Oor nuwe perspektief

Die advertensiebord sê:  “A new perspective.  Relook your everyday”.

Ek soek in die woordeboek na sinonieme vir ‘elke dag’ en kry die volgende:  Gewoon, tipies, bekend, standaard, nie-noemenswaardig en unexceptional soos die engelse vertaling dit sommer reguit sê.

Ek dink oor my tipiese elke dag.  Voëls wat vroegoggend sing, die bure se hond wat huil omdat hy alleen by die huis moet bly.  E-posse antwoord, daaglikse werkstake, huistake, gesinstake.  Sonskyn, wind, blou lug, asem.  Genoeg van dieselfde dinge elke dag om die lewe bekend, standaard  en unexceptional te maak.

Maar toe kom Karel Kat, ‘n nuwe aankomeling in ons huis.  Net vier weke oud.  Hy staan skaars 10cm hoog en verken die huis met onverskrokke treë en baie persoonlikheid.  Speelgoed kan enige-iets wees.   Blaartjies, krummels, die hond se stert, ‘n toon, nie die ander kat se stert nie.  Slaapplek kan enige plek wees, in ‘n broekspyp op die grond, tussen twee kussings.  Liewer nie in die katsandbak nie, op my skoot, in ‘n skoen.  Sý elke dag verloop min of meer so:  “Wat kan ek hiermee maak?  Dis nat, wat’s op my poot!” Skud skud skud.  “Wat ruik so?  Kos!”  Eet eet eet.   “Ting ting ting,  sy sê ek moet ophou om oor haar keybord te loop.  ‘n Opgerolde stukkie tou?  Vreemd”.  Staan stil, hop hop  vorentoe, staan stil, hop hop weer.  “Wat is dit?” Kap kap, kap, “sy sê dis skaduwees en son.  Son slaap lekker”.  Krom rug, hol rug, “sy lyk nie soos ek as sy oefeninge doen nie”.  Orals is te klein om te verken.  Die hele dag is te kort om alles te leer.

Ek wonder hoe sal mý dag wees as ek kyk soos Karel Kat?  Ek dink ek sal meer dink oor nou en minder bekommerd wees oor later.  Meer lag, meer dans, meer waag, baie meer speel.  Diep asemhaal.  Slaap. Naby die mense sit vir wie ek lief is.

Babakatjies en advertensieborde help mens anders kyk ja.  Uitsonderlik, met nuwe perspektief.

Vorige artikelHoender met mango-koeskoes
Volgende artikelOor Vaaltyn, cowboys en ‘n moedelose Lucille
Blogger - Liesl Cronje
Liesl is 'n lewens-en besigheids coach vir vrouens en glo dat elke vrou 'n baie spesiale storie het. “Ek vertel stories oor die lewe, vanuit 'n ander hoek. My besighede, Thyme2B & Thyme Events is geïnspireer deur my liefde vir kruie en veral Tiemie. Tiemie beteken courage en die oorspronklike betekenis daarvan is, om die storie van wie jy is met jou hele hart te vertel. Daarom leer ek graag ander vrouens hoe om hulle stories te omvou en met hulle hele hart te vertel.” Liesl is getroud met Pierre en het drie jong volwasse kinders. Liesl en haar dogter Lische is ook die skeppers van LiLiBeth stories en sketse. Kyk by thyme2b.co.za en thymeevents.co.za vir meer blogs en Instagram: @thyme_2b, @lili_cronje en @lilibeth_cronje.