Oor olie

Ek gooi ‘n bietjie olyfolie in ‘n klein bakkie.  Dis ‘n mooi bakkie, want ek hou van mooi breekware.

En boonop maak dit die ervaring van olyfolie proe meer spesiaal as dit mooi ook lyk.  Ek proe die sagtheid op my tong, effens warm.  Bietjie bitter, bietjie brand in my keel.  ‘n Teken van jong olywe? Nuwe olie?

Miskien ‘n teken van my lewe.  Soms is die lewe sag, dan gaan alles goed.  Dinge val in plek en werk reg uit.  Geen bekommernisse, geen spyt, geen teleurstelling nie.  Soms is die lewe warm, maar ‘n goeie warm, ‘n veilige warm, vriendelik en liefdevol.  En dan soms gebeur dinge wat die lewe bitter maak en jou keel laat brand van trane.  Wat jou laat twyfel in jou eie waarde en in mense en miskien in God se liefde.

Maar toe kyk ek mooi na die bakkie waarin die olie lê.  En reg rondom die bakkie staan fyn geskryf:  ‘You have ravished my heart’.  * ‘n Hooglied vers.  En in die middel sien ek God se hart, vir my, wat stoei met die bitter van die lewe en die brand in my keel.  En ek hoor Hy sê:  “Proe dit weer.  Die bitter is eintlik soet want Ek is lief vir jou en Ek leer jou.  Die brand is eintlik sag, net ‘n geur van My teenwoordigheid rondom jou ‘jong’ lewe van vertrou nét in My plan.  En ja jy is reg, dit is nuut, want met joú lewe wil ek iets nuuts doen.

Jy het My hart gesteel, My Lief.

En dit is goed.

*Hooglied 2:9

Kleibakkie van Erin Williams – Houtbaai.

Vorige artikelTrap in jou leed
Volgende artikelMevrou Doeminie vra net niks
Blogger - Liesl Cronje
Liesl is 'n lewens-en besigheids coach vir vrouens en glo dat elke vrou 'n baie spesiale storie het. “Ek vertel stories oor die lewe, vanuit 'n ander hoek. My besighede, Thyme2B & Thyme Events is geïnspireer deur my liefde vir kruie en veral Tiemie. Tiemie beteken courage en die oorspronklike betekenis daarvan is, om die storie van wie jy is met jou hele hart te vertel. Daarom leer ek graag ander vrouens hoe om hulle stories te omvou en met hulle hele hart te vertel.” Liesl is getroud met Pierre en het drie jong volwasse kinders. Liesl en haar dogter Lische is ook die skeppers van LiLiBeth stories en sketse. Kyk by thyme2b.co.za en thymeevents.co.za vir meer blogs en Instagram: @thyme_2b, @lili_cronje en @lilibeth_cronje.