Oor rolle

Deesdae is my seun die self-aangestelde resep soeker en bestandeel aankoper in ons huis.

Wat ‘n groot lekkerte as iemand my kos inkopies namens my doen en dan nog baie verantwoordelik daarby is met my geld.  Hy kies interessante bestandele – meestal sonder vleis, en maak dan die een geurige dis na die ander.  Ek is dankbaar.

Want vir my is dit baie lekkerder om by die kombuistafel te sit en kuier met almal om my, as om self die kos te maak.  Ek kan kosmaak, ek jok nie, maar ek geniet dit baie meer om ander mense se kos idees te probeer.  Vir lank het ek skuldig gevoel as ek nie die kos maak in die huis  nie, want dis mos my werk.  Ek is immers die ma. Tot ek begin wonder het wie dit is wat gesê het dat dit my taak is.  Na ‘n lang soektog kon ek nogsteeds nie die een vind wat al my opdragte uitdink nie, en ek begin beter voel oor dit wat ongedaan bly.

Wat my nou laat dink oor rolle.  Wie besluit ons moet die rol aanneem van huisskoonmaker, of wasgoedwasser, of tuinier.  Of vraagsteller in vergaderings of mentor of idee-uitdinker.  Of oefen-guru of professionele-tafelgebed-bidder.  Of grapjas of almal-verantwoordelik-houer.   Of dromer of realis of geen-prater of baie-prater.  Of werklose of werkgewer.  Of wantrouer of vertrouer.  Die waarheid is dat almal van ons meer as een rol het, op verskillende plekke.  By die huis is ek baas, maar by die werk is ek dalk Klaas.  Is jy jou rol of is jou rol jy?  Het jy die waagmoed om die rol op te neem wie jy regtig is?  Of kruip jy weg?

Ek ken self nie die antwoorde op al hierdie vrae nie.  En ek weet nie of ek lus voel om daaroor te dink nie.    Vir nou weet ek net, ek is tevrede met die rol van by-die-tafel-sitter-as-ander-kosmaak, en as ek genoeg moed bymekaar kan skraap, sal ek dalk oor ‘n paar jaar die rol van ‘n hippie aanneem met lang los hare en ‘n wye rok.

En dan sal ek almal in die omgewing nooi vir kuier, terwyl my seun kosmaak.

Vorige artikelSkuldige Plesiertjies…
Volgende artikelSê nee vir verkeerde skuld
Blogger - Liesl Cronje
Liesl is 'n lewens-en besigheids coach vir vrouens en glo dat elke vrou 'n baie spesiale storie het. “Ek vertel stories oor die lewe, vanuit 'n ander hoek. My besighede, Thyme2B & Thyme Events is geïnspireer deur my liefde vir kruie en veral Tiemie. Tiemie beteken courage en die oorspronklike betekenis daarvan is, om die storie van wie jy is met jou hele hart te vertel. Daarom leer ek graag ander vrouens hoe om hulle stories te omvou en met hulle hele hart te vertel.” Liesl is getroud met Pierre en het drie jong volwasse kinders. Kyk ook by www.thyme.co.za vir meer blogs en Instagram: @thyme_2b.