Oorleef jou vervelige huwelik

0
239
huwelik.png

Voel jou huwelik vervelig? Dis moontlik dat julle uitmekaar kon dryf. Só voorkom jy hierdie groot slaggat.

Voel jou huwelik vervelig? Dis moontlik dat julle uitmekaar kon dryf. Só voorkom jy hierdie groot slaggat.

’n Man en vrou in hulle vyftigs sit by ’n tafel in ’n restaurant. Vir enige buitestander is dit duidelik dat hulle nie juis gesels nie, behalwe om vir mekaar die sout te vra. Om sulke huwelikmaats te sien is hartseer. Om so ’n paartjie te word is tragies.

Kenners meen dat daar sekere oorgangsfases in ’n huwelik is wanneer twee mense uitmekaar kan dryf as hulle nie bewustelik werk daarvan maak nie. Dit is die fases wanneer ’n kind gebore word, kinders die huis verlaat en veral aftrede, wanneer huweliksmaats baie meer tyd in mekaar se geselskap deurbring. As julle nie die volgende checkups doen nie, kan julle geleidelik uitmekaar dryf en nie eers agterkom dat julle algehele vreemdelinge vir mekaar geword het nie.

Maak vrede met die verlede

Vergewe jouself en jou maat vir die foute wat julle in die verlede begaan het. Gesels vir die laaste keer daaroor en leer daaruit, anders kan dit gebeur dat ’n argument wat julle jare gelede gehad het oor hoe om julle kind groot te maak, weer kop uitsteek die dag as julle kleinkinders het. Deur vrede te maak met die verlede kan julle julleself vrymaak van konflik wat mag opduik. Begin elke nuwe fase van julle verhouding sonder enige verwyte.

Daar bestaan nie iets soos ’n huwelik sonder konflik nie. Wees van nou af eerlik, openhartig en direk wanneer jy jou gevoelens kommunikeer. Stel dit jou ten doel om die verskille tussen julle uit die weg te ruim en nie om die ander persoon te straf of skuldig te laat voel nie. Baklei regverdig en hou by dit waaroor die probleem regtig gaan. Julle is nou volwasse genoeg om soos volwassenes te baklei.

Ontleed jou eie lewe tot dusver

Ondersoek elke kort-kort jou en jou maat se belangstellings, verskille en sterk punte, soos dit op daardie oomblik is. Mense verander en die kans is baie groot dat dit nie meer dieselfde is soos aan die begin van julle huwelik nie. Wat is nou jou persoonlike waardes, vaardighede en gawes en hoe komplementeer dit jou maat s’n? Hoe kan julle mekaar in julle persoonlike ontwikkeling ondersteun?

Om ’n spesifieke roeping te hê gee ook baie betekenis aan jou lewe. Bid saam dat God aan elkeen van julle individueel en as ’n paartjie sal uitwys waar daar nood is en hoe Hy julle wil gebruik. Dink aan maniere hoe julle mekaar kan ondersteun. Jy het nou die tyd om jou eintlike roeping in die lewe uit te leef. Daar is niemand anders op aarde soos jy nie en solank jy leef, het God nog ’n spesiale taak wat Hy wil hê jy in Sy koninkryk moet doen.

Leef julle drome uit

As julle geseën is met goeie gesondheid, finansiële stabiliteit en ’n lus vir avontuur, is daar niks wat julle keer om ervarings saam te deel nie. Doen ook elke kort-kort ’n checkup van julle drome en help mekaar om dit te laat waar word.

Never say never. Miskien ontdek julle na ’n paar jaar van getroude lewe dat julle al twee mal is oor kamp. Of skryf in vir ’n taalkursus sodat julle met die mense kan kommunikeer in al die lande wat julle beplan om te besoek.

Die belangrikste is dat julle saam pret moet hê en nie moet omgee wat ander mense van julle dink nie. Gaan kyk na snaakse flieks, vertel simpel grappe vir mekaar of wees sommer net laf.

Om saam oud te word of in ’n nuwe lewensfase in te gaan, is nie almal beskore nie. Dit is bloot genade van God en soos met al Sy geskenke is dit iets om elke dag te vertroetel en te beskerm. Doen moeite om deur die loop van julle huwelik emosioneel met mekaar te bind; dan sal julle lank en gelukkig saam kan bly.

Vertaal en verwerk na aanleiding van ’n artikel Jumpstarting Your Stalled Marriage deur Karen O’Connor.