Oor ‘n dooie-doring-bessie-boom

Die voëls kwetter vrolik tussen die sade in die klein voëlhuisie wat hang aan my dooie-doring-bessie-boom.

Ek onthou ‘n oomblik, bietjie meer as drie jaar terug, toe mý vrolikheid verdwyn het.  Toe ek toegelaat het dat my vreugde gesteel word.  Ek kan nog presies onthou waar ek gestaan het, wat ek gedoen het en wat ek gesê het toe dit gebeur het.  En nou, bietjie meer as drie jaar later, besluit ek om dit terug te vat.  Dit is myne.   My vreugde is myne.

Hoe interessant toe ‘n vriend my toe hierdie week ‘n boek in die hand stop.  “The book of JOY” *1  sê dit buite op die hardeband.  Hoe kon hy geweet het dat ek in proses is om my vreugde terug te neem?  Die sprekers in die boek deel agt pilare van vreugde uit hulle eie lewens, naamlik:  perspektief, nederigheid, humor, aanvaarding, vergewensgesindheid, diep dankbaarheid, deernis en vrygewigheid.

En ek verstaan nou beter, want dit het my drie jaar geneem om dinge wat in en rondom my gebeur, in perspektief te sien.  Realiteite soos geen of min werk het my nederig gemaak, die speelsheid van my kat en my kinders se stories het my weer laat lag.  Die bewustheid dat genoeg water nie ‘n reg is nie en dat my tuin wel sal doodgaan as dit nie water kry nie, leer my steeds van aanvaarding.  Die besef dat ander en God my vergewe, laat my vergewe.  Die liefde in gesinwees sonder baie goed of geld, laat my verstaan van dankbaarheid.  ‘n Trolliestoter by Checkers wat opreg bekommerd is dat ek moeg lyk leer my van deernis.  En naby vriende se gee sonder om terug te verwag leer my steeds van vrygewigheid.

Toe ek dus vanoggend voor my dooie-doring-bessie-boom sit met my sketspen in my nié-skryfhand (soos wat die Brian Draper lydenstyd *2 refleksie vra), weet ek:

al dra my doringbessieboom
nie meer bessies of blare nie
nogtans sal ek sing
vir die Here

want dit is Hy wat my diep vreugde gee.

*1 The Book of JOY – Dalai Lama and Desmond Tutu

*2 briandraper.org