Beste baas, ek sit verlof in vir ‘n dag, miskien twee of dalk raak dit drie.
Ek dink ek het heelwat opgehoop oor die afgelope tyd en ek dink nie dit behoort ‘n probleem te wees om dit toe te staan nie. Jy moet net ja sê, want jy sê altyd nee.
Die hele verlof storie het begin met my trollie-stoot-vriend by Checkers wat weer rég verby my lag gekyk het. Hoe kry hy dit reg?
“How are you?” sê Odyn. En soos altyd sê ek: “I am well thank you Odyn, and you?” “I’m very good, but how ARE you?”, ek sug, Odyn kyk vandag weer te goed. “I’m tired”, sê ek. “But why are you tired?” vra hy. “Because I’m working too hard.” “But why are you working so hard, you should ask your boss for leave!” “I’m working for myself Odyn”, sê ek, “I’m the boss.”
En hy sê, “but then you should ask yourself for a day off!”
Ek wonder hoekom kon ek dit nie sien nie? Die eenvoud van’n dag af. Geen beplanning, geen leeswerk, geen mense, geen idees uitdink nie. Dit klink lekker.
Dit klink onbereikbaar.
‘n Dag af, sommer in die middel van die week. Wat sal ek doen? Plantjies plant en rondvroetel in die tuin. Kyk hoe die suikerbekkies soetstroop drink uit die wilde Jasmyn. Tee drink in die son en dink aan niks. Fliek. Dans. Stap langs die see al is dit koud. Luister na musiek. Loop in die veld en soek vir nuwe blomme. Draf in ‘n nat woud. Boeklees in die bed, as dit reën.
Maar wat van werk? Wat gaan gebeur as ek nie werk nie?
Veldblomme werk nie en kyk net hoe mooi is hulle. Voëls lyk of hulle dalk bietjie werk maar meestal sweef hulle rond, eet onder bome en bad in die oopte. Miskien sal my werk OK wees as ek rus. Miskien sal ék meer OK wees om te werk as ek rus. My baas moet net ja sê, vir ‘n dag af.
Woensdagoggend kry ek vir Odyn voor die winkel, “I’m on leave today”, sê ek, “no bags to carry, I’m just here for a few snacks and a nice magazine, I’m having picnic with me in my garden. My boss said it’s high time…”
Foto: Tumblr.com