Oor verandering

Hulle sê:  “If it doesn’t challenge you, it won’t change you”.  “En dit is die waarheid”, dink ek terwyl ek die bult opbeur saam met my meisiekind.

Sy het ons twee na ‘n paar maande se slaplê, weer aan die draf gekry, maar dis nie maklik nie.  My bene brand, my arms pyn, my asem is te min, en ek voel bietjie naar.  Sy  sê net:  “Kom Mamma kom, kyk, net daar voor is die draai!  Mamma kan!”  Maar Mamma sukkel.   Dis harde werk.  Ons hardloop tot by die draai en net anderkant die draai lê die pragtige dam.  Die draai met rooi pyltjies op die wit bord.  Die draaipunt.

Ek het al ‘n paar ‘draai-punte’ in my lewe gehad.  Maar die laaste twee en ‘n halwe jaar was die grootste daarvan.  Ek is uitgedaag tot waar ek moes dink ek kan nie meer nie.  Meer en meer dinge wat duurder raak, die groei van’n nuwe besigheid, minder inkomste,  dit het ‘n rimpel effek.  Alles raak ‘budget’.  ‘Budget’ kos, ‘budget’ ontspanning.  ‘Budget’, ‘n nare woord.

Maar in die proses het ek verander.  Ons almal het.  As gesin waardeer ons die kleinste bederfies.  Iemand wat ons nooi vir ete.  Iemand anders wat ‘n DSTV ‘password’ deel sodat ons die Franse Ope kan kyk.  Nog iemand wat sommer kontant in my rekening inbetaal, iemand wat sê ek kan verniet parkeer, net omdat sy dit kan reël.  Iemand wat die petrol betaal, sodat ons kan saamkamp.  Alles omgee wonderwerke.

Ek het verander ja.  Ek sien nou die kleinste dingetjies raak.  Soos die trolliestoter se wye glimlag toe hy vertel hoe bly hy is oor die reën, al is sy werksklere papnat.  Soos die kassiere se swart ‘braided’ hare met rooi punte wat perfek by haar lippe pas.  Soos die glimlag op die petroljoggie se gesig omdat ek hierdie keer vir hom ‘n tien rand ‘tip’ kan gee.  Soos die groen gras na die reën, die baba Checkers plantjies wat opkom, die warm lyf van my kat op my skoot en my elektriese kombers wat ek kan aanskakel omdat daar krag op die meter is.

So waar was die draaipunt?  Hoe kry ek dit reg om anders te kyk, al is die lewe steeds ‘n uitdaging?  Ek dink die draaipunt was in myself.  Die dag toe ek besef, geen geld, of goed, of mens, of werk, of omstandighede kan my gelukkig maak nie.  Net ek kan.  Hoe ek reageer, hoe ek die lewe bekyk, hoe ek opstaan as ek weereens geval het.  Hoe ek voor begin.  Hoe ek nuut dink.  Hoe ek myself vergewe.  Hoe ek my God vertrou.   Hoe Hy my losmaak van dit wat my vashou, as ek Hom vra.   Ja, die draaipunt het gekom die dag toe ek vir Hom gesê het:  “Ek kan nie meer nie, ek weet nie hoe nie, ek wil nie verder dink nie”.

Hy swaai toe nie ‘n towerstaf wat alles onmiddelik regmaak nie, maar Hy gebruik al my uitdagings om my te leer en te verander.  Totdat ek saam met Paulus kan sê:  “Here, ek het baie kere gevra dat U hierdie stuikelblok uit my lewe moet wegvat, laat dit asseblief net ophou.”  Maar toe sê die Here vir my: “My goedheid is vir jou genoeg. Dit is al wat jy nodig het. My groot krag word sigbaar in jou lewe wanneer jy swak en hulpeloos is.* Uiteindelik sal alle dinge op presies die regte tyd in plek val, as jy klaar geleer het”.

Ons hardloop nou elke tweede dag.  Dit raak beter.  Ek haal makliker asem.  Ek raak sterker.  Ek was al by die draaipunt, nou is dit  mooi en gelyk , met ‘n effense opdraand, terug huis toe.

*2 Korintiërs 12:9.

Foto:  twiends.com

Vorige artikelJou geluk is jou verantwoordelikheid
Volgende artikel“Die wêreld draai nie om jou en jou gemak nie”
Blogger - Liesl Cronje
Liesl is 'n lewens-en besigheids coach vir vrouens en glo dat elke vrou 'n baie spesiale storie het. “Ek vertel stories oor die lewe, vanuit 'n ander hoek. My besighede, Thyme2B & Thyme Events is geïnspireer deur my liefde vir kruie en veral Tiemie. Tiemie beteken courage en die oorspronklike betekenis daarvan is, om die storie van wie jy is met jou hele hart te vertel. Daarom leer ek graag ander vrouens hoe om hulle stories te omvou en met hulle hele hart te vertel.” Liesl is getroud met Pierre en het drie jong volwasse kinders. Liesl en haar dogter Lische is ook die skeppers van LiLiBeth stories en sketse. Kyk by thyme2b.co.za en thymeevents.co.za vir meer blogs en Instagram: @thyme_2b, @lili_cronje en @lilibeth_cronje.