Oor oorvloed

Ek dink elke mens moet vir ‘n rukkie mínder hê sodat ons méér weer kan waardeer.

Minder water, minder goed, minder geld, minder liefde.  Iemand nooi my na ‘n tuin toe waar ek nog nooit was nie.   Dit kos niks om hier te loop nie.   En in die tuin word ek oorweldig met oorvloed.  ‘n Oorvloed van blomme, groen gras, soet geure.  ‘n Oorvloed van water en van mooi en omgee en versorg.

Ek soek ‘n plek in die tuin om stil te sit en terug te dink oor my jaar, maar ek kom nie tot stilstand nie, want orals lyk perfek.  Uiteindelik klim ek deur die plante van ‘n mooi versorgde bedding om op ‘n muurtjie te sit, onder ‘n prieel van nóg oorvloed.  Ek dink nie ek mag noodwendig hier sit nie, maar dit voel meer reg as al die ander plekke in die tuin.

Na ‘n rukkie stap die tuinier verby.  Flink en vinnig.  Sy sleutels rinkel aan sy belt.  Ek wonder wat hy alles daarmee kan oopsluit?  Miskien geheime kamers waarin al die oorvloed opgesluit is wat beplan is vir my lewe.  Hy lyk glad nie kwaai nie, hy sien ek het nie sy blomme raakgetrap nie.  Hy groet.  Dalk is hy die Lewenstuinier.

Ek sit baie stil.  Ek wag, maar is nie seker waarvoor nie.  En na ‘n rukkie sien ek dit.  ‘n Perfekte hartjie sonkol op die wit blad van my joernaal waarin ek dink.  Gestuur tussen die blare deur bokant my, net vir my.  Ek is toe nie alleen nie.  Ek kyk op, en sien weer die prieel, van wingerdblare, en pienk rankrose, en jasmyn en grenadella ranke, alles deurmekaar gegroei.  Wild, vry en oorvloedig uniek.  Alleen mooi maar saam pragtig.

En dis eers toe my tyd op is en ek wegstap en omkyk, dat ek die pienk roosblare van bo-af sien val, soos konfetti oor die bruidspore wat ek daar los.  Geurig, perfek en spesiaal uitgesoek om my te seën.  Met ‘n boodskap van die Tuinier, dat my dae van min oor is, dat Hy ál die skatkamers vir my lewe nou oopsluit, en dat Hy vir my en jou nét oorvloed beplan.   In oormaat.

*Foto uit die Schoongezicht tuin by Runstenberg landgoed – Stellenbosch.

Vorige artikelLiefde se tyd loop uit
Volgende artikelBye Pappa
Blogger - Liesl Cronje
Liesl is 'n lewens-en besigheids coach vir vrouens en glo dat elke vrou 'n baie spesiale storie het. “Ek vertel stories oor die lewe, vanuit 'n ander hoek. My besighede, Thyme2B & Thyme Events is geïnspireer deur my liefde vir kruie en veral Tiemie. Tiemie beteken courage en die oorspronklike betekenis daarvan is, om die storie van wie jy is met jou hele hart te vertel. Daarom leer ek graag ander vrouens hoe om hulle stories te omvou en met hulle hele hart te vertel.” Liesl is getroud met Pierre en het drie jong volwasse kinders. Liesl en haar dogter Lische is ook die skeppers van LiLiBeth stories en sketse. Kyk by thyme2b.co.za en thymeevents.co.za vir meer blogs en Instagram: @thyme_2b, @lili_cronje en @lilibeth_cronje.