kontant in die tand se plek gelos is.

Nou was dit sy beurt. Hy het met groot sorg die tand in sy pantoffeltjie gesit … en vir die wis en die onwis ’n klein stukkie kaas daarby.

Maar iets verskrikliks het gebeur. Die Geheimsinnige Tandemuis het nie gekom nie! (Die waarheid is dat haar aandag totaal in beslag geneem is deur ’n uiters boeiende episode van Survivor en ’n berg administratiewe take.)

Die volgende môre het ’n baie bekaf Benjamin by my kamer ingekom, met sy boetie op sy hakke. Hy het die pantoffel in sy hand vasgeklem, met die jammerlike stukkie kaas en ewe jammerlike tandjie nog net so daarin.

Ek het soos die slegste ma op aarde gevoel.

“Hoekom het hy nie gekom nie?” het Ben gehuil. “Ons het dan tot die stukkie kaas vir hom gelos.”

Partykeer verstom ek myself met my vermoë om vinnig te dink. Ek gryp my selfoon en skakel die Geheimsinnige Tandemuis se kliëntediensnommer terwyl die seuns my staan en dophou.

“Goeiemôre,” sê ek toe die denkbeeldige muisstem antwoord. “Ek het ’n baie ernstige probleem. Niemand het laasnag my seun se wisseltand kom haal nie … Benjamin Geoffrey Hofmeyr … Ja, ja, ons hét dit in ’n pantoffel gesit … O, regtig? Goed, baie dankie. Ons sal so maak.”

Die seuns se oë is so groot soos pierings. “Wat sê hulle, Mamma?” wil hulle weet.

“Julle sal dit nie glo nie, maar die Geheimsinnige Tandemuis wás laasnag in jou kamer, maar toe het Sara en Stoffel daar ingesluip. Hy het so geskrik vir die katte dat hy dadelik gemaak het dat hy wegkom, en dis hoekom alles vanmôre nog hier is.”

Die seuns gaap my oopmond aan. “Ooo, ek sien,” sê Benjamin.

“Ons moet vanaand die katte toesluit sodat die Tandemuis nie weer bang hoef te wees nie,” sê Seb.

Ek was ontsaglik verlig. Ek het Ben gered van ’n leeftyd se terapie as gevolg van verwerping deur ’n muis met ’n tande-obsessie! Die arme katte is dié aand uit die kamer verban en die Tandemuis het ’n skouselagtige besoek gebring, kompleet met ’n ekskuus-briefie vir Benjamin, en natuurlik ’n lekker groot geldnoot. En hy het die kaas geëet. (Emmenthal is immers sy gunsteling!)

Ons vertel leuens vir ons kinders. Met stories oor feetjies, superhelde, Kersvader en paashasies. Ons jok vir ons kinders en draai Kersgeskenke in die donker met behulp van ’n flitslig toe; ons staan met dagbreek op om sjokolade-eiers in die tuin weg te steek; en af en toe maak ons noodoproepe na Geheimsinnige Ondernemings in ’n poging om ons ouerlike glipsies te verdoesel!

Ons vertel leuens vir ons kinders, maar ter verdediging … hulle word só gou groot. Te gou kom hulle agter wat die werklikheid is. Te gou raak hulle sinies as gevolg van die ongeheimsinnigheid van die wêreld. Daarom speel ek met graagte die rol van medepligtige aan kamma-kamma solank ek nog kan. En tot die dag dat my kinders my sméék om dit nie meer te doen nie, sal ek kouse laat ophang vir Kersvader en stukkies kaas in pantoffels los vir geheimsinnige muise.

’n Paar dae gelede het Benjamin sy tweede tand gewissel. Dié aand het hy in die bed geklim, na sy volgepakte pantoffel gekyk en vir my gefluister: “Mamma moenie vergeet om die katte toe te sluit nie.”

En met ’n tevrede glimlaggie aan die slaap geraak.