Oor ‘n kampkombuis

Ek deel graag my kampkombuis want dit hou my jonk.  Ons gaan elke Desember Sederberge toe vir ‘n redelike aktiewe kort vakansie.

Dit sluit stap, rotsklim, swem, braai, hangmat lê en kuier in. Ons drie kinders gaan saam, en wie ookal nog wil kom.  Ek voel onseker.  Gewoonlik is daar ook ‘n paar mense van ‘ons ouderdom’ in die groep, maar hierdie jaar is dit net ek en my man, en ‘n jongklomp.  Almal in hul twintigs en ons, wel, baie ouer. Altesaam vier-en-twintig van ons onder die bome by Nuwerust. Orals staan klein een-en tweeman tentjies rond, net met basiese benodighede.  En klein sedan karretjies – hoe het hulle met die pas opgekom?

Ek hou daarvan om met die jonges te kuier.  Hulle is energiek, het baie interessante nuwe idees, vebreed my horisonne met rasse skrede, en  laat my lag.  Baie lag.  Maar nou is dit net ons, en hulle.  En miskien dink hulle hierdie jaar ek is te oud vir saamkuier.  Sommer met die intrapslag raak my twyfel groter, want my man word op sy naam genoem, maar ek is tannie.  Ek voel effe verontwaardig, ek is immers jónger as hy en het nog altyd gedink ek lýk ook jonger!  Ek twyfel al hoe meer.  Ek dink hulle sien my grys hare.  En my nie-meer-so-ferm lyf.  En miskien die sakkies onder my oë.  En ek dink hulle sien my man se ‘rotsklim arms’, en sy ‘six-pack’.  Daarom is hy een van hulle en daarom het hy ‘n naam.  In my enigheid weet ek hy steek die sakkies onder sy oë weg agter brilglase maar nou weet ek ook grys hare langs die slape en in ‘n baard gee blykaar nie ‘n man se ouderdom weg nie.  Gmpf …

En toe slaan ons die kampkombuis op.  ‘n Nederige donkerblou gazebo versier met kersliggies wat my man in die geheim ingepak het sodat kamp vir my lekkerder is. Twee tafels, ‘n twee plaat gasstofie, ‘n piepklein yskas en ‘n paar ekstra stoele.  Ons maak koffie, smeer broodjies en steek ‘n vuurtjie aan.  En die kuier begin.  Almal kuier in en om die kampkombuis, oor vyf dae se kamp.  Vroeg-oggend is daar slaapstemme wat kom koffie soek en ‘n tafel om padkos te pak vir in die berge en laataand is daar wakker lywe wat die dag se uitdagende klim avonture herleef tussen braai broodjies smeer op my tafels.  Daar is filosowe en realiste,  musikante en akrobate.  Engels en Afrikaans, en selfs ‘n bietjie Spaans.  Daar is vreemde eetgerei en speserye op my tafels en interessante geregte en drinkgoed in my yskas.  Ek voel glad nie oud nie.  Ek kuier en lag en maak my hare vas na agertoe sodat ál my grys hare uitsteek.

Een van die heel lekkerste Sederberge vakansie nog?  Beslis!  Dis toe nie jonges en oues nie maar sommer net ons, wat kuier in die kampkombuis.  Ek dink ek hoor my naam sonder tannie vooraan toe ons groet, maar ek gee nie meer om nie.  Ek deel graag my kampkombuis, dit hou my jonk.

Vorige artikelJesus maak die storm stil
Volgende artikelJy Lag Net Soos Jou Pa
Blogger - Liesl Cronje
Liesl is 'n lewens-en besigheids coach vir vrouens en glo dat elke vrou 'n baie spesiale storie het. “Ek vertel stories oor die lewe, vanuit 'n ander hoek. My besighede, Thyme2B & Thyme Events is geïnspireer deur my liefde vir kruie en veral Tiemie. Tiemie beteken courage en die oorspronklike betekenis daarvan is, om die storie van wie jy is met jou hele hart te vertel. Daarom leer ek graag ander vrouens hoe om hulle stories te omvou en met hulle hele hart te vertel.” Liesl is getroud met Pierre en het drie jong volwasse kinders. Kyk ook by www.thyme.co.za vir meer blogs en Instagram: @thyme_2b.