Oor nuwe mense ontmoet

0
57
natasha_sutherland.jpg

My dag gister was soos ’n uittreksel uit ’n Bridget Jones-dagboek, en ek het dit so geskryf. 92.4% van dit het regtig gebeur – met my alterego, Roxy Sydenham. Jy kan besluit watter dele is waar, en wat nie!

Sondag, 07:00 Ek word wakker, besonder senuweeagtig. Is seker die hele ondeunde spul Sex in the Suburbs ma’s wil my vandag in ’n lokval inlei. Onskuldige braai my voet! Ek’s seker hulle het ’n paar stukke hubare testosteroon ook genooi.

Het nou net vir die eerste keer in die spieël gekyk. Jig! Hoe kan ek enigsins dink dié verskynsel kan slank en verruklik en sjarmant wees? Eerder pap, degerig en dig! “Bly kalm, Roxy,” sê ek vir myself. “Jy is ’n slank supervrou met ’n sprankelende persoonlikheid en mooierige borste! Alles sal oukei wees. Jy gaan Princess Grant se deftige huis superstylvol binneseil, en die siel van die braai wees.”

08:00 Ek het aangebied om my ongelooflike cambrieni met vrugte, neute en gekarameliseerde suiker te bring. Dit lyk altyd stylvol, en sal wys ek is nie sommer enige ou huisvroutjie nie.

13:05 Ag tog! Kyk net hoe laat is dit al! Ek is ’n hopelose beplanner. Het geen vroulike deugde nie. “Ruk jouself reg, Roxy … jy is superbekwaam, en jy gaan betyds wees en fantasties lyk. Kom nou net aan die gang! Karameliseer die suiker, pak die beskuitjies uit, trek aan, ry, ‘hallo almal!’ Geen probleem nie!”

13:08 Kan nie die dekselse suiker kry nie!

13:10 Het die dekselse suiker gekry en verhit. Moet nou die beskuitjies op die bord uitpak.

13:15 Kan nie die dekselse beskuitjies kry nie

13:20 Pak die beskuitjies uit. Iemand moes die boks laat val het, want alles is gebreek. Hoe doen restaurante dit?! Hulle goed lyk altyd soos kunswerke. Aggenee! Die suiker brand! Gedag alle vroue het die ingeboude vermoë om te multitask … Het God dan ’n afdag gehad toe Hy my gemaak het?

[pagebreak]

13:25 Goed! Die beskuitjies lyk redelik. Die suiker is reg om uitgegooi te word. Moet net wag dat dit taai word sodat ek dit in sulke goue stringetjies kan trek om bo-op te sit. Ek gaan voorwaar lyk soos ’n meestersjef wat die wonderlikste goed moeiteloos kan optower! Dit moet net afkoel … Aaauuu! Idioot! Ek het aan die kokende warm suiker gevat! Aaauuu! Pyn en nogmaals pyn. Dan maar liewer geboorte skenk! Dan maar liewer hardlywigheid! Hierdie pyn is regtig nie vir … Oh, ys help. Ys is wonderlik! Aah … Baie beter. Sal maar net moet aankarring met hierdie yslike blaas op my duim … Nog net ’n paar stringetjies en … aaauuu! Sowaar van die kokende warm suiker op my toon laat val! Aaauuu! Nog erger as die duim! Nog ’n blaas! Pyn, ongelooflike pyn! “Dis net pyn, Roxy, net pyn. Jy kan dit beheer. Jy kan bo die pyn uitstyg. Hou net aan beweeg!”

13:35 Oukei. Die cambrieni is gedoen. Sal net gou in iets verrukliks inglip, en – voilà! Wat gaan ek aantrek? Nie te suggestief nie. Dis ’n braai. Gemaklik. Gemaklik, maar elegant. Elegant, maar vroulik. Vroulik, maar anders. Anders, maar effe bedees. Effe bedees, maar… Ag, hemel tog! Ek is terug by suggestief.

13:45 Aggenee! Het al vyf uitrustings aangehad. Lyk óf soos ’n mollige ruspe óf soos ’n bejaarde gesellin.

