Oor Lulu

Liewe Lulu.  Ek mis jou.  Jou snoetmerke sit nog teen die venster waar jy gewag het by die voordeur as ons huis toe kom.

Ek weet nie wanneer ek dit sal skoonmaak nie.  Ek mis jou laggroet en jou nies omdat jy skaam is dat jy lag.  Ek mis dit om oor jou lap speelding te val in die middel van die vloer en ek mis dit om al jou spierwit hondehare uit die kombuis uit te vee.

Die eekhorings dink dis vakansie, hulle loop rustig hier rond in die tuin en knibbel aan alles wat eetbaar is.  Die vullislorrie, fietse en om-die-blok-stappers beweeg sonder haas.  Niemand jaag hulle nie.  Ek dink die bure mis jou ook, jy gaan groet nie meer nie en stap ook nie meer saam met hulle dam toe nie.

Snaaks hoe ek jou gesnorkery, gekrappery en geblaffery mis.  Alles tekens van lewe.  Ek laat val ‘n stukkie brood, dit bly net daar lê, want jy snoep nie meer nie.

Ons het vir jou begrafnis gehou.  Ek dink jy sou die konsternasie en ons histeriese gegiggel  interessant gevind het, toe die verdroogde roosboom wat ek  nooit uitgehaal het nie aan een van die manne se moue vashaak toe hy jou graffie toegooi.  Die boom het wortel en al uitgekom, so asof hy wou plek maak vir jou groot persoonlikheid en jou deurmekaar pels.  Ons wou regtig nie lag nie, maar ons kon nie anders nie.  Jy weet mos hoe moeilik dit is om ernstig te bly as jy wil lag.  En jy weet mos ek is glad nie goed daarmee nie.

Ons het gebid en dankie gesê dat jy deel  was van ons huishouding .  Vir jou liefde en speel en lag en vir jou  wag as ons weg is vir ‘n naweek.  Ek het vars Jasmyn op jou graffie gesit.  Onthou jy jy’t so baie van dit gehou, jou snoet altyd binne-in die bos gedruk.  Die blomme is nou spierwit en alles ruik soet.

Lulu, die son skyn vandag helder op ons kamermat, reg op jou plekkie. Ons beddens en al die los kussings daarop is mooi skoon, ook die op die sitkamerbank.  Ek het ook vandag die laaste hondepakkies wat jy op die grasperk gelos het opgetel en bietjie stilgestaan by die  voëltjiebad waar jy water gedrink het.  Ons loop nog steeds versigtig oor die gras, net vir ingeval ons in iets trap.  Net sodat jy weet, ons was nie regtig vies as ons skoene moes skoonmaak nie, ons het geweet jy is hier en dat jy lewe.

Liewe Lulu.  Ons mis jou.

Ek dink ons sal môre jou leiband bêre.

Vorige artikelOsso bucco
Volgende artikelBlink oë
Blogger - Liesl Cronje
Liesl is 'n lewens-en besigheids coach vir vrouens en glo dat elke vrou 'n baie spesiale storie het. “Ek vertel stories oor die lewe, vanuit 'n ander hoek. My besighede, Thyme2B & Thyme Events is geïnspireer deur my liefde vir kruie en veral Tiemie. Tiemie beteken courage en die oorspronklike betekenis daarvan is, om die storie van wie jy is met jou hele hart te vertel. Daarom leer ek graag ander vrouens hoe om hulle stories te omvou en met hulle hele hart te vertel.” Liesl is getroud met Pierre en het drie jong volwasse kinders. Kyk ook by www.thyme2b.co.za vir meer blogs en Instagram: @thyme_2b.