Oor vroue en feëverhale

0
29
natasha_sutherland.jpg

’n Pleidooi teen stereotipes en ’n heildronk op vrouwees…

“Indeed, it is the ambiguity and ambivalence which often is so puzzling in women – the quality of shifting from child to woman, the seeming helplessness one moment and the utter self-reliance the next – that baffles us, that seems most difficult to understand. These are the qualities that make her a mystery…”

-Lillian Breslow Rubin

’n Paar dae gelede het ek en ’n paar vriendinne ’n bietjie oor Vrouedag gesit en stry. Ons was by ’n gesinsrestaurant en ons kinders het saam op die klimrame gespeel … hulleself in Hanna Montana en Ben 10 ruimtewesens verander, strooitjies in mekaar se ore gedruk en niksvermoedende ruspers in mekaar se skoene gesit. Verantwoordelike ma’s wat ons is, het ons eenvoudig met ons heftige debat voortgegaan.

Lady Geem het aangevoer dat die hele konsep van Vrouedag vir haar aanstootlik is. “Hoekom is ons so onbemagtig dat daar spesiaal ’n dag vir ons gegee moet word sodat ons erkenning kan kry? Dis so ag-siestog-kom-ons-gee-vir-hulle-ook-iets.”

Asjas West het nie saamgestem nie. Sy het beweer dat so ’n dag noodsaaklik is om mense bewus te maak van die benarde posisie van baie vroue wat ly omdat hulle die produkte van ’n uiters patriargale samelewing is.

“Maar,” wou Lady Geem weet, “is dit nie maar net ’n geval van ons onsekerhede in stand hou nie?”

Op daardie tydstip het ons seuns en ’n groepie ander seuns ’n speel-speel-rusie gehad en mekaar uitgeskel met woorde wat ek skat hulle gedink het verskriklik neerhalend en beledigend is, soos “snotkop”, loser en “stinkasem”.

Maar die ergste skelnaam, die skelnaam der skelname, was: “VROUMENS!”

Het jy al agtergekom dat die vroue in feëverhale meestal óf pragtige jong versamelstukke óf bose afgeremde wywe is?

In “Die Slapende Skone” sluit die bose towertante die liewe prinses Aurora êrens op in wat ’n erge geval van narkolepsie is, en in “Raponsie” sluit sy die heldin in ’n hoë toring toe. En as dit nie vir Raponsie se belaglike lang haarverlengings was nie, sou haar vleispaleis van ’n alfa-mannetjie ’n ongeëwenaarde hoogte moes uitklim om ’n soentjie of meer by sy geliefde te kry.

Met al hierdie verhale waarin vroue hulle bose begeertes oor arme, niksvermoedende mans laat geld, is dit g’n wonder dat ons manlike eweknieë maar lugtig is as dit by die vroulike beginsel kom nie. Hulle is oënskynlik daarop uit om ons in twee bande te kategoriseer: engel en duiwel … goed en sleg … troumateriaal en naweekmateriaal!

G’n wonder al die seuntjies by die restaurant het dit as die uiterste belediging beskou om ’n “vroumens” genoem te word nie.

[pagebreak]

Dit lyk of die mites wat so volop is, net die opvatting laat voortleef dat vroue so te sê ‘moody’ is! Ons is sag en hard, redder en slagoffer, oud en jonk, begeerlik en afstootlik, gaaf en wreed. Miskien sou ek ook die vlaktes in gehardloop het as ek ’n man was en onverwags voor hierdie “bipolêre” spesie genaamd VROU te staan gekom het.

Alle grappies op ’n stokkie. Ek dink dat ons as vroue dikwels op die kantlyn geskuif word as argetipiese karikature van die feëverhale. Maar myns insiens is dit ons vermoë om sodanige diversiteit aan te gryp wat van ons hierdie pragtige ding genaamd VROU maak. Dis ’n les wat ek maar pas geleer het – ’n swaar les met die geboorte van my boek, Bittersoet.

Ek was mal oor die skryf van die boek; die “konsepsie” was baie aangenaam. Maar die geboorte van die boek het meer kraampyne veroorsaak as die geboorte van my mensekinders. Jy sien, ek het so hard baklei om ’n sweem van waardigheid te behou rondom die hele saga van my baie openbare huweliksverbrokkeling, die skandale en die skryf van die boek, dat ek besef ek het myself in ’n hok toegesluit. My goeie bedoeling om waardig te bly het uiteindelik ’n beeld geword wat ek bo alles wou handhaaf.

My ego het egter aanhou sê dat my engelagtige beeld sy glans gaan verloor as ek sou voortgaan met die boek, met die publisiteit en als wat daarmee gepaardgaan. Ek het die moeilike taak gehad om suutjies te probeer loop oor die eiers wat Mnr. Y en al sy vyande in die media die hele vloer vol gegooi het. ’n Feitlik onbegonne taak wanneer ’n mens probeer om ’n kompromie met die uitgewers te bereik, wat, al het hulle ook hoeveel begrip, hulle bes doen om die skryf van ’n boek te bevorder waarby hulle wel deeglik ’n belang het. My uitgewers het vir my ’n kaartjie van bemoediging gestuur, met hierdie woorde van Abraham Lincoln daarin:

“Die waarheid is gewoonlik die beste verweer  teen skinderpraatjies.”

Maar ten spyte van my geloof in wat ek geskryf het, het ek gevoel hoe dit diep binne-in my brand as ek woorde in die mond gelê is of as artikels wat ek geproeflees het, sonder my medewete verander is. Ek wou so graag die kroon van deugsaamheid op my kop hou. My ego het daarvan gehou om as die “goeie meisie” gesien te word, die dierbare en kwesbare heldin van die feëverhaal. Dit het nie daarvan gehou om as die sterk meisie gesien te word nie, die woedende meisie nie, die stiefma-met-die-plannetjies nie … Ek het nie daarvan gehou om in hierdie boksie gesit te word nie.

[pagebreak]

Maar waar ek nou in hierdie vuurkring staan, kyk ek na die vroue om my en sien dat ek hulle nie as engele of duiwels beskou nie – en dit was ook nooit my bedoeling om dit te doen nie. Hoekom probeer ek dan om dit met myself te doen? Dis my ydelheid wat my in hierdie persona toegesluit hou wat ek meen die wêreld verwag ek moet wees. As ek in my eie outentisiteit wil staan, moet ek my eie Jin en Jang aangryp. Tot nou toe het ek mense probeer behaag, maar as ek my eie vlag wil laat wapper en regop wil staan by alles wat ek in my boek geskryf het, dan moet ek grootword. Dis tyd om my grootmeisieskoene aan te trek en uit te stap die brandende vuur in, met ’n woedende Mnr. Y en ’n vreesaanjaende joernalistieke fees, en glo dat die gehalte van die poeding sal blyk nadat dit opgeëet is (met my boek as die poeding, natuurlik!).

Tot op hierdie tydstip in die geboorteproses is ek deur sekere mense geboelie, gedreig, geteister  en geflous: “Die skatlike klein feëverhaal-ingénue gaan dit nie regkry nie.” Ek is skeef. Ek is onwerklik. Ek moet my groot kanonne te voorskyn bring en die krygervrou in my na vore laat kom om my te help om fier en regop te staan, om regverdig te baklei, maar met krag. Ek moet aan albei elemente van die feëverhaalvrou in my vashou en myself in balans bring.

Dis nie ongewoon vir ’n vrou om dit te kan doen nie.

As my kind by die skool geboelie word, kan ek binne 0,4 sekondes van Gawe Klasmamma in Woedende Tierwyfie verander.

En ek vier dit.

Ek kan bababraaksel opvee, hondeslagysters optel, ’n bloeiende knie toeplak en nogtans gil van vrees by die aanskoue van ’n Parktown prawn.

Gegroet, my totale vroulike diversiteit!

Maar ek sien baie vroue wat ’n bietjie ongemaklik voel om tipies geklassifiseer te word in boksies met onnatuurlike afmetings (soos ek met myself gedoen het). Dis asof ons meen ons het ’n gepantserde identiteit nodig om in hierdie man-tot-man-wêreld gerespekteer te word: Supersakevrou of Oulike Tuisblyma. Goeie Kok of Treurige Kok. Intellektuele Ovaria of Sexy Heupswaaiende Sirene.

As ons maar net van hierdie onuitspreeklike misdaad ontslae kan raak … daarbo kan uitstyg … en erken dat ons krag en sterkte lê in die feit dat ons so wonderlik kompleks IS in plaas van om skuldig te voel as gevolg daarvan. Is ons goed met multi-tasking? JA! Is ons goed daarmee om buite die boksie te dink? JA! Is ons absoluut briljant daarmee om die lewe, kinders, werk, die yskas, die mank kat en aandete saam met manlief se baas te gooi-en-vang? JA!

My wens is dat ons sal ophou om vroue te stereotipeer en mekaar begin aanvaar as die multidimensionele, passievolle wesens wat ons is.

Daar is ’n rede waarom ons mans mal maak! Dis omdat ons onversadigbaar is.

Ons kompleksiteit is eenvoudig in sy suiwerheid. Ons is Vroue. ONS hou die son en maan en aarde in ons arms.

Daarom drink ek op hierdie Vrouedag ’n heildronk (met een glasie meer as gewoonlik) op die sierlike diversiteit van die vroulike energie.

Op julle, woes-wonderlike vroue! Mag julle kompleksiteit nog lank kleur en energie aan hierdie planeet verleen!