13:46 Nou net ’n oproep van Zenda gehad. Waar is ek? Almal is al daar en dood van die honger. Oukei, oukei. Kan nog steeds die superstylvolle, slanke, verruklike en sjarmante ding doen. Sal miskien surerig begroet word en ’n paar grommende mae hoor as ek daar aankom, maar dis oukei. As hulle my fantastiese cambrieni en elegante self sien, vergewe hulle my dadelik. Ek is ’n elegante diva, ’n sprankelende wese, ek … ag, deksels! Ek het alweer van my toon vergeet, en ek het sandale aan! Ek lyk soos ’n Azkaban-gevangene met ’n yslike heksagtige vrat op my regtergroottoon! Ek lyk warm, sweterig en taai in my hippie romp, met smeltende cambrieni, verkrummelde beskuitjies en twee groot karbonkels – een op my duim en een op my toon! Ag tog, laat daar seblief nie enige hubare testosteroon daar wees nie. Asseblief!

14:25 Deksels! Hier is hubare testosteroon! Gaan nie alkohol drink nie. Sal absoluut niks behalwe water drink nie. Sal heelmiddag aan ’n waterbottel suig en slank, vol selfvertroue, helder van verstand, in beheer en dinamies wees. Sal ferm nee sê vir enige drank.

14:40 Het ’n groot glas sjampanje in die hand! Sal aan die ander kant van die vertrek gaan sit, so ver moontlik weg van die hubare testosteroon. Hou my voete onder my ingevou sodat niemand die reusevulkaan op my toon kan sien nie. Sal soet glimlag en op my duim sit om nie die mense te laat gril nie. Sal elegant hier sit, en met groot passie en intelligensie praat oor … oor … uhm, goeters.

[pagebreak]

15:30 Wonderlik. Als gaan goed. Knibbel nou aan Zenda se beroemde dop-ertjieslaai.

Hubare Testosteroon No 1 drentel langsaam nader. “Haai,” sê hy terloops, en hou sy linkerhand uit. Ek moet sy hand met my linkerhand skud. Ek doen dit. Aaauuu! Hy skud my hand en druk die blaas op my duim so hard dat ek seker is my senuwee-eindpunte toyi-toyi. Maar ek knip nie ’n oog nie. Ek lag hard – te hard, vermoed ek, want Hubare Testosteroon No 1 lyk ’n bietjie verskrik en systap my. Sit daar iewers ’n stuk dop-ertjie in my tande vas? Ek dink ek het nog ’n glas sjampanje nodig!

16:00 Hubare testosteroon Nr 2 stap nader. Regtig oulik. Bedroom eyes. Maar ons praat oor ernstige goed soos die lewe, liefde en Barack Obama. Dink nog steeds nie ek is reg hiervoor nie. Kom ons doen my toets. Probeer my voorstel hoe hy soen, en kyk of daar elektrisiteit teen my rug afhardloop. Dit werk soos ’n bom. Maar terwyl hy nog so oor Puccini of Tosca praat, stop hy ewe skielik in die middel van sy sin en kyk ongemaklik na my. En ek besef ewe skielik ek sit en staar oopmond na hom. Ek dink ek het nog ’n glas sjampanje nodig!

16:35 Hubare Testosteroon Nr 2 ish oulik. Ek geniet myshelf baie! Die kosh wash heerlik.  Voel vol. Weet nie hoe ek nog van my eie fab cambrieni ook gaan eet nie. Wonder wanneer gaan prinses Grant dit dan nou uitbring? Ek het ge-shuffer vir daai meesterstuk! Hubare Testosteroon skud my hand. Hy’t die duim gemis. Hy dink ek’s wonderlik. Moet wees oor ek so slank en sjarmant oorkom. Mishkien is hy die een, wie weet?

Aaauuu! Die simpel Great Dane het nou net hier verbygestorm en op my seer toon getrap. Nou is die toon … nou ja, bloederig! Op prinses Grant se mat ..! Ai! Tyd om huis toe te gaan! Baie dankie vir allesh! Ek sal volgende keer onthou twee glase vonkelwyn is my limiet!

Die volgende dag

SMS van Roxy aan Princess Grant: “Hi Princess G. Dankie vir die wonderlike middag. Kos heerlik. Geselskap fantasties. Uhm … jammer oor die bloedkol op die mat.”

SMS terug van Princess Grant aan Roxy Sydenham: “ Hi Rox. Geen probleem. Lekker om jou hier te hê. Vlek het mooi uitgekom. Luister, jammer maar na al jou moeite het ons vergeet om die cambrieni te bedien. Wil jy hier aankom en dit optel?”

SMS van Roxy aan Princess Grant: “Dis ok. Jy kan dit maar in die asblik gooi. Geen probleem!”