Op 64 die lyf van ’n 20-jarige

0
12
edith_venter.jpg

’n Slanke, gesonde liggaam is meer as net goeie gene. Edith Venter onthul haar gesondheidsgeheime.

Op 64 het die sakevrou en mediapersoonlikheid Edith Venter ’n lyf wat talle vroue in hulle twintigs haar beny. Sy skryf haar slanke figuur aan haar gene toe: “Ek glo egter ’n mens kan nie net daarop staatmaak nie.” Wanneer dit by drankies en aanvullings kom, let sy op wat sy drink.

Groentee is my geheime wapen

Ek drink glad nie koffie of gewone tee nie, ek verkies groentee. Dit smaak net meer natuurlik vir my. Ek het dit 33 jaar gelede begin drink toe ek swanger was met my oudste seun. Die smaak was vir my net meer “skoon”. Groentee help ook om my gewig te beheer en my slank te hou. Vandag kan ek tot 15 koppies op ’n dag wegslaan. Ek is verslaaf!

Matigheid voor oë met alkoholiese drankies

Ek drink nie baie alkoholiese drankies nie, maar ’n glas Franse sjampanje of enkelmoutwhisky op sy tyd is heerlik. Ek sal ’n glasie daarvan by ’n geselligheid geniet. Daarby sit ek nie my mond aan wyn, bier of likeur nie. Ek hou ook nie van gaskoeldrank nie en sal nooit suikerbelaaide drankies soos Coke drink nie. As ek dors is, drink ek water.

Drink suurstofaanvullings vir meer energie

Ek drink getrou my aanvullings. Iets wat ek vir enigiemand sal aanbeveel, is Cellfood. Dit het wonders gedoen vir my energie. Dit is ’n aanvulling wat suurstof bevat. Ek glo as jy vir jou lyf suurstof in enige vorm gee, dit net voordelig kan wees. Dit help ook om my lyf te ontgif. Ek sal ook ouer vroue aanraai om ’n kalsiumaanvulling te drink om hulle bene sterk en gesond te hou.

Ek begin my dag met ’n gesonde ontbyt

Vir onbyt eet ek gewoonlik vrugteslaai wat bestaan uit vier verskillende tipes vrugte binne seisoen. Ek sprinkel dan sonneblom- en sesamsade oor. Ek eet ook ontbytpap wat ekstra vesel bevat. En moenie die koppie groentee vergeet nie! Ek probeer om ook drie keer ’n week vir ten minste 45 minute hard te oefen en het ’n privaat instrukteur wat my help. Ons oefen op ’n Power Plate-masjien. Die masjien dwing jou lyf van balans af, wat jou spiere harder laat werk en so meer energie laat verbrand.