Oor ’n seënwens

blomme

Ek wou nog altyd ‘n bloemiste wees. En hoe lekker dan om een maal per jaar by die kerk basaar se vars blomme stalletjie te kan werk en oefen daarvoor.

Hierdie jaar was my hart egter verdeel tussen twee plekke, my en my dogter se eie joernaalboek tafel, en die blomme stalletjie. Ek wil eweveel by albei wees en uiteindelik is ek ewe min by albei. By die blomme is my gedagtes by die boeke, en as ek by die boeke is, dan dink ek aan die blomme.  Uiteindelik is al wat oorbly ‘n mismoedigheid oor my gebrek aan tyd – wat heeltemal aan kwaliteit ontbreek – by albei stalletjies.

Totdat my dogter my vertel van al die seëninge wat sy toegewens is by ons boeketafel. Dat ons baie boeke sal verkoop, dat ons nóg mense se lewens sal aanraak met ons stories en sketse. Dat ons ma-en-dogter verhouding geseën sal wees in ons saamwerkprojek, dat ons nuwe terreine sal betree met ons idees, en dat ons Godgegewe kreatiwiteit net meer en meer sal groei.

En met al hierdie seëninge warm in my hart, maak ek ‘n vinnige laaste draai by die blomme tafel. Alles is uitverkoop en amper alles opgeruim. Hier en daar lê hopies verdwaalde blomstele. Agter die tafel staan een emmer met ‘n groot ruiker in.

‘n Bestelling, vroeg-oggend al betaal. Die eienaar kom dit nou-nou haal. Dit is vol lelies en rose en ‘n groot wit Koningsprotea.  Ek buk af om die los stele op die vloer bymekaar te maak, en toe ek opkyk staan sy voor my.

‘n Donkerkop dogtertjie, so vyf jaar oud, met plomp rooi wangetjies en ‘n tien rand in die hand. “Ek wil daardie blomme koop” sê sy terwyl sy na die bestelling wys.  “Dis mooi nê”, sê ek. “Ja”, sê sy “ek gaan sulke blomme hê as ek trou”. Sy sit plat op die vloer langs my toe ons al die oorbly-blomstele in een groot dogtertjie bruilofsruiker bymekaarmaak en met ‘n pienk lint vasdraai. “Dit kos niks”, sê ek, “net ‘n drukkie”. En toe sy wegstap spreek ek mý seënwens oor haar uit.

Dat sy ‘n spesiale huwelik sal hê, vol liefde, omgee, vertroue en respek, dat sy altyd so onskuldig sal bly, ongeskaad, heel, volledig vrou in God se beeld geskape.  En dat sy eendag ‘n groot bruilofsruiker teen haar hart sal druk, vol van lelies, rose, en een groot spierwit Koningsprotea.

*Illustrasie – Lische Cronje

Vorige artikelOm te volg, is ons lewe
Volgende artikelBepalings en voorwaardes geld!
Blogger - Liesl Cronje
Liesl is 'n lewens-en besigheids coach vir vrouens en glo dat elke vrou 'n baie spesiale storie het. “Ek vertel stories oor die lewe, vanuit 'n ander hoek. My besighede, Thyme2B & Thyme Events is geïnspireer deur my liefde vir kruie en veral Tiemie. Tiemie beteken courage en die oorspronklike betekenis daarvan is, om die storie van wie jy is met jou hele hart te vertel. Daarom leer ek graag ander vrouens hoe om hulle stories te omvou en met hulle hele hart te vertel.” Liesl is getroud met Pierre en het drie jong volwasse kinders. Kyk ook by www.thyme2b.co.za vir meer blogs en Instagram: @thyme_2b.