Oorstimulasie kan jou kind stout maak

0
75
Hettie Brittz

As jou kind begin skop, skree en slaan ná ’n lang en besige dag is hy waarskynlik nie bloot stout of ongeskik nie. Miskien is alles net te hard. Te naby. Te vinnig. Te veel…

Ouerskapkenner: Hettie Brittz

lyn_3.png

GRATIS

Laai jou gratis Carpe Diem e-boek hier af. 365 wyshede uit die pen van Hettie Brittz. Aanbod geldig tot 30 April 2016.
Gebruik die afslagkode VG_APRIL wanneer jy die produk in jou mandjie sit.

lyn_3.png

As jou kind begin skop, skree en slaan ná ’n lang en besige dag is hy waarskynlik nie bloot stout of ongeskik nie. Miskien is alles net te hard. Te naby. Te vinnig. Te veel…

Dink daaraan, op enige gegewe oomblik kan ’n kind ’n hele paar dinge voel, ruik, hoor en sien (soms proe ook!). Waar ek nou voor die rekenaar sit, voel ek die sleutelbord, die kussing agter my rug, hoor ek die reën buite drup en die bure se blaffende hond. Ek hoor ook die klik-klik van die sleutelbord. Ek sien my bewegende hande en die lettertjies op die skerm. Ek het nog vaagweg die smaak van koffie in my mond en ek ruik nartjieskille.

Stel jou voor ek fokus op al hierdie dinge tegelyk! Dit is wat gebeur met kinders wat nie al die impulse van buite soos dit wat hulle hoor, ruik, sien en proe, reg kan hanteer nie. Sensoriese integrasie beteken om die minder belangrike impulse te ignoreer en op die res te fokus.

Leer jou kind om slim te wees met sy sintuie

Ons elkeen beleef ons omgewing op ’n baie unieke manier. Wat een persoon oorweldig, is vir iemand anders te stil. Wat een uitput, herlaai ’n ander. Wanneer jy weet waarom ’n situasie spanning op jou stelsel plaas, en jy weet hoe om jouself te kalmeer of by die omgewing aan te pas, is jy sensories intelligent.

Sensories-soekende kinders is honger vir input. Hulle wil voel, hoor, sien, ruik en proe. Hulle stamp en trek, vroetel en peuter en kom voor as effens hiperaktief of selfs boelierig. Hulle suig aan hulle klere, voorwerpe of vingers om daardie konstante behoefte aan sensasie te bevredig.

Daar is gesinne wat gelukkig deur die lewe draf. Lees hier wat maak hulle anders.

Tas-afwerende kinders hou nie van skielike aanraking nie en raak opgewerk oor sagte aanraking soos kielie, vryf of klere wat krap. Hulle trek skoene en kouse uit, wil nie langmouklere dra nie, vee Mamma se soene af en kan selfs sekere kossies nie eet nie omdat die tekstuur hulle laat gril.

Vind uit watter dinge in die omgewing jou kind oorstimuleer

Sensoriese oorbelading lei dikwels tot woedeuitbarstings en emosionele ineenstortings. Al die dag se gebeure, soos die wind, lig, lawaai, opwinding, veranderings in roetine, hoop op. Op ’n stadium (gewoonlik wanneer Mamma sê dit is huiswerktyd of wanneer ’n maatjie hom stamp) kook die pot oor.

Ons kan leer om die tekens te lees as ons ons kind se sensoriese profiel ken, en dan sensoriese afwenteling gebruik. Een van my kinders moes altyd ná so ’n besige dag vol aktiwiteite alleen in ’n halfdonker vertrek met ’n stywe kombers om hom gaan “afkoel”. As iemand hom na ’n uitbarsting probeer troos het, het die aanraking of troostende “piepstem” en gekarring dinge net vererger.

Die rede daaragter was dat sy sensoriese sisteem so oorreageer het dat hy die situasie as veg-of-vlug geïnterpreteer het. Stamp, skop en skree was sy vegreaksies.

As jy weet jou kind raak maklik oorgestimuleer, leer hom om sekere situasies eerder te vermy. Bly weg van vol hysbakke, radio’s of TV’s wat te hard is en te helder ligte. As jou kind wel in so ’n situasie is, leer hom om diep asem te haal. Om iets te kou of ’n suigstokkie te suig het ook ’n kalmerende effek.

’n Wakker maar rustige sensoriese sisteem bevorder gesonde ontwikkeling

Om sin te maak uit alles wat jy waarneem en die gepaste reaksie daarop te toon, vorm die basis van gesonde emosionele ontwikkeling. Jou kind kan net effektief leer en inneem as sy sensoriese sisteem wakker maar rustig (in balans) is. As ons dus nie onder begin en die fondament van ons kind se sintuie en die stimuli van buite herstel nie, kan akademiese ontwikkeling baie moeilik op skedule plaasvind.

Agterstande kan gelukkig baie effektief met arbeidsterapie of deur opvoedkundige sielkundiges, spraakterapeute en oudioloë ingehaal word. Daar is ook wonderlike boeke en gratis toetsprofiele aanlyn beskikbaar. Die beste uitweg as jy na die lees van hierdie artikel rooi liggies by jou kind sien flikker, is om ’n afspraak by ’n arbeidsterapeut te maak wat in sensoriese integrasieterapie (S.I.) spesialiseer.

lyn_3.png

KOOP AANLYN

Koop vandag Hettie se “Kweek kinders met karakter” vir slegs R100.

 

lyn_3.png