Oor ‘n nuwe tent

Ek is lus vir oor begin, nuut, van vooraf.

Ek is onseker of dit is omdat ek nou baie naby is aan daardie gevreesde middeljarige ouderdom en of dit net is omdat my lewe te vol is met goed en onnodighede en bekommernisse.  Ek soek ‘n klein huisie op ‘n stil plek met net die nodigste besittings, waar ek kan wees en rus en nuut dink en asemhaal.

Net nou die dag lees ek dat ek die tent waarin ek bly nog groter moet maak. Nog meer seile moet span. Die tenttoue nog langer moet maak en die tentpenne nóg verder weg moet inkap. Ek weet die ‘tent’ is nie my huis nie, want my huis voel reeds te groot en te vol.  So wat is dit dan?  Hoe maak ek groter en kleiner op een slag?  ‘n Vriendin verduidelik dit so:  “Jy moet tentpenne inslaan verder as wat jy ooit sal dink dit is moontlik.  Buite jou verwysingsraamwerk, verder as in jou grootste drome”.

Ek weet van tent opslaan.  As jy nie mooi kyk waar en hoe jy opslaan nie, kan allerande dinge jou pla.  Die voordeur van jou tent kan op die verkeerde plek oopmaak, die wind of die son kan lastig wees, die res van die gesin se tente kan dalk nie inpas op dieselfde kampplek nie, of vreemde mense kan onseremonieel deur jou klein ruimte stap, net omdat jy nie jou gebied behoorlik afbaken met jou tent nie.  Dan is daar ook nog kampbuurmanne se geluide wat in ag geneem moet word en braaivleisrook wat verkeerd kan trek.  ‘n Mens moet deeglik kyk waar en hoe jy tent opslaan anders kan kamp ‘n uitdaging wees.

So as ek nou binne-in my grootste droom tentpenne inslaan, dan bly ek in ‘n kothuis met ‘n houtdek op ‘n sandduin, met die see wat ‘n paar honderd meter verder blou lê.  Ek bly elke dag daar, nie net vir ‘n wegbreek naweek nie.  Ek ruik die see en voel die wind en hoor die voëls.  Daar is net ‘n bietjie goed in my huis.  Soos my gunsteling blou koppies, my ouma se teestel en my man se ge-‘chipte’ koffiebeker met die rooi etiket wat sê:  “Tommy’s coffee brand”.  My skilderye en miskien my een sitkamerbank.  ‘n Groót bed, dalk twee mooi stoele, een los mat.  My boeke.  My penne en my joernaal.  My hangstoel vir die stoep.  Bietjie kombuisware.  Min klere wat ek elke seisoen kan vervang. Sagte handoeke.  Hoogstens drie pare skoene.  Fotos.  Mooi wynglase. ‘n Klein tafeltjie met vier stoele vir om die tafel eet.  Ekstra tafelbankies vir kuiergaste.  Goeie kos en wyn.  En musiek.

My voordeur en my stoep is op die regte plek.  Ek en my man sit laataand buite en draf vroegoggend op die strand.  My kinders kom kuier en vriende en miskien vreemdelinge ook.  Die enigste ‘geraas’ is die see.  Die son skyn en die wind waai, maar dis OK want dis ‘n herinnering aan die seisoen waarin ek is.  Daar groei tiemie en laventel in kleipotte op my stoep en fynbos en duineplante kom self op om my huisie. Lulu-hond en Karel Kat lê  saam-saam op die stoep en nou en dan vee ek vir hulle ‘n skoon plekkie oop as die sand te veel raak.

Ek hoor:  “Clear lots of ground for your tents!  Make your tents large. Spread out! Think big!  Use plenty of rope, drive the tent pegs deep”.*

Ek is reg vir ‘n nuwe ‘tent’, ‘n nuwe begin, op ‘n nuwe plek.  Met min goed.

*Jesaja 54: 1-6

Foto:  janecoslick.blogspot.com

Vorige artikelDoen dit eerder nou as later!
Volgende artikelJenna-Leigh Bilong
Blogger - Liesl Cronje
Liesl is 'n lewens-en besigheids coach vir vrouens en glo dat elke vrou 'n baie spesiale storie het. “Ek vertel stories oor die lewe, vanuit 'n ander hoek. My besighede, Thyme2B & Thyme Events is geïnspireer deur my liefde vir kruie en veral Tiemie. Tiemie beteken courage en die oorspronklike betekenis daarvan is, om die storie van wie jy is met jou hele hart te vertel. Daarom leer ek graag ander vrouens hoe om hulle stories te omvou en met hulle hele hart te vertel.” Liesl is getroud met Pierre en het drie jong volwasse kinders. Kyk ook by www.thyme.co.za vir meer blogs en Instagram: @thyme_2b.