Oor vloerlyste

Ek wou lank terug mooi vloerlyste in my huis gehad het.  Ek het gedink dit lyk afgerond, so of die prentjie mooi voltooi is.

Miskien gemaak van spesiale eikehout of dalk rooshout of dalk iets met ‘n unieke ontwerp.  “Wat is vloerlyste?” vra my meisiekind.  Ons bly reeds twintig jaar in ‘n vloerlys-lose huis.  Ek het al vergeet ek wou vloerlyste gehad het en miskien is sy reg as sy sê:   “Voerlyste lyk vir my só onnodig, en dit versamel net stof”.

Wat my toe ondersoek laat instel in die nut van langvergete vloerlyste.  Dit blyk dat die doel van vloerlyste is sodat ons nie die lelike las tussen die muur en die vloer kan sien nie.  Dit versteek ook enige oneweredige randjies en dit beskerm die muur teen stampe en merke as ons stofsuig of dinge rondskuif. Verder is dit daar as dekoratiewe voorwerp, en ja wel, miskien as opgaarplek vir stof.

Miskien het ek nie vloerlyste nodig nie.  Dis dalk hoekom ek dit nooit opgesit het nie, dalk sou dit net een van die baie goed gewees het wat ek wou hê, wat ek nie regtig nodig gehad het nie en waarvan ek nou ontslae wil raak.  Of miskien hét ek vloerlyste nodig.  Dalk het ek te gewoond geraak aan ‘n lewe daarsonder, sodat ek vergeet het hoe dit kan keer dat ‘n muur vol merke en gate raak.

Ek dink ek het gewoond geraak aan ‘n storie van stampe en skaafplekke en oneweredige randjies en ek het vergeet van restourasie en nuut maak en oor begin.

Ek dink ek wil weer ‘n huis bou, en ek wil elke vertrek afrond met vloerlyste, gemaak van donker hout.  Eenvoudig en sonder fieterjasies, maar breed en blink gepoleer soos ‘n edelsteen.  Om my te herinner dat Hy belowe het:  “Ek gaan jou met sierstene herbou.  Ek gaan saffier in jou fondamente lê.  Ek sal jou torings met robyne uitlê. Ek sal robyne in jou poorte inmessel.   Ek sal edelstene teen jou mure vassit”. *

En dan sal Ek jou lasplekke heelmaak, jou oneweredige randjies toemaak en jou beskerm teen stampe … en al die onnodige stof.

*Jesaja 43:11 – 12 – Die Boodskap

*Foto – ebsflooring.com

Vorige artikelWie sal jou dra?
Volgende artikelWanneer Jy die Waarheid Ken
Blogger - Liesl Cronje
Liesl is 'n lewens-en besigheids coach vir vrouens en glo dat elke vrou 'n baie spesiale storie het. “Ek vertel stories oor die lewe, vanuit 'n ander hoek. My besighede, Thyme2B & Thyme Events is geïnspireer deur my liefde vir kruie en veral Tiemie. Tiemie beteken courage en die oorspronklike betekenis daarvan is, om die storie van wie jy is met jou hele hart te vertel. Daarom leer ek graag ander vrouens hoe om hulle stories te omvou en met hulle hele hart te vertel.” Liesl is getroud met Pierre en het drie jong volwasse kinders. Kyk ook by www.thyme2b.co.za vir meer blogs en Instagram: @thyme_2b.