Oorsensitiwiteit of allergie?

135

Enige veltipe kan sensitiwiteit ondervind, trouens ’n verrassende aantal vroue sukkel met dié toestand, wat kan wissel van matig tot ernstig.

“Sensitief” en “allergies” beskryf veltoestande en nie veltipes nie.

Jou gene bepaal of jou vel in die normale, droë, olierige of kombinasie-kategorie val, terwyl omgewingsfaktore die toestand beïnvloed.

Die belangrikste verskil tussen allergie en sensitiwiteit is dat eersgenoemde ’n immuunstelselreaksie behels.

Ander faktore soos stres, moegheid, skok, verkeerde velsorg en blootstelling aan die son, wind, koue of besoedeling kan tot oorgevoeligheid lei.

’n Allergiese reaksie ontstaan wanneer ’n stimulus (allergeen) wat – dikwels verkeerdelik – deur die immuunstelsel as ’n bedreiging beskou word, ’n reaksie veroorsaak.

Dit sluit enigiets in, soos rooiheid, swelling, ’n gejeuk of branderigheid en soms selfs pyn by die kontakpunt.

Daar is nie werklik behandeling hiervoor nie. Om dit te hanteer, moet jy kyk na die versorgingsprodukte wat jy gebruik, oplet na moontlike snellers en die nodige veranderings maak.

Eerstens moet jy dit waarvoor jy sensitief is, tot elke prys vermy. Dit is ook van kardinale belang dat jy nie die pH-balans versteur nie aangesien dit jou juis teen eksterne faktore beskerm.

Mooimaakprodukte wat alkohol, reukmiddels of sterk aktiewe bestanddele bevat, kan soms bydra tot sensitiwiteit.

Wanneer jy ’n allergiese reaksie ondervind, moet jy dadelik soveel moontlik van die produk verwyder. Gebruik net skoon, koue water om mee skoon te maak.

Vermy vir ’n rukkie enige aktiewe bestanddele op die area. Wend aloe vera of selfs heuning aan om die irritasie te verminder.

Onthou, selfs natuurlike produkte kan ’n sensitiewe of allergiese reaksie veroorsaak.

Kyk ook: [VIDEO] Sensitiewe en allergiese veltoestande

Karien Henrico, somatoloog
Kliek hier vir meer videos en artikels deur Karien.