Oor twyfel

Wat beteken dit om goed genoeg te wees?  Of slim genoeg?

Die laaste tyd twyfel ek in my eie intelligensie.  Ek moet aanhoudend nuwe projekte uitdink wat maak dat ek voor moet begin.  Met vrae soos waarom ek dit doen?  Wat moet ek in die projek insluit?  Hoe wil ek hê die mense wat die projek deurloop moet baat daarby? Wat is suksesvol aan die projek en wat is nie?  Partykeer voel dit na ‘n te groot verantwoordelikheid.  Doen ek dit reg?  Weet ek genoeg?  Hoe groot is die impak op ander se lewens as gevolg van dit wat ek doen?

Miskien het Maria ook so gevoel, die dag toe sy hoor sy gaan vir Jesus in die wêreld bring.  Miskien het sy gedink sy is nie goed genoeg nie, of dat sy glad nie bevoeg is om Hom groot te maak nie.  Dalk het sy met tye nie baie slim gevoel nie, veral toe Hy háár begin leer het, van glo in wonderwerke en hoe om lief te wees vir die mense om haar, en om as ma nie oor Hom bekommerd te wees nie.  Dalk was sy moedeloos in haar ‘grootmaak-projek’ die dag toe Hy aan die kruis hang  en sy wonder  hoekom dit so moes eindig.  Of dalk was sy verstom en dankbaar.  Dat sy gebruik is om Iemand so besonders te kon grootmaak en dat die ‘projek’ waarmee sy vertrou is so ‘n groot impak op ander se lewens het.

Hoe dit ookal was, sy was saam met ander vroue, wat haar hart verstaan het.  Ek is so dankbaar vir al die vroue in my werk en vriendekring en familie, wat saam met my kan huil en lag en beplan en dink en wonder en twyfel en glo.  En rou en feesvier en sing en dans en stil sit en bid.  In Maria se vreugde en bietjie bangheid het sy dadelik vir Elizabeth opgesoek om die nuus mee te deel dat haar babatjie se naam Jesus gaan wees.  Want sy kon verstaan presies hoe Maria voel, wat sy dink, waarvoor sy bang is, waaroor sy bly is.

Jesus het sy lewe vir ons gegee sodat ons vry kan wees, verlos van alles wat ons kwel en moedeloos maak en laat twyfel en laat sug.  En ek dink Hy het ook sy lewe gegee sodat ons met oorgawe kan sing saam met die vroue om ons, net soos Maria:

Ons loop oor van God se goeie nuus.
Ons kan dit glad nie binne hou nie.
Ons dans met oorgawe op die lewensmusiek wat Hy vir ons gee.
Hy het net een keer na ons gekyk en kyk net wat gebeur!
Ons is die gelukkigste vroue op aarde.
Wat God vir ons doen sal ons en die rondom ons vir altyd onthou.
Ons God wie se naam Groter en Heiliger is as alle name.
Sy genade vloei en vloei oor ons soos reën waarvoor ons al lankal wag.
Hy vou sy sterk arms om ons en vee almal weg wat ons wil seermaak.
Hy kyk nie nou na dié wat dink alles wat hulle doen is omdat hulle self so goed is nie.
Hy trek dié wat swaarkry met gemak uit die modder uit.
Hy laat ons almal wat moedeloos is by ‘n maaltyd aansit van wyn en vye en warm brood en plaasbotter.
En dié wat dink hulle het alles en nie wil deel nie, laat hy alleen eenkant staan.
Hy maak ons toe met Sy liefde en sy genade.
Net soos Hy belowe het.
Vir altyd en altyd. *

Ek is dankbaar vir ander vroue wat my twyfel en vreugdes en wonder en beplan saam met my deel.

Ek is dankbaar vir ‘n God wat wéét dat ek en jy goed genoeg is om dit te doen wat Hy in Sy plan het vir ons.

En ek is verwonderd, dat Hy vir ons so lief is, dat Hy aan ‘n kruis kon hang en sê:  “Dit wat jy doen maak ‘n verskil, hou aan, Ek sien jou”.

*Maria se vreugdelied uit Lukas 1

Vorige artikelWildvang met nette
Volgende artikelVerander jou sienswyse
Blogger - Liesl Cronje
Liesl is 'n lewens-en besigheids coach vir vrouens en glo dat elke vrou 'n baie spesiale storie het. “Ek vertel stories oor die lewe, vanuit 'n ander hoek. My besighede, Thyme2B & Thyme Events is geïnspireer deur my liefde vir kruie en veral Tiemie. Tiemie beteken courage en die oorspronklike betekenis daarvan is, om die storie van wie jy is met jou hele hart te vertel. Daarom leer ek graag ander vrouens hoe om hulle stories te omvou en met hulle hele hart te vertel.” Liesl is getroud met Pierre en het drie jong volwasse kinders. Liesl en haar dogter Lische is ook die skeppers van LiLiBeth stories en sketse. Kyk by thyme2b.co.za en thymeevents.co.za vir meer blogs en Instagram: @thyme_2b, @lili_cronje en @lilibeth_cronje.