Oor ‘n nuwejaarsrok

oujaar

Oujaarsoggend stuur my meisiekind vir my ‘n foto van haar: “Kyk die mooi rokkie wat ek aanhet” sê sy, “want ‘n mens moet die ou jaar uit en die nuwe jaar in met ‘n mooi rok aan.”

Sy vra: “Hoe lyk Mamma vandag?” Ek stuur vir haar ‘n foto van myself waar ek kaalvoet by die strandkafeetjie langs die see sit. Ontspanne, met my gunsteling strandrok aan. Kaalvoet sit is nou belangrik, want niemand weet hoe lank dié rustige gevoel sal hou as die nuwe jaar met al sy eise en verantwoordelikhede weer aan die deur kom klop nie.

Haar boodskap laat my toe dink aan wat Prediker sê, dat ons elke oggend feestelik moet aantrek en nie moet vergeet om serpe en kleur as deel van ons uitrustings te dra nie. Hy sê dat ‘n nuwe dag ‘n present is van God vir al ons harde werk, en dat ons elke dag moet doen wat ons hand vind om te doen*. Ek dink hy het geweet dat kleur en sagte materiaal teen ons vel ons beter laat voel oor werk waarvoor ons nie lus is nie.

My voorneme is dus om hierdie jaar elke dag mooi aan te trek, of ten minste mooi oorbelle aan te sit of ‘n knippie in my hare te steek. Ek gaan nie bekommerd wees oor te min of te veel werk nie, want ek gaan elke dag ‘n ‘nuwejaarsrok’ van hoop en moed en rustigheid aantrek, en dan doen wat my hand vind om te doen.

Oujaarsaand trek ek toe mooi aan en steek ‘n knippie in my hare, want ‘n mens kan nie die oujaar uit en die nuwe jaar in, sonder ‘n mooi rok aan nie.

*Prediker 9:8-9. The Message vertaling. “Dress festively every morning. Don’t skimp on colours and scarves … Each day is God’s gift. It’s all you get in exchange for the hard work of staying alive. Make the most of each one!”

*Illustrasie: ‘n LiLiBeth skets deur Lische Cronje.

Vorige artikelOm méér vir mense om te gee
Volgende artikel“Vasgevang in Knysna se doodsvlamme”
Blogger - Liesl Cronje
Liesl is 'n lewens-en besigheids coach vir vrouens en glo dat elke vrou 'n baie spesiale storie het. “Ek vertel stories oor die lewe, vanuit 'n ander hoek. My besighede, Thyme2B & Thyme Events is geïnspireer deur my liefde vir kruie en veral Tiemie. Tiemie beteken courage en die oorspronklike betekenis daarvan is, om die storie van wie jy is met jou hele hart te vertel. Daarom leer ek graag ander vrouens hoe om hulle stories te omvou en met hulle hele hart te vertel.” Liesl is getroud met Pierre en het drie jong volwasse kinders. Liesl en haar dogter Lische is ook die skeppers van LiLiBeth stories en sketse. Kyk by thyme2b.co.za en thymeevents.co.za vir meer blogs en Instagram: @thyme_2b, @lili_cronje en @lilibeth_cronje.