Oor selfbejammering

0
25
natasha_sutherland.jpg

Soms moet jy buite jouself gaan soek om jou uit ʼn donker bui te kry. Onselfsugtigheid verbeter jou bui, want dit verhoog jou eiewaarde. En dít vermeerder geluk. Plus – om vir ander iets te gee, kry jou buite jouself en lei jou aandag af van jou eie probleme.

– Karen Salmansohn, The Bounce Back Book

Ag, arme ek! Wat ’n verskriklike jaar! Ek is so te na gekom, so geviktimiseer … En hier sit ek nou met my hare in my hande, my hart aan flarde van lemmetjiesdraad en die kneusplekke waar Mnr Y getrap het.

Ek het nou net gebad – al huilende tussen die Body Shop Cranberry -borrels terwyl ek in die oseaan in tuur. En nou nestel ek in my kraakvars Woolies-katoenpajamas. My hart is seer. Trane biggel teen my Anesi-gesmeerde wange af terwyl die branders minder as drie kilometer van ons spoggerig-beboomde eiendom af breek. Ek stoot die St Leger & Viney -strooikussings weg en sit terug om DSTV op ons massiewe LG-plasmaskerm te kyk – miskien is daar iets op die kassie wat my aandag van my probleme kan aflei.

Ek maak my Redken-versorgde hare in ’n poniestert vas, vee ’n kolletjie MAC-maskara onder my oog weg en tik ’n  bietjie Salley Hansen Moisturising Lip Plumper aan my bewende lippe. Ek ruik vaagweg na Issey Miyake … en ellende.

Hoe gaan ek deur hierdie hel kom? Hoe gaan ek van die een pynlike oomblik tot die volgende oorleef? Ek prop ’n romerige Ferrero Rocher in my mond. Ek mag mos in sulke tye trooskos eet! Ek gryp die afstandbeheer en begin deur die kanale blaai. My Sony Ericsson biep a SMS deur – nóg ’n ondersteunende boodskap van nóg ’n vriendin wat omgee.

A, wonderlik … American Idols … Ek is ’n selferkende reality TV -slet en ek weet ’n goeie skoot daarvan sal my gebroke hart nou die wêreld se goed doen … Ag néé! Dis nie die gewone Pop Idol nie, maar American Idol Cares. ’n Klomp selfvoldane celebs van regoor die wêreld wat geld bedel. My Pilates-gebreide agterstewe kriewel ongemaklik … maar ek sak gou weer terug in my eie tragedie en besluit om die program te kyk.

Daar is Annie Lennox in een of ander gehuggie in Afrika, in ’n klein hutjie saam met ’n honger 14-jarige seun en sy drie honger boeties. Hulle het pas hulle ouers aan Vigs verloor. Hulle is nou wesies, sonder enige familie – uitgelewer aan ’n ongenaakbare wêreld.

[pagebreak]

Die ouer seun is stil en stoïes. Daar is geen lewe in sy oë nie, behalwe vir ’n verwilderde trek so elke nou en dan. Hy dra ’n masker. Annie sê hy probeer hard om nie sy kwesbaarheid te wys nie, sodat sy jonger broers kan voel hulle het iets om aan vas te hou. Hier is ’n seun wat probeer sterk wees as alles om hom inmekaar tuimel. Hier is ’n seun wat ewe skielik ’n man moet wees, heeltemal voortydig. Hier is ’n seun … 

Die Ferrero Rocher word bitter in my mond. My raak naar van my eie selfbejammering.

Hier is ’n seun. En hier is ek, ’n 37-jarige vrou. As ’n 14-jarige in ’n primitiewe hut dit kan maak, sonder enige ondersteuning, omring van vrees … dan kan ek dit mos ook maak.

Ek weet ’n mens kan nie emosionele pyn met sosio-ekonomiese instrumente meet nie. En “haves” het mos net soveel reg as “have-nots” om hartseer te ervaar. My pyn is werklik. Dit is hélseer. Ek voel gebroke, vuisvoos, verwilderd, by tye histeries,  verlore, wantrouig en onseker. Ek lyk oud. My vel is grys … asof elke bloedliggaampie in my lyf sy eie bagasie met hom saamsleep deur my bloedstroom. En dis maar net die begin … hiervandaan beweeg ek aan na selfvermaning, woede en ongeloof … totdat ek myself hopelik uiteindelik op die pad van genesing sal bevind. Dis nie ’n maklike pad wat ek vir myself gekies het nie, en ek betree die platform versigtig – ek wil nie die rol van skurk óf slagoffer speel nie.

Skiet iemand, en hy bloei. Maak nie saak of hy in ’n paleis of ’n pondok bly nie – hy sal rooi druppels hemoglobien bloei. Pyn is universeel. Máár … ek het daardie aand ’n waardevolle wake-up call gekry. My selfbejammering was voorheen so intens dat ek blind was vir my baie seëninge. Ek was so opgeneem in my eie ellende dat ek nie ander se pyn raakgesien het nie – soos die vrees van ’n seun in ’n hut met die dood op sy drumpel.

Ongelukkig vind ons die donker kant van die lewe nie net in koerante of in veraf wêreldgebeure nie. Nee, dit staan ook voor jou eie deur. Terwyl ek so verswelg was deur my eie persoonlike sepie, is ’n vriendin van my vir twee ure lank in ’n kamer opgesluit en met ’n hamer aangerand. Nog een het haar tweede miskraam in ’n jaar gehad. Nog een se ma het kanker gekry.

Maar mý hartseer het ’n lewe van sy eie begin kry, en ek weet nie mooi waar pyn oorgaan in drama nie. My drama het my perspektief begin aantas, en ’n mens het perspektief nodig as jy nie heeltemal selfbehep wil raak nie.

[pagebreak]

So, om te ontsnap uit hierdie vreemde grys landskap waarin ek begin verdwaal het, gaan soek ek die teenoorgestelde van selfbejammering in die woordeboek op: dankbaarheid. So ’n mooi woord. Dankbaarheid. Om dankbaar te wees: die gereedheid om waardering te betoon. Wat my opval in hierdie definisie is dat die klem nie val op dit waarvoor jy dank en waardering het nie, maar eerder op die aksie: “om dankbaar te wees”; “gereedheid om waardering te betoon”.

So word hierdie “gereedheid” my geheime wapen – my swaar en skild, glimmend in die maanlig, oorgehaal om op my kermende selfbejammering neer te kom. ’n Kreun en ’n tjank? Ek verslaan dit met die herinnering van drakevuur daardie wintersoggend saam met Ben. My bewende, pruilende mond verdwyn as ek Lala se waansinnige roomys-en-balsamiese asyn-nagereg van die ander aand onthou. Ek het ’n tong, ek kon dit proe. Ek het nog voete, ek kan dans. My siel is nog heel, ek kan dig. Ek het nog vingers, ek kan ’n rug kielie. My hart klop nog – ek kan lag, liefhê en huil. My gereedheid is ’n soete droom – ’n instrument om die drama te temper sodat ek deur die rêrige pyn kan begin werk. Net soos geluk, word rou in die wiele gery deur selfbejammering. Wees gereed om jou dankbaarheid te wys. Dit is die geheim van genesing.

Ek waardéér die oorvloed in my lewe. En net om hierdie dinge raak te sien, lig my gemoed, anker my geloof en gee my hoop. En jy moet die brokkies lig in jou lewe kan raaksien, en dit ook aan ander kan bring.

Oral om ons is daar lyding. So plant ’n boom, herwin jou afval, bou ’n muur, bak ’n koek, glimlag vir die vrou by die straathoek, groet die sekuriteitswag, sus ’n baba, raak aan ’n oumens se hand. Gee vir ander mense ‘n rede om in hulle dankbaarheidsjoernaal te skryf.

Hartseer is ’n gelykmaker, en ’n tikkie nederigheid maak ’n gebroke ego gou stil, al is dit net vir die duur van ’n realiteitsprogram.

‘Sometimes I go about pitying myself, and all the time I am being carried on great winds across the sky.’   – Ojibway saying