Oor Vaaltyn, cowboys en ‘n moedelose Lucille

cowboy

Liewe Persoon,

Vandag slaat dit my soos ‘n tien pond hammer teen die kop! Ek weet nou – na al die jare, waarom Kenny Rogers se Lucille haar cowboy die trekpas gegee het: dit was, sonder enige twyfel, te danke aan Valentynsdag.

Daardie einste cowboy wat so kla oor Lucille se swak tydsberekening en die vier honger kinders by die huis, het sweerlik gedink ‘n nuwe stel oondhandskoene óf ‘n Verimark Floor Whizz-wondermop was genoeg om die liefdesvlam aan te vuur.

Tragies.

En juis daarom is ek bly sy het boots and all die pad gevat.

Ek het met dié liedjie grootgeword. Die woord ‘cowboy’spreek mos tot iets meer as net ‘n boerseun met ‘n John Deere-trekker op ‘n mielieplaas in Bothaville. As ek aan cowboys dink, dan wil-wil my hart so effens vinniger klop. Ek sien in my verbeelding hoe wilde perde in grasvlaktes staan (al is ek so bang vir ‘n perd ek kan vrek!), hoe ‘n klinknaelbroek soos ‘n handskoen pas en, die gebrul van ‘n rooi Chev-trok met ‘n  groot ‘n bullbar.

Maar om terug te kom by Lucille. Ek wil my verstout om te sê dat met vier kinders, ‘n cowboy, ‘n boerdery én ‘n oes op die lande dié arme vrou met hart en siel na Valentynsdag uitgesien het. Een dag uit 365-dae waar sy op die hande gedra word (al is dit skurwe, cowboy-hande). En wat kry sy? NIKS (behalwe miskien die opdrag om ‘n paar kouse te stop, die kinders se kuiwe te sny en die hansmak boklam uit die groentetuin te hou.)

In die liedjie sing Kenny Rogers: “In a bar in Toledo, across from the depot, on a bar stool she took off her ring. I thought I’d get closer. So I walked on over. I sat down and asked her name. When the drinks finally hit her she said I’m no quitter, but I finally quit livin’ on dreams! I’m hungry for laughter. And here ever after. I’m after whatever the other life brings.”

Met Valentynsdag vars in ons geheue, leer dié ou liedjie ons beslis ‘n les: ‘n mens kan nie net van liefde en koue water leef nie! Iewers langs die pad moet die spreekwoordelike liefdesakker omgespit word; en daar moet hard gewerk word om die droom van verliefwees (en verlief bly) aan die gang te hou. Ek is bly Lucille het haar ring afgehaal. Nou moet sy dit nog net aan die verkeerde vinger dra – dit blyk mos asof sy met die verkeerde man getroud is!

Om ‘n lang storie kort te maak – en sonder om dit soos ‘n cliché te laat klink: elke dag behoort ‘n liefdesdag te wees. Vergeet van langsteelrose en tjoklits (dit gaan sit net om die heupe). Praat met mekaar. Skryf ‘n brief – met die hand. Hou haar hand vas. Sê die woorde: Ek is lief vir jou!