Oor Rose en Dorings

0
45
natasha_sutherland.jpg

Sommige mense kla oor die dorings aan rose. Ek is dankbaar vir rose aan die dorings. – Alphonse Karr

Daar is ’n roos na Mnr. Y vernoem. Dis gaaf. Ek weet nie presies wat die blom se naam is nie, maar dis seker nie Die Mnr. Y Roos nie? Heelwat rose is al na bekende mense vernoem … soos Bing Crosby. Cary Grant ook … en Pous John Paul II!

Die doop van rose interesseer my, wie kies die name? Dis soos om vir verf-  en lipstifkleure name te gee. Is dit ooit ’n regte werk, waarvoor iemand geld en mediese voordele kry? Indien wel – ek doen aansoek! Dink net die pret! Rose se name is gewoonlik sjarmant of parmantig, en gevoelvol. Duchesse, Angel Face, Blue Moon Rose, Iced Ginger, Magic Lantern. Chinese rose het die ongelooflikste name, soos: White Pearl in Red Dragon’s Mouth … proe jy dit?

Honderde jare gelede het die Oorlog van die Rose in Engeland uitgebreek. Die twee vegtende partye, het elk ’n ander roos as wapen gedra. En so het die wit roos, van die Huis van York, en die rooi roos, van die Huis van Lancaster, vir 32 jaar baklei. Nogal lank om ’n wrok te dra! Teen die einde van die oorlog het Henry II die twee roossimbole verenig in ’n pleidooi vir vrede: die Tudor Rose.

Maar ek dwaal af. Wat my aangeraak het tydens die vernoemingseremonie van Mnr. Y se roos, was dat hy die roos aan sy ma opgedra het. Gegewe die tipiese skoonma-rillers, kan jy ’n paar vreesaanjaende name uitdink. Soos Doodskake. Of Jy sal nooit goed genoeg wees nie. Wat van Jou sous het klonte in! Die lys is eindeloos. Tog, wat skoonma-grappies betref, het ek niks te vertelle nie. Want ek bid dat ons nie ons eie Oorlog van die Rose begin nie.

Een ding wat ek van my skoonma (mag ek haar nog so noem?) bewonder – sy is ’n leeuwyfie as dit by haar kinders kom. Sy spin in hulle guns, en brul om hulle te beskerm. Toegegee dat sy dalk nou in my koers grom … maar ek verstaan hoekom, en waar haar lojaliteit lê. Familie staan bymekaar. Dis dit. En ons moet dit daar laat. Op die ou einde, maak dit nie saak hoe die skuld toegedeel en rondgegooi word nie, ons weet dat albei families onder die oppervlak, pyn ervaar.

’n Egskeiding wond nie net die man, vrou en kinders nie. Die verlies en hartseer tref die hele familie. Want dit maak nie saak hoeveel ons van mekaar verskil nie, almal beleef die skade, die skeur … die leemte. My gunsteling swaer noem my steeds “sis” … en ek’s mal daaroor. Iemand het ’n ruk gelede vir Mnr. Y sleggesê by ’n geleentheid wat my suster bygewoon het. Sy het beswaar gemaak. Op ’n manier, sonder om daaroor te praat, is dit moontlik vir ons almal om ons eie Tudor Rose te pluk.

’n Paar maande gelede moes ek in Bloemfontein wees. Ek’t die seuns saamgevat, sodat hulle vir Ouma kan gaan kuier. Ek het my skoonma vir die eerste keer gesien vandat ek uitgetrek het. Dit was hartseer. Stil hartseer. Ons het gepraat … effentjies. “Dankie dat jy aanhou foto’s van die seuns stuur,” het sy totsiens gewaai. Met elegante sterkte, en teer melankolie. Ek het geglimlag. Bietjie té braaf, en my sonbril opgesit sodat die seuns nie my trane sien nie. Egskeiding is seer. Vir almal. Ek het ’n familie verloor. En dit pyn. Daar is bitterheid, hartseer en lyding. Maar meestal net hartseer. En as ek ooit ’n roos na my skoonma kan vernoem, sal dit eenvoudig wees … Lady C.