Oor ‘n kroon vir die nuwe jaar

Ek wil ‘n vol heel mens wees hierdie jaar, net soos God dit van die begin af vir my beplan het, ‘n Ester koningin.

Verlede jaar herinner ‘n vriendin my aan haar.*1  Ek het vergeet hoe mooi Ester was en hoe dapper en slim en ek is dankbaar dat ek haar weer kon raaklees.  Dat sy mooi aangetrek het en haarself goed versorg het, dat sy die durf gehad het om in ‘n belangrike persoon se ontvangskamer in te gaan en met selfvertroue te praat en dat sy haar mense om haar in ag geneem het.  Dat sy glad nie gedink het dat sy alles alleen kan doen nie en dat sy God volkome vertrou het, gevra het vir Sy hulp en geglo het dat Hy uiteindelik heers oor alle planne wat ons en ander mense maak.

So, hierdie jaar gaan ek elke dag iets aantrek wat my mooi laat voel, al werk ek net by die huis.  Ek gaan lekkerruik room aan my lyf smeer en my hare vassteek met ‘n spesiale knippie. Ek gaan oorbelle dra en lipstiffie, al gaan ek net Checkers toe en ek gaan my toonnaels rooi verf, vir selfvertroue.

Ek gaan ophou om gebuk deur die lewe te gaan, beswaard deur alles wat vir my te moeilik is, ek gaan my ken optel en die wêreld vierkantig in die oë kyk.   Ek gaan verkennende afsprake maak om nuwe inligting te kry oor die beroepswêreld, en ek gaan nie bang wees om te praat met al die belangrike persone wat belangrike werke doen nie.  Ek gaan ‘n bydrae maak wanneer ek kan, en ophou wonder of dit wat ek te sê het van waarde is. Ek gaan opstaan vir dinge wat nie reg is nie en ek gaan praat as ek nie saamstem nie.

Ek gaan God deurentyd vra vir baie wysheid en ek gaan vrymoedig wees om na ander uit te reik uit my eie kwesbaarheid. Ek gaan my gesin en my familie opnuut waardeer en spesiale tyd vir elkeen maak, sodat ons nóg kosbare stories kan versamel vir weer en weer vertel.

Hierdie jaar wil ek voluit lewe, net soos God dit van die begin af vir my beplan het, ‘n Ester koningin.  En wie weet, miskien is ook jý juis gekroon vir ‘n tyd net soos hierdie. *2

Vorige artikelOnvoorwaardelike liefde
Volgende artikelWat Is Die Bron Van Jou Geluk
Blogger - Liesl Cronje
Liesl is 'n lewens-en besigheids coach vir vrouens en glo dat elke vrou 'n baie spesiale storie het. “Ek vertel stories oor die lewe, vanuit 'n ander hoek. My besighede, Thyme2B & Thyme Events is geïnspireer deur my liefde vir kruie en veral Tiemie. Tiemie beteken courage en die oorspronklike betekenis daarvan is, om die storie van wie jy is met jou hele hart te vertel. Daarom leer ek graag ander vrouens hoe om hulle stories te omvou en met hulle hele hart te vertel.” Liesl is getroud met Pierre en het drie jong volwasse kinders. Kyk ook by www.thyme2b.co.za vir meer blogs en Instagram: @thyme_2b.