Oorkom mondsere: kenners gee raad

0
659
mond_sere.jpg

Ek kry gereeld seertjies in en om my mond. Hoekom gebeur dit en hoe kan ek dit behandel en voorkom?

Die MEDIESE DOKTER sê…

Stresvolle tye, mondbeserings of ’n afgetakelde immuunstelsel kan tot die ontwikkeling van mondsere bydra. Die oorsaak is egter hoofsaaklik onbekend, alhoewel sommige mense geneties vatbaar is daarvoor. Voor jy die mondsere kan behandel, moet jy eers vasstel watter tipe seertjie dit is.

Gewone mondsere word ook afteuse stomatitis genoem. Dit kom aan die binnekant van jou mond voor en is gewoonlik wit of geel, met ’n rooi ring om die seer. Dit is nie aansteeklik nie. Ek stel voor jy behandel die mondsere met ’n antiseptiese mondspoelmiddel vir goeie mondhigiëne, soos chloorheksidien. ’n Plaaslike verdowingsalfie sal die gevoeligheid verlig en die rou area beskerm. Indien dit etterige, pynlike sere is, sal antibiotika help om die infeksie op te klaar.

Koorsblare kom gewoonlik op jou lippe en om jou neus voor. Dit is aansteeklik en word heel onskuldig versprei deur ’n eenvoudige soen. Kinders kan dit al vroeg in hulle lewe opdoen. Die herpesvirus rus gewoonlik in die senuweeselle van besmette persone. Dit word deur ’n verswakte immuunstelsel en sonlig geaktiveer. Daarom is dit wys om ’n sonskerm te gebruik as jy geneig is om koorsblare te kry. Wanneer jy die jeukerige gevoel kry, is dit ’n teken van ’n dreigende herpes labialis-infeksie. Vra jou huisdokter vir antivirale pille, wat die tydperk van die virusinfeksie kan verkort. Intussen kan jy ’n acyclovir-room aansmeer voor die blasies of sere vererger.

Dr. Gert Botha, mediese dokter

Die DERMATOLOOG sê…

Stres is een van die grootste aktiveerders van koorsblare. Wanneer stres of enige ander faktor ’n mens se immuunstelsel aantas, sal die herpesvirus (wat koorsblare veroorsaak) van jou senuweepunte tot by die oppervlak van jou vel beweeg. Dit veroorsaak die sere in en om jou mond.

Jy kan jou stres onder beheer bring en só jou kans vir infeksie verminder. Probeer om ’n stresverligtingsprogram by jou daaglikse roetine in te sluit, soos joga en meditasie. Moet ook nie dink joga is iets esoteries uit die Ooste, waar jy jouself in onmoontlike posisies moet buig nie. Om vir tien minute stil te raak en op jou asemhaling te fokus kan reeds jou stres aansienlik verminder. Maak ook seker jy hou jou lippe vogtig. Baie droë lippe is meer geneig om koorsblare op te doen. Hulle kan kraak en skeur en dan baie maklik met die herpesvirus of selfs bakterieë besmet word. Gebruik ’n lipsalf wat ’n sonskerm bevat om koorsblare en sere op jou lippe te voorkom.

Dr. Charles Zugerman, dermatoloog

Die APTEKER sê…

Die eerste simptome van ’n koorsblaar is dikwels ’n brandende, jeukerige gevoel wat ’n paar uur of ’n dag kan duur. Die area kan opgeswel en rooi wees.

Ek sal aanbeveel dat ’n produk wat propolis bevat, onmiddellik aangewend word wanneer die simptome sigbaar is. Dit word deur heuningbye uit natuurlike stowwe vervaardig wat deur bome en plante afgeskei word.

Propolis word deur bye gebruik as ’n tipe gom en seëlaar wat die korwe steriel hou. Die middel word ook al vir langer as 2 000 jaar deur mense gebruik om virusse en bakterieë te bestry. Propovir® bevat hierdie natuurlike middel in ’n salf wat sonder voorskrif beskikbaar is. Dit is ideaal vir die behandeling van koorsblare. Deur kliniese studies is daar bewys dat dit die letsel tot vier dae vinniger gesond maak en die pyn wat met koorsblare gepaardgaan, aansienlik verminder.

Propovir® kombineer natuurlike antibakteriële, antivirale en pynverligtingseienskappe vir vinnige herstel. Maak seker dat jy jou hande was voor en na jy die salf aangewend het en vermy kontak met die oogarea.

Marlize Human, apteker, Mentholatum

Lees ook: Kul of kuur? Die gesondheidsbedryf is vol verslankings foefies. Maar wat werk regtig?