Oorleef ’n SMS-affair: Pieter en Lotie Koen vertel

0
1212
pieter_lotie_koen_1.jpg

Pieter het gestruikel, maar Lotie het gekies om te bly. Inteendeel, egskeiding was nooit ’n opsie nie. Die Koens gee ons ʼn kykie in hulle privaat dagboeke – wat van hul wonderbaarlike reis na ’n SMS-affair vertel.

Pieter en Lotie is uitgenooi vir ontbyt deur ’n egpaar met dieselfde ouderdom kinders. Aan tafel het die man sy vrou en Pieter daarvan beskuldig dat hulle ’n SMS-verhouding het.

“Dis ’n oomblik wat ek nooit weer wil beleef nie,” onthou Lotie. “Eintlik ’n reality check. Ek kon nie glo dat my Pieter so iets gedoen het nie.”

24 Januarie 2010

Die seer in Lotie se oë sal altyd by my spook. Ek sou nooit die flirtasie verder laat gaan het nie. Maar ek het besef ek speel met vuur toe ek daardie SMS’e begin antwoord het.

Liewe Here, seblief, moenie dat Lotie my los nie. Ek is jammer. Dit voel of ek die belofte wat ons destyds voor die kansel gemaak het, ontheilig het.
Pieter

25 Januarie 2010

My kop maak my mal … As die hoekoms en waaroms net antwoorde kan kry. Die afgelope paar jaar het ek soveel aandag aan die seuns gegee. Dalk het ek vir Pieter begin afskeep? En met dié dat ons kantoor by die huis is, loop ek baie dae sonder grimering. Is dit die rede?

Dit klink nie reg nie … maar ek dink nie nou eers aan die kinders nie. Ek kan nie ter wille van hulle in ’n huwelik bly wat my ongelukkig maak nie. En is die belangrikste verhouding binne ’n gesin nie steeds tussen man en vrou nie?

Daar is nie meer trane in my oor nie.
Lotie

28 Januarie 2010

Dit is presies die probleem as jy met ’n celeb getroud is. Jou seer word vir hordes onbekende mense in koerante oopgevlek. Mens mag nie haat nie, maar ek sukkel om te vergewe. Die joernalis het ʼn foto van my geplaas waar ek nege maande swanger was. En ʼn pragtige foto van die ander vrou.

Die een leser se kommentaar het my amper gebreek … “As my vrou só gelyk het, het ek ook na ander vroue begin kyk.”

Ek sál weer die vietse, sportiewe Lotie word wat ek altyd was.
Lotie

31 Januarie 2010

Dit is verskriklik om Lotie so te sien. Sy wou elke liewe detail weet.

Ek geweet ek het ’n keuse: Óf ek los sekere besonderhede uit, maak haar nie seer nie en hou die agterdeur oop vir so iets om weer te gebeur.

[Pagebreak] Óf ek vertel haar alles, maak haar in die proses seer en werk deur die hele fiasko. Ek het die tweede opsie gekies.

Ek sal geduldig moet wees. Ek kan nie verwag dat sy onmiddellik moet vergewe én vergeet nie. Dit is ’n cliché, maar ’n mens besef eers presies wat jy gehad het wanneer daar ’n kans is dat jy alles kan verloor. Ek sal haar vrae beantwoord en om verskoning en vergifnis vra al moet ek dit oor en oor en oor doen.
Pieter

4 Februarie 2010

Liewe Here, hoe kan Jy dit aan my doen? Hoe kan dit wees dat ek in hierdie tyd moes swanger raak? Was dit nie juis omdat ek te veel by die kinders betrokke was dat Pieter geval het vir die aandag van ’n ander vrou nie?

Gewigsverlies gaan eintlik oor ’n kopskuif en ek wéét ek het die deursettingsvermoë om maer te kan word. As ek besluit het om iets te doen, kan ek daarby hou en ek weet ek sal ’n sukses daarvan maak. Ek sal seker ook oefening moet begin doen. Dit gaan tog oor ’n gesonde leefstyl. Maar vir eers moet ek begin saamleef met die feit dat ek ’n nuwe lewe in my ronddra.
Lotie

5 Februarie 2010

Was vandag by die dominee. Begin alles ’n bietjie meer in perspektief sien. Ek dink net ons het gewoond geraak aan mekaar en minder aan ons verhouding begin werk. Miskien het ons gedink ons sal altyd daar wees vir mekaar en het ophou fokus op mekaar se begeertes en behoeftes.

Twee dinge het tot my deurgedring: Ek moet leer om my gevoelens eerliker met Lotie te kommunikeer. Sy is reguit en opreg – almal weet presies waar hulle met haar staan. Ek is meer van ’n people’s pleaser en sal eerder stilbly as om eerlik te wees en ander seer te maak.

Ons móét begin moeite doen met mekaar. Net soos dit nodig is dat ek afsonderlik tyd saam met my seuns deurbring, moet ek en Lotie soms alleen wees.
Pieter

2 Junie 2010

Ek dink ek het my antwoord van God gekry. Die sonar het vandag gewys ons verwag ’n dogtertjie. Die Here het vir my ’n maatjie gestuur. En eendag as sy groot is, gaan daar darem twee vroue in hierdie gesin met drie mans wees.

[Pagebreak] Vir die eerste keer het ek hoop. Hy is lief vir my en regtig so jammer. Ek sien hoe seer hy kry wanneer hy my pyn sien. Dalk moet ek eerder fokus op die 97% goeie tye wat in ons verhouding en huwelik was. In plaas van hierdie 3%-nagmerrie wat nou voor ons afspeel.

Ons vul mekaar tog so goed aan. Ons moet hierdie ding laat werk. Ons kan.
Lotie

25 Oktober 2010

My maatjie Luné is gebore. ’n Klein wonderwerkie na hierdie jaar van seer. Ek is so bly ek en Pieter het uitgehou. Ek dink dit is omdat ons verhouding so sterk was voor die SMS-ding. As ek ’n jaar gelede gekies het om te skei, sou dit die grootste fout van my lewe gewees het.

Hierdie keer gaan ek ook nie my swangerskap as verskoning gebruik om vet te wees nie. Sodra ek op die been is, gaan ek my oefenprogram hervat.

Met die dieet gaan dit goed. Het eintlik so natuurlik deel van ons gesin se leefwyse geword. Nou die dag vra my seunskind vir water. Toe besef ek dis die voorbeeld wat hy sien – en dis die begin van ʼn gesonde leefstyl.
Lotie

1 Junie 2012

Lotie lyk deesdae so goed dat ek besluit het om saam met haar te begin oefen. Ons het ’n persoonlike afrigter wat baie help. Deur saam te oefen motiveer ons mekaar.

Ek glo deur gesond te eet en meer aktief te wees, leef ons een van die belangrikste beginsels van ’n gelukkige huwelik uit. Eerstens moet jy vir jouself goed lyk en goed voel, voor jy omgee wat jou man of vrou dink. Net deur self gelukkig te wees, kan jy die mense om jou gelukkig maak.
Pieter

24 Desember 2013

Dis nou al vier jaar sedert die SMS-flirtasie gehoor het. Met die grysheid kom wysheid. Ek het geleer dat geen huwelik vanselfsprekend is nie en dat jy na jouself moet kyk.

In twee jaar het ek 24 kg verloor. Ek was ʼn 38 toe ek begin het en is nou al ’n 34. En ja, ek voel goed!

As iemand my nou vra om my lewensmotto op ’n bumper sticker te sit, sal dit iets wees soos: “Of dit nou sport of die liefde is, moenie wag vir ’n storm om op te steek of verby te gaan nie – leer om in die reën te dans.